Al stoeiende stilgemaak: Die dissiplinering van Afrikaner-feministe
Christi van der Westhuizen is ’n feministiese skrywer en akademikus. Hier skryf sy oor die komplekse geskiedenis van feminisme in wit Afrikanernasionalisme en kultuur. Sy verskaf ook ’n leeslys.
Afrikanervroue was ’n eeu gelede aktiviste. Hulle het die eerste Afrikaner-organisasies—’n groot klomp—ná die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902) gestig. Hulle was vakbondleiers. Hulle was politieke leiers. Daar was selfs straatoptogte deur Afrikanervroue—so vroeg soos 1915. Die eerste vroulike dokter in Suid-Afrika was ’n Afrikaner, en so ook die eerste vroulike advokaat.
Hierdie ontdekkings maak ek eers gedurende die navorsing vir my boek, Sitting Pretty: White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa. Ek was uit die veld geslaan. Teen daardie tyd skryf ek toe al vir ’n paar dekades as feminis en politieke ontleder.
Die weergawe van Afrikaner-geskiedenis waaraan ek vanaf skooldae blootgestel is, was uit en uit ’n manlike geskiedenis. Onverrassend in die oorwegend wit Afrikaanse omgewing waarin ek gedurende die 1970s en 1980s grootgeword het, was my hoërskool in Boksburg vernoem na ’n Nasionale Party-politikus, Ernst G. Jansen.
Skielik ontdek ek dat Mabel M. Jansen, sy wederhelf, ’n meer geagte politieke leier as haar man was. Maar my hoërskool het Ernst se naam gehad, want hy het die prominente poste ontvang: eers as H.F. Verwoerd se voorganger as minister in die gewraakte portefeulje van naturellesake, en later as goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika.
Die volgende ironie het geblyk: Afrikanervroue was meer polities aktief, met ’n groter openbare teenwoordigheid, in die eerste as in die tweede helfte van die 20ste eeu. Die tawwe volksmoeders van die 1910s tot 1940s is opgevolg deur die toenemend ornamentele volkspoppies van die 1950s tot 1990s. Hierdie was die breë politiek-kulturele tendens, soos apartheid teen die 60s die Afrikaners vanaf armoede en werkersklasstatus na oorwegend middelklasstatus opgehef het.
My ontdekking van die ywerige, veglustige Afrikanervroue het gemengde gevoelens teweeggebring. Want, soos Bibi Burger en Azille Coetzee skryf, dit is ’n “beskamende” geskiedenis van vroue wat “in diens van Afrikanernasionalisme” gemobiliseer het. Afrikanernasionalisme staan sentraal tot koloniale opperheerskappy en apartheid as hernieude vorm van kolonialisme ná 1948. Dis die hooffokus van Sitting Pretty en my eerste boek, White Power & the Rise and Fall of the National Party.
Wat dan gemaak met ’n beskamende geskiedenis soos dié? Die antwoord op die vraag is veelvlakkig, en te vinde in die redes waarom hierdie vroue vandag grootliks onbekend is. Want hulle is nie in die eerste plek onbekend omdat daardie geskiedenis beskamend is nie.
Nasionalismes, insluitend, Afrikanernasionalisme, perk vroue altyd in. Die inperking steun op die patriargale idee van “biologie bepaal jou lot”. Omdat vroue letterlik die volk voortbring, is beheer oor hul liggame noodsaaklik vir die nasionalistiese instandhouding van die nasie. Hierdie beheer word grootliks uitgeoefen deur vroulikheid aan moederskap gelyk te stel.
Met ander woorde, ’n ware vrou is opsluit ’n ma. Hierdie moederskap is ook altyd in verhouding tot ’n man. Verpligte heteroseksualiteit is dus aan die orde van die dag.
In Afrikaans verwys dieselfde woord, “vrou”, na beide iemand van die vroulike geslag en na ’n vroulike wederhelf in ’n huwelik. Vandaar moet dit ’n klein treetjie na moederskap wees, of jy word as ’n mislukte vrou beskou. Die identiteit wat gevolglik geskep word, behels ’n geslagsverpligting wat ek in Sitting Pretty in Engels as “woman/wife-as-mother” beskryf.
Die nasionalistiese figuur van die volksmoeder is hier onontbeerlik. Sy is dien as kragtige simbool waarmee die samevoeging van vrou-en-moeder as die ideale en noodwendige weergawe van vroulike menswees gelegitimeer word. Die volksmoeder-fantasie oorskadu en verdoesel die werklike verskeidenheid wat tussen vlees-en-bloed-vroue bestaan. Die volksmoeder help om die bestaande verskeidenheid in vroue-geledere te neutraliseer wat die patriargale volk uitdaag, soos Zillah Eisenstein uitwys.
Deel van die krag van die volksmoeder is dat sy die suiwerheid van die nasie simboliseer. Met die volksmoeder word vroue ideologies gemanipuleer om hul bestaansrede te verstaan as die beliggaming van die volk se tradisies en sedes. Vir ’n rasse-nasionalisme soos Afrikanernasionalisme gaan dit hier oor verbeelde rassuiwerheid. Die kuisheid van vroue word dus van opperbelang, soos deur beide vroue en mans gepolisieër.
Die volksmoeder dra dus by tot ’n eenvormige idee van Afrikanervroulikheid, en dus van Afrikaneridentiteit as sulks. Nasionalistiese simboliek dra normatiewe idees oor om mense te werf en hulle in subjekte te verander, in dié geval om te konformeer tot idees van wat dit behels om ’n Afrikaner te wees. Die doelwit was om ’n etniese onderskeid met wit Engelssprekendes, enersyds, en ’n rasse-onderskeid met swart mense, andersyds, te tref en só vir “Afrikaners” deelname in die mag en bevoorregting van witwees uit te kerf.
Dominante magte probeer homogeniteit in identiteit skep, en stel identiteit ook voor as stabiel en eenvormig. In werklikheid is elke identiteit, insluitend Afrikaneridentiteit, onderworpe aan intense en voortdurende mededinging. My werk oor die laaste drie dekades gaan in groot mate daaroor om die idee van Afrikaner-eendersheid te bevraagteken—om die andersdenkendheid teenoor die nasionalistiese opdrag van eendersdenkendheid en eenvormigheid uit te wys.
Dit is deel van my antwoord op die beskamende geskiedenis: dit is vandag belangrik om die andersdenkendes en afvalliges te vind wat histories bestaan het, om eerstens die historiese verskeidenheid en verskillendheid te wys, ook in Afrikanergeledere. In die eerste helfte van die 20ste eeu, in die pas saamgeflanste nuwe staat Suid-Afrika, het ’n intense stryd gewoed om een weergawe van Afrikanernasionalisme bo ’n ander te vestig. Terselfdertyd is geveg om die mededingende ideologieë soos Suid-Afrikanisme, liberalisme, feminisme, Afrika-nasionalisme en sosialisme die loef af te steek. Die Hertzog- en later Malan-hoofstrominge van Afrikanernasionalisme het oor dekades heen gestoei om die identiteit te “suiwer”, in só ’n mate dat die Malaniete hul wegbreekparty in die 1930s die “Gesuiwerde Nasionale Party” genoem het.
Die idee van suiwering was op die oog af polities, om die Malaniete van die Hertzogiete te onderskei. Maar uiteraard het dit, in die era van die valse wetenskap van eugenetika, ook oor ras gegaan. En dit was oor die “korrekte” manier van Afrikaner-wees. Dit kulmineer in apartheid, wat nie net swart mense nie, maar ook wit mense en spesifiek die Afrikaners vir ’n aantal dekades suksesvol in identiteitshokke geplaas het.
Die suiwering is ooglopend in terme van ras, maar nie net rasselyne is getrek nie: die interne anderes in verhouding tot geslag en seksualiteit is oor gestoei en uiteindelik in sekere posisies vasgevang. Die stryd oor die inhoud van die kategorie van volksmoeder wys die intense geslagstryd wat in die vorming van Afrikanernasionalisme gewoed het.
Belangrike werk is deur feministiese historici en politieke wetenskaplikes gedoen oor die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV), die Nasionale Vrouepartye (die vroue het in vier provinsiale partye apart van die sogenaamde “Manneparty” georganiseer), die Klerewerkersunie, en die Boervrou-tydskrif, onder meer. Hierdie aktiwiteit en aktivisme het ’n vorm van eerste-golf-feminisme van stapel gestuur. Die middelklas-weergawe was opheffingsfeminisme.
Die feministiese studies het die beskamende aspek—die verontmenslikende ras-, klas- en geslagsdimensies—oopgevlek. Maar dit is ook belangrik om op te merk dat die stoere volksmoeders gepoog het om minstens Afrikanervroue se toegang tot selfaktualisering te vergroot deur die openbare ruimte aan hulle beskikbaar te stel.
Dit is vergete—vergeetwaardig—gemaak: Die vroue is destyds geneutraliseer met die nasionalistiese opdrag dat vroue slegs vir sosiale en biologiese reproduksie geskik is.
Die idee dat die vroue vanself die knie gebuig het ter wille van die volk word nie gesubstansieer deur hul visie van hulself nie. Byvoorbeeld, Mabel “Kenne” Malherbe het by die Transvaalse Nasionale Vroueparty (NVP) se kongres in 1930 ná die toekenning van stemreg aan wit vroue gesê:
“Die tyd het aangebreek dat ons ons sonder versuim bekwaam vir die nuwe verantwoordelikheid wat waarskynlik op ons gelê sal word. Gesondheidstoestande, huisvesting en opvoeding lê baie na aan ’n vrou se hart. Die opvoeding van ons toekomstige moeders—dit moet tog in ons hande lê. […] [S]al die vrou wat haar verstand so ver ontwikkel het, terugdeins vir die groter huishouding van die staat? Sal sy dan hier ook nie haar verkrege wysheid, haar ervaring, haar lewendige belang in die welvaart van haar gesin, haar volk en die mensheid laat geld nie? Waar vader en moeder saam met kennis die juiste leiding van hul huislike sake behartig, kan hulle net so goed saam die landsake bespreek, sodat hulle saam hul stem kan uitbring vir die welvaart van die hele volk. Die twee grootste redes waarom ons die reg wil hê om te stem is (1) om die lewe van ons kinders veilig en gelukkig te maak (2) omdat ons reken dat vroue daardeur hul ewewig sal terugkry. Deur die stemreg word die vrou gedwing om ’n verstandige en meer doeltreffende deel te neem aan die lewe: sy moet saam met die man aan die vooruitgang van die wêreld arbei.”
Maar teen die 50s moes Enid C. van der Lingen skryf:
“Sal die mans van die NP die vrou op haar beurt help om dit tot stand te bring, haar in staat stel om op haar eie selfstandige manier haar deel by te dra tot die opbou van ’n volk, of moet dit altyd haar rol wees om alleenlik ’n skaduwee te wees?”
Die Afrikanernasionalistiese mans van die NP het die vroue “jaloers en brutaal enige vorm van politieke mag ontken”, soos Anne McClintock dit stel. Die mans het die toestaan van stemreg gebruik as rede waarom die NVP’s met die manlike NP saamgevoeg moes word. Stemreg aan wit vroue het ’n rasse-doelwit gehad: om die wit stem te versterk, wat verklaar waarom dit in vergelyking met ander lande relatief vroeg toegestaan is.
Die ander rede blyk die uitskakeling van die vroue as politieke spelers te wees. Wit vroue se burgerskap was afhanklik van of hulle van nut vir die wit manlik-oorheersde orde kon wees. Dié terme van hierdie “nut” blyk uit die volgende: NVP’s het hulself as uiters bekwaam met organisering bewys, met 200 aktiewe takke en verskeie geslaagde fondsinsamelingsaksies. Ná die samesmelting het hulle toenemend dié funksie vir die mans verrig, maar agter die skerms en sonder politieke poste.
In plaas daarvan dat die stemreg die openbare ruimte vir Afrikanervroue oopgemaak het, het Malherbe se woorde op dorre aarde geval. Sy is tot lid van die provinsiale raad verkies in Transvaal, en tussen 1933 en 1938 was sy Volksraadslid, die laaste vroulike NP-LV vir etlike dekades daarna. Mabel M. Jansen, Ernst se vrou, is tot NP-onderleier in Natal verkies ná die samesmelting. In die 30s en 40s het enkele vroue as NP-kandidate in verkiesings gestaan. ’n Paar vroue het in die Senaat gedien. Maar daar was nie ’n volgende generasie van vroulike NP-verteenwoordigers nie.
Louise Vincent argumenteer oortuigend dat die samevoeging van die NVP’s met die “manlike NP” die oomblik was waarin die volksmoeder-model teen Afrikanervroue gebruik is. Dit was ’n “tweesnydende swaard” omdat dit sosiale rolle en toegang tot politieke mag afhanklik van gewaande grondliggende biologiese eienskappe gemaak het. Die volksmoeder is dus gebruik om die vroue te laat verstaan dat hulle die knie voor manlike gesag moet buig en na die huis moet terugkeer.
Teen die 1970s, toe die tweede golf van feminisme in die Globale Noorde gewoed het, was die verre meerderheid Afrikanervroue vasgevang in die rol van “wagters in die binnekamer” wat “luister” (nie praat nie) en by hul mans staan, soos ’n destydse kabinetminister, Nico Diederichs, die “korrekte” Afrikanervrou beskryf het.
Om dié geskiedenis te onthou, is belangrik, want dit ontbloot die werklik bestaande verskeidenheid wat histories in Afrikaner-geledere bestaan het. Totius het ’n suster gehad: Marié du Toit, skrywer van die eerste feministiese boek in Afrikaans, Vrou en Feminist, of Iets oor die Vrouevraagstuk, wat reeds in 1921 verskyn het.
Teenoor die hoofstroom-vroue van die NVP’s was daar die Klerewerkersunie se Hester and Johanna Cornelius, Anna Scheepers, Katie Viljoen, Anna Jacobs en Dulcie Hartwell. Hulle het hulself as sosialistiese volksmoeders gesien, en die Afrikaner-werkersklasvroue gelei wat die NP en by name M.E. Rothman hoofbrekens besorg het. Vakbondleier Bettie du Toit is nog ’n belangrike figuur.
En dan, natuurlik, Petronella “Nell” van Heerden. Met die eerste oogopslag is dit verstommend dat sy ’n grootliks vergete figuur is. As sy nie vroulik gebore is nie, sou sy as ‘n Renaissance-man geëer gewees het. Behalwe haar beroep as medikus (sy is beide die eerste vroulike dokter en vroulike ginekoloog in Suid-Afrika) en skrywer van die eerste doktorale verhandeling in Medisyne in Afrikaans, aan die Universiteit van Amsterdam, was sy ook ’n politieke kampvegter en leiersfiguur, amateur-argeoloog in die Midde-Ooste en Suider-Afrika, dokter in die weermag gedurende die Tweede Wêreldoorlog, veeboer, outobiograaf en genealoog.
Ideologies, so onwaarskynlik soos dit mag klink, het Nell tussen Afrikanernasionalisme, feminisme en sosialisme beweeg. Sy was een van daardie vroue wat ’n NP-leiersposisie ná die samesmelting gekry het. Haar sterk standpunt teen anti-Semitisme lei tot haar bedanking ná ’n argument met D.F. Malan oor die NP se Nazi-neigings. Nell het haarself daarna openbaar teen rassisme en die manipulering van witwees ter wille van kapitalistiese klasuitbuiting uitgespreek.
Sy het openlik as ’n lesbiër gelewe, met wat vandag as ’n “nie-konformerende gender-identiteit” bestempel sou word. Van Heerden se gelukkigste jare, soos sy self geskryf het, was dié met Gladys Steyn, dogter van die laaste president van die Boererepubliek van die Oranje Vrystaat, Marthinus Steyn, en sy vrou, die vooraanstaande volksmoeder Rachel Isabella “Tibbie” Steyn. Hoewel hul verhouding uiteindelik oënskynlik onder druk van die Steyn-familie geswig het, het Nell wel vir Gladys geïnspireer om Regte te studeer en die land se eerste vroulike advokaat te word.
Naas die wit werkersklasvroue was Nell die ander bron van konsternasie vir Rothman, wat as die joernalis en skrywer “M.E.R.” waarskynlik die invloedrykste vroulike Afrikanernasionalis van die 20ste eeu was. Hoewel M.E.R. deur sommige as feminis voorgehou word, moet haar feminisme as die volksmoeder-tipe van die NVP’s gekwalifiseer word.
Nell se politieke, seksuele en geslagskomplisering van Afrikaneridentiteit is die rede waarom sy vergeetwaardig gemaak is. Maar sy is nie altyd vergeet nie.
Elders skryf ek hoe bruikbaar sy vir Afrikanernasionalisme in die 1920s met die vrouestemreg-kwessie was, en dan weer in die 1960s as ’n figuur wat die modernisering van Afrikaneridentiteit gedemonstreer het. Alba Bouwer het in die 60s ’n artikelreeks oor Nell in die vrouetydskrif Sarie gepubliseer en Rykie van Reenen het Nell met twee outobiografieë gehelp.
M.E.R. het hierdie herwinning van Nell deur die twee jonger Afrikanernasionalistiese joernaliste probeer keer. Onder meer het haar dogter Anna in ’n brief aan Van Reenen geskryf: “Janee Rykie bly jy maar eerder uit daardie harem van hel. Sy sal jou te graag inpalm.”
In die vroeë 1990s is Nell weer uitgegrawe as teken van die kwansuise “inklusiwiteit” van Afrikanernasionalisme op ’n tydstip toe die NP die net wyer moes gooi om meer diverse ondersteuners in die oorgang na demokrasie te werf.
My navorsing oor Van Heerden wys hoe noodsaaklik die randfigure is vir ’n ideologie soos Afrikanernasionalisme om hegemonies te wees. Die mite van eendersdenkenheid en eenvormigheid bedek intense slag en stoot.
Ek glo vas “die Afrikaner” kan gedemokratiseer word, en die historiese bestaan van afvalliges bevestig dit. Herinnering aan die afvalliges dien as teenvoeter teen die druk van ’n enkele normatiewe, anti-demokratiese weergawe van die Afrikaner. Ons moet daardie figure vind en belig wat as demokratiese modelle vir die huidige oomblik kan dien.
Dit is veral nóú belangrik. Ons demokrasie is tans in uiterse gevaar weens soortgelyke Afrika-nasionalistiese druk tot konformering tot ’n spesifieke eenduidige identiteit vir mense wat as swart gerassifiseer word. Laat ons nie die knie buig nie.
Geïnteresseerd? Gaan lees verder:
Charl Blignaut - Untold History with a Historiography: A Review of Scholarship on Afrikaner Women in South African History
Elsabé Brink - Man-made Women: Gender, Class and the Ideology of the Volksmoeder
Marijke Du Toit - The Domesticity of Afrikaner Nationalism: Volksmoeders and the ACVV, 1904–1929
Jonathan Hyslop - White Working-class Women and the Invention of Apartheid: Purified Afrikaner Nationalist Agitation for Legislation against Mixed Marriages, 1934–1939
Lou-Marie Kruger - Gender, Community and Identity: Women and Afrikaner Nationalism in the Volksmoeder Discourse of Die Boerevrou, 1919–31
Anne McClintock - Family Feuds: Gender, Nationalism and the Family
Christi van der Westhuizen - Lesbian dis/appearances: Epistemic violence against internal dissidents in the formation of Afrikaner identity
Christi van der Westhuizen - “I am berated as a Communist because I sometimes wear a red tie”: Not forgetting the Awkward Afrikaner Dr Petronella ‘Nell’ van Heerden
Christi van der Westhuizen - (Un)sung Heroines: The Rise and Fall and Rise of the Afrikaner Nationalist Volksmoeder in South Africa
Christi van der Westhuizen - Sitting Pretty: White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa
Louise Vincent - Bread and Honour: White Working Class Women and Afrikaner Nationalism in the 1930s
Louise Vincent - The Power Behind the Scenes: The Afrikaner Nationalist Women’s Parties, 1915 to 1931
Tiffany Willoughby-Herard - “I'll Give You Something to Cry About”: The Intraracial Violence of Uplift Feminism in the Carnegie Poor White Study Volume, The Mother and Daughter of the Poor Family