Wie is ons en wat is Turksvy?

Ons, Azille Coetzee en Bibi Burger, is twee jong Afrikaanssprekende en -skrywende feministe  en Turksvy is ’n feministiese nuusbrief wat elke tweede week in jou inbox land.

Toe ons tien jaar terug ernstig begin dink het oor feminisme, was dit iets waarvan meeste mense wat ons geken het, niks wou weet nie. Vandag is dit anders, feminisme is uiteindelik in die mode en volledig teenwoordig in die hoofstroom populêre kultuur, ook in Suid-Afrika en selfs, tot ’n mate, in Afrikaans.

Maar – hoor ons gereeld –  wat ís feminisme? En dit is ’n vraag wat verbasend moeilik is om te beantwoord in ons taal- en kultuurruimte. In Afrikaans het ons nie ’n lang geskiedenis van opgeskrewe en georganiseerde feministiese aktivisme nie, en die geskiedenis wat daar is, is beskamend – wit vroue wat mobiliseer in diens van Afrikaner nasionalisme. Hoe lyk genderbevryding, hier, vandag? Hoe sê ’n mens intersectional in Afrikaans?

Ons nader van die slimste en talentvolste Afrikaanssprekende mense (jou gunsteling skrywers, denkers en kunstenaars) om in Turksvy te dink en te skryf oor hierdie vrae.

Turksvy neem die vorm van ’n briefwisseling aan omdat ’n brief enigiets kan wees –gedigte, comics, stories, opstelle, dagboeke, foto’s, onderhoude en resepte – en omdat dit ’n voortgaande gesprek oopmaak, omdat dit persoonlik is, omdat daar ’n lang tradisie bestaan van briewe skryf tussen vroue.

Turksvy word befonds deur die LW Hiemstra Trust, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Taalraad.

Subscribe to Turksvy

'n Feministiese brief in Afrikaans

People

'n Feministiese brief in Afrikaans. Geredigeer deur Bibi Burger en Azille Coetzee. Kuns deur Octavia Roodt. Finansiële steun deur die Taalraad en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Afrikaanse letterkundige, dosent by die Universiteit van Kaapstad.
Feminis en skrywer