Vier perspektiewe op aborsie
Daar is heelwat dinge waaroor ons nie eintlik praat in Afrikaans nie, maar daar is min onderwerpe só taboe soos aborsie. Toe Roe v Wade aan die begin van Julie omgekeer is in Amerika, het ons (Azille en Bibi) besef dat ons geen idee het wie van ons vriendinne en familielede al aborsies gehad het nie—dis iets waaroor daar gewoon net nie gepraat word in ons taal en kultuur nie. Tog is dit iets wat deurslaggewend is vir geslagsgelykheid in enige samelewing: as vroue ontneem word van die reg om te besluit of hulle geboorte gaan gee of nie, ontneem ons hulle nie net van basiese beheer oor hul eie liggame nie, maar ook van beheer oor hul toekoms. As vroue nie kan besluit wanneer, saam met wie, en onder watter omstandighede hulle kinders kry nie, ontsê ons een helfte van die samelewing die reg om te bepaal watter soort lewens hulle wil lei en saam met wie hulle dit wil doen.
Hierdie uitgawe van Turksvy is daarop gerig om te begin om ’n gesprek oop te maak, in Afrikaans, oor die moeilike onderwerp van aborsie. Ons het ’n paar vroue byeengebring wat skryf vanuit verskillende perspektiewe:
1. Professor Amanda Gouws gee ’n kort politiese/teoretiese/geskiedkundige uiteensetting van die kwessie
2. Ronelda S. Kamfer deel ’n essay oor die tyd wat sy as verpleër gewerk het
3. Turksvyleser Maud dink na oor haar persoonlike ervaring van aborsie
4. Petra Stegmann (’n maatskaplike werker in die Kaapse platteland) vertel van die werklike behoefte aan veilige aborsie wat sy rondom haar sien, en hoe sy haar geloofsoortuigings versoen met haar sosiale-geregtigheidsbewussyn
Die kunswerke is deur Willemien De Villiers.
“Women you are on your own and big brother is watching you!”
Amanda Gouws
Aborsie is kontroversieel en enige gesprek daaroor kan baie vinnig verander in konflik wat gemoedere hoog laat loop. Die haatpos van mans wat ek die afgelope paar weke oor my pro-keuse standpunt in die media gekry het, getuig van woede/angs rondom aborsie, maar dit getuig ook van mans se aanspraak om besluite oor vroue se liggame te neem. Redes vir die kontroversiële aard van die gesprek kan teruggevoer word na geloofsoortuigings, morele standpunte en perspektiewe op regte. Maar ten einde laaste gaan dit oor die beheer van vroue se seksualiteit en voortplanting.
In 1973 het die Amerikaanse Hooggeregshof in die hofsaak Roe v Wade aborsie in die VSA gewettig op grond van, onder andere, die argument dat die fetus nie die status van ’n persoon het nie en dus nie deur die Amerikaanse grondwet beskerm word nie. Dit was ’n deurslaggewende uitspraak vir feministe van die tweede golf, wat bekend geword het as radikale feminisme, en wat geëis het dat vroue beheer oor hul eie liggame moet hê. Hierdie feministiese argumente het bekend geword as ‘pro-keuse’ (nie ‘pro-aborsie’ nie). Dit gaan oor die aanspraak dat elke vrou self moet kan besluit oor haar eie voortplanting.
Dit het egter nie beteken dat aborsie op aanvraag beskikbaar sou wees nie. Omdat die VSA ’n federale stelsel is kon deelstate hul eie wetgewing maak oor hoe aborsies toegepas moes word. Die meer konserwatiewe state het dit amper onmoontlik gemaak vir vroue om aborsies te bekom, deur te wette te maak wat veroorsaak dat aborsies slegs in die eerste trimester (eerste drie maande) uitgevoer kan word, voordat baie vroue eers besef hulle is swanger. Ander het beperkings op klinieke geplaas, soos die bepaling van die grootte van vloerspasie, wat die kostes vir klinieke baie hoog gemaak het. Nietemin kon vroue reis na plekke waar aborsies beskikbaar was.
Die teenkanting van pro-lewe groepe, wat pro-keuse afmaak as pro-aborsie of pro-moord, gaan van die standpunt uit dat lewe met bevrugting begin en dat die fetus van daardie oomblik af die status van ’n persoon (“personhood”) en “fetale burgerskap” het. Aborsie in enige trimester word dus gelyk gestel aan moord op die fetus. Die ontwikkeling van tegnologie soos sonarbeelde het die argumente van hierdie groeperinge versterk omdat fetale beelde gelyk gestel word aan ’n volledige mens. Sonarbeelde word dus ook dikwels gebruik om vroue wat aborsies benodig, af te skrik. Pro-lewe groepe gebruik geloof om die morele argument oor lewe/dood te maak en aborsie word getipeer as ’n sonde. In baie lande waar die Katolieke Kerk dominant is, is geen aborsies moontlik nie.
Die argumente van pro-lewe ondersteuners kan teruggevoer word na ’n tipe biologiese determinisme (“biology is destiny”) waar vroue die instrumente van hul biologie is, en hulle funksie bloot is om kinders te baar. Dit is biologiese reduksionisme. Dit plaas vroue terug in die rol van moeders en versorgers waar die biologiese aan sosiale rolle gekoppel word. Pro-lewe groepe stel nie werklik belang in lewe ná geboorte en wie verantwoordelik vir die versorging en grootmaak van kinders is nie. Dit poog om ’n godsdienstige hegemonie daar te stel, wat alle gedrag wat hierdie hegemonie oortree, sanksioneer. Die groeperinge is ook diep polities en bevorder die polarisasie rondom voortplanting soos ons nou sien in die VSA, nadat die VSA se hooggeregshof die Roe v Wade-uitspraak in 2022 omgekeer het met die Dobbs-uitspraak.
Waar argumente gemaak word op grond van regte word die regte van die swanger vrou opgeweeg teen die regte van ’n ongebore fetus. Die pro-keuse feministiese argument is dat vroue beheer oor hul seksualiteit en voortplanting moet hê, waarsonder dit nie moontlik is vir vroue om outonome agente te wees nie en waarsonder geslagsgelykheid nie moontlik is nie. Feministiese moraliteit rondom aborsie maak nie argumente oor wanneer lewe begin en of die fetus ’n persoon is nie, maar vra vir die erkenning van die konteks en die sosiale verhoudings waarbinne vroue ’n aborsie aanvra. Vroue se besluite oor aborsie gebeur nie in ’n vakuum nie, maar word geneem met verwysing na die verhoudings waarin vroue hulself bevind—met hul lewensmaats, hul ander kinders, die vermoë om nog ’n kind te onderhou en hoe hul eie vermoëns om te werk deur die geboorte van ’n kind geraak word. Hierdie besluit word geneem met inagneming van materiële kondisies en vir meeste vroue is dit nooit ’n maklike besluit nie.
Die instellings soos die wetgewers waar wette oor voortplanting gemaak word of howe waar daar oor aborsie beslis word, word almal deur mans gedomineer, wat beteken vroue is uitgelewer aan besluite wat deur ’n meerderheid mans geneem word. Oor eeue heen is vroue se voortplanting deur mans in die politieke konteks beheer; of deur mans in kerke, soos die Katolieke Kerk, waar ou mans in rokke wat nog nooit seks met vroue gehad het nie oor vroue se voortplanting besluit en toegang tot aborsie beperk.
Vroue help mekaar al vir eeue lank met voortplantingsbesluite. Dit is waarom vroedvroue wat sekere vaardighede het, belangrik is. Hulle weet hoe om aborsies uit te voer. Maar dit dryf vroue tot onwettige/kriminele gedrag. In die VSA is feministe reeds besig om te mobiliseer. Danksy die internet is dit makliker vir vroue om mekaar te help. Daar is groepe wat koeëlvaste minibusse laat toerus met sonar en die nodige toerusting om aborsies uit te voer. Hul mobiliteit maak dit moeiliker vir wetstoepassers om hulle op te spoor.
Aangesien pille wat aborsie veroorsaak aanlyn te koop is, word pro-keuse vroue opgelei oor hoe om dit te gebruik en dan vroue wat ’n aborsie benodig te help. Die aborsiepil moet vir 30 minute aan die kant van die mond gehou word en mag nie gesluk of gekou word nie. Vroue word met M&M’s (die Amerikaanse ekwivalent van Smarties) geleer hoe om dit te doen.
Wanneer toegang tot aborsie beperk word of onmoontlik gemaak word, raak dit gemarginaliseerde groepe soos arm vroue wat nie toegang tot geboortebeperking het nie die ergste, en verminder dit hul reeds beperkte lewensmoontlikhede. Meeste onwettige aborsies vind plaas in plekke waar vroue se gesondheid en oorlewing bedreig word. Studies in die VSA het gewys dat by vroue in dieselfde demografiese groeperinge wat swanger raak, diegene wat aborsies gekry het se lewenskanse verbeter het, terwyl die wat nie aborsies kon kry nie, maar wou gehad het, se lewenskanse verswak het (sien The Atlantic, Mei 2022).
Aborsie in die VSA is ’n politieke speelbal wat hoogs polariserend is. Die vraag is waarom regse politici dit so belangrik vind om vroue se seksualiteit en voortplanting te beheer in ’n wêreld wat reeds oorbevolk is. Dit is ’n terugstoot teen die regte wat vroue verkry het, maar ook ’n manier om kritiek te lewer op wat gesien word as ’n bandeloosheid en onkuisheid rondom seksualiteit, wat nou ook die aanvaarding van LGBTIQ+-seksualiteite en die “trans-onding” (soos wat regses dit noem) insluit. Dit is ’n teruggryp na ’n verlede van die kerngesin en bekrompe familiewaardes wat nie meer bestaan nie—en vroue betaal die prys hiervoor.
In Suid-Afrika is aborsie deur die ANC gewettig met die Choice of Termination of Pregnancy Act (Act 92 of 1996). Dit is nie omdat almal in die ANC saamgestem het nie, maar omdat die feministe in die ANC daardie tyd voorbrand gemaak het en versoek het dat daar nie volgens gewete gestem mag word nie, maar volgens ’n party-standpunt dat aborsie gewettig moet word. Die wettiging was dus baie makliker as om te wag vir ’n uitspraak in ’n saak voor die Grondwetlike Hof. Ten spyte van die wettiging van aborsie is dit nie maklik beskikbaar nie, omdat dokters en verpleegpersoneel weier om dit te doen. By meeste klinieke word vroue weggewys of, indien die aborsie wel uitgevoer word, word vroue gestraf deur die weerhouding van pynmedikasie en deur beledigings. Toegang tot aborsie word ook beperk deur die agteruitgang van die openbare gesondheidsorg, stigma en normatiewe weerstand.
Die Dobbs-uitspraak het globale gevolge waar kondisies vir aborsie nou ook hier meer beperkend sal word en waar die voorwaardes vir die VSA se internasionale befondsing reeds meer konserwatief is, soos byvoorbeeld dat inligting oor die beperking van swangerskap geen inligting oor aborsie mag insluit nie. Maar dit het ook ’n meer distopiese dimensie. In baie state in die VSA sal vroue nou gedwing word om ’n swangerskap te voltooi ná verkragting of as daar ’n gebrek aan die fetus is. Daar is reeds sprake dat vroue wat oor grense wil reis, sal moet bewys dat hulle nie swanger is nie. ’n Mens wonder hoe so ’n bewys sal lyk. Hoe is dit anders as die distopiese Handmaid’s Tale waar vroue verkrag word en gedwing word om kinders vir onvrugbare vroue te baar?
Die dawerende boodskap van die Dobbs-uitspraak is: “Women you are on your own and big brother is watching you!”
Kind afmaak isse lang storie
Ronelda S. Kamfer
Ek is op dag drie van my vierdagskof en help vandag in dagsaal met die aborsies.
Ons senior nurse kom haal my in die staff room waar ek nog besig is om my tekkies uit te trek en my Green Cross aan te trek. “Roer jou gat meirre, hier is ses aborsies vir jou. Prep hulle en maak hulle files klaar, ek gaan gou op rondtes met dokter, ek’s nou hier,” sê sy en verdwyn in die gang af terwyl ek nog sukkel om my voet ordentlik in my skoen te kry.
Ek sit met my clipboard en pen en begin met die dag se aborsies. Die meisies in die wagkamer lyk almal soos ek, emaciated en exhausted. Pasiënt 1, 18 jaar oud, derde pregnancy, eerste aborsie. Pasiënt 2, 21 jaar oud, eerste pregnancy—haar gesig is geswel en bruised. Pasiënt 3, 26 jaar oud, eerste pregnancy, eerste aborsie—ons bly in dieselfde straat, ons chat oor hoe dit gaan met ons ma’s en of ek gehoor het van Sara wat huis gekoop het in die wit area. Pasiënt 4 is 38 jaar oud, school teacher, tweede pregnancy, tweede aborsie—sy vra of sy maar kan buite wag, want sy wil rook, haar hande bewe en sy lyk asof sy gehuil het. Pasiënt 5 is 33 jaar oud, eerste pregnancy—sy het werksklere aan, en wil weet hoe lank die hele proses gaan vat, want sy moet by die werk wees sodra sy klaar is. Voor ek my mond kan oopmaak, sê pasiënt 6, “I was raped, I don’t want this baby, it’s a rape pregnancy.”
Ek sê vir haar in my most calm tone, “Is okay, jy hoef nie daai te disclose nie. Ek vat maar net details sodat julle almal gehelp kan word. En ek is baie sorry dat jy so pregnant geraak het. But it’s nobody's business.” Sy kyk my aan en sê, “Yes, I understand but I don’t want people to think I’m killing this baby because I want to, I can’t have a rapist’s baby. I just can’t.”
Ek explain die procedure aan elkeen van hulle, dan kom my matrone in die gang af en sê, “Nurse, hulle need help in kraam. Gaan gou, ek sal dat Davids hier verder gaan.”
Ek sug, want Nurse Davids is ’n religious fanatic wat niks doen sonder die leiding van Liewe Jesus nie. En met al haar eie sondes toegesteek soos ou stretch marks is sy die worst persoon om my te kom relieve. But I just work here, so ek los my clipboard, druk my pen in my sak en maak my way kraamsaal toe.
Die twee security guards by die deur van die kraamsaal sit soos twee gargoyles en grom vir my wat vir once onthou het om te smile. Die smile help met die general mood van die hospitaal, apparently.
My eerste pasiënt is ’n new mom en sy sukkel met die baba wat nie latch nie.
Sy lyk flustered en sad, die newborn in haar arms lyk vreemd teen haar klein frame. Sy sê, “Ek gaan melk koop, die kind wil nie drink aan my nie.” Ek sê, “Is okay gee kans, babies het hulle eie tyd.”
Die res van my dag hardloop ek tussen klokkies antwoord en beddens oopmaak. My Green Cross maak my voet seer en wanneer ek finally gaan uitklok, kom sê matrone vir my, “Nursie, jy is af môre. Lekker laat slaap, my skapie.” Ek vat my sak uit die locker en is te moeg om skoene te change en ek stap netso taxi rank toe. By die taxi rank staan pasiënt 3 en pasiënt 4. Pasiënt 3 sê, “Ek het gewonne of jy al hystoe is.” Ek sê, “Ek het gedink julle is al lankal weg.” Pasiënt 4 sê, “Nee kind afmaak isse lang storie.” Sy sê dit hard genoeg vir almal om te hoor en niemand om om te gee nie.
Ons klim in die taxi en ek sit my earphones in, want die taxi maak ’n weird loud sound asof iets stukkend is. En ek het nie nou krag vir goed wat breek nie.
Ek was nooit groot op ma word nie
Maud
Ek was nooit groot op ma word nie. Ek is baie lief vir ou mense en kinders maar die trou, huisvrou en ma wees was nou nie juis eerste op my agenda as kind, tiener of enige tyd daarna nie.
Toe ek dus op 27 jaar swanger raak by ’n vriend-met-voordele was daar nie eers twyfel by my oor die keuse wat ek wou maak nie. Ek wou ’n aborsie kry en hoe gouer hoe beter. Ek het die knaap (so ’n jaar ouer as ek) gaan sien en gevra vir 50% van die fooi. Ek dink dit was so R800 daai dae en hy het bygedra en nooit my keuse bevraagteken nie, en ek ook nie. Nie een van ons was op ’n plek waar kinders welkom was nie.
Marie Stopes was in daardie dae die enigste plek wat ek kon opspoor en so is ek en my vriendin in die kar van die platteland af Johannesburg toe vir die prosedure. Die enigste benoudheid wat ek ervaar het, was toe hulle noem dat jy nie pynmedikasie kry nie en ook toe ons moes wag vir ons afspraak en daar ’n konsultasieproses was en ’n vinnige ondersoek deur iemand wat nie gelyk het of hulle eers weet hoe ’n swanger vrou moet lyk of uitwending voel nie, maar ek was hengse bly hulle was daar en beskikbaar, en het nie ’n woord geluister na die berading nie, want ek het mos klaar geweet wat ek wou doen.
En ja, dit was toe nou ook seer ongemaklik maar die verligting wat ek daarna gevoel het was eufories. My vriendin het baie meer bekommerd gelyk as ek, sodat ek eintlik skuldig gevoel het dat ek so bly was, veral omdat ’n ander getroude vriendin net so oud soos ek onlangs op 8 weke ’n miskraam gehad het en ek nie kon verstaan hoekom sy so hartseer was daaroor nie. Nog iets wat ek later beter sou verstaan.
’n Halwe dekade later het ek twee kinders van my eie gehad en toe eers begin die vrae by my opkom, want nou is jy skielik gekonfronteer met babas op sonars wat darem baie mens lyk op 12 weke al. Ek het nie getwyfel oor of ek moes voortgaan met die swangerskap daai tyd nie—eers jare later ná my eie kinders daar was het ek gedink oor of dit lewe of dood beïnvloed en of ek pro-choice of pro-life is.
Daardie vraag kan ek nog steeds nie beantwoord nie, maar een ding weet ek vir seker, niemand behoort gedwing te word om ’n swangerskap tot sy einde te moet deurmaak as hulle nie daardie kind wil grootmaak of laat aanneem nie, en laasgenoemde moet nie op hulle afgedwing word nie, so dit maak my dan seker pro-choice.
Wat ek wel ’n groot voorstander van geword het, is vrywillige sterilisasie of jy nou al kinders gehad het of nie, en ’n baie groter voorstander van ’n One Child Policy. Daar is net te veel mense en te veel kinders om nog ongewenste kinders in ’n lewe in te dwing.
Iets waaroor ek gewonder het oor die jare was of my vriend ooit sleg gevoel het daaroor. Ek het hom een keer gevra, jare later, want hy is nooit getroud nie, en het nooit kinders gehad nie en ek was baie maal bang dat dit my skuld was. Hy het meer gewonder oor die kind wat kon wees as ek en was meer spyt daaroor as ek, wat my laat besef het dat so ’n besluit tog nie altyd alleen geneem kan word nie, maar in my opinie is dit op die ou einde nog steeds jou lyf en jou baarmoeder om mee te maak soos jy wil.
As mens kyk na die pro-lifers is hulle omtrent almal geloofbedinges en dis waar die moeilikheid inkom. As jy aan die Drie-enige God glo, dan het hy vir jou vrye wil gegee en ’n brein om daardie wil uit te oefen en dan word daar ook in die Bybel genoem dat jy nie mag oordeel nie. So dan is daai sonde, as dit sonde is, jou eie sonde en net jy sal eendag daarvoor moet verantwoording doen en geen man of vrou behoort jou te kan forseer om met jou lyf iets anders te maak as wat jy wil nie, of jy nou gelowig is of nie.
Voel ek anders daaroor vandag? Nee. Sal ek weer dieselfde besluit neem? Ja. Sal ek dit aanbeveel vir vrouens? Ja, veral jong meisies, want om kinders te baar is nie vir sussies nie en kos sakke vol groot geld. Sal ek my eie dogter vat vir ’n aborsie as sy vra? Vir seker.
Geloof, hoop en aborsie
Petra Stegmann
Ek sit aan ’n tafel, ’n baie wit Afrikaanse tafel, en net soos dit op sosiale media gons oor die Amerikaanse howe se besluit om die grondwetlike reg op aborsie te verwyder, kom hierdie tema ook in die geselskap op. Hier gaan ons! Tannies, is julle reg?
Ek is ’n maatskaplike werker in ’n klein dorpie in die Wes-Kaap. Dié dat ek al heelwat met die aborsie-onderwerp kennis gemaak het. Ek is ’n Christen en was vir ’n groot deel van my vormingsjare ’n lid van die NG-Kerk. Christenskap en die waardes wat daaraan gekoppel word, speel ’n belangrike rol in my lewe. Dit wat reg is en dit wat verkeerd is, word duidelik vir ons uiteengesit. So maklik soos dit.
Maatskaplike werk is ’n beroep wat konstant aan haar onderdaniges skaaf en skuur. Sy het my al laat twyfel, sy het my al laat dink en sy het my al laat verstaan. Ons leef in ’n land waarin armoede en werkloosheid die sweep slaan en waar die houe letsels agterlaat (in ’n land sonder behoorlike gesondheidsorg). “My God, my God waarom het U my verlaat?”.
Ek word eties verplig om aan kliënte die opsies voor te hou wanneer ’n ongewensde swangerkap die opwagting maak. Sy maak haar keuse en ek ondersteun hierdie keuse. Sy maak haar keuse en ek respekteer hierdie keuse. Dadelik kom die gedagte by my op—ek is ’n Christen en aborsie is nie iets wat “ons” goedkeur nie. Is ek ’n sondaar? Is ons almal nie sondaars nie?
“As jy nie vir ’n kind kan sorg nie, dan moet jy jou nie besig hou met die verkeerde dinge nie”, sê een van die Afrikaanse vroue aan die tafel. Hierdie stelling word gemaak, en dadelik dink ek aan die vroue en tienermeisies wat ek al teëgekom het in my beroep. Nie een van hierdie vroue se agtergrond is dieselfde nie. Enkele van hierdie vroue het nie die geleentheid gehad om hul skoolloopbaan te voltooi nie en moes teen ’n minimumloon begin werk. Die omstandighede waarin hierdie vroue gebore is, het reeds gepaard gegaan met ’n reeks uitdagings soos ongskoolde ouers, armoede, alkoholmisbruik en so kan ek voortgaan. Here, kom die oordeel dan toe vir hierdie tafel met ons tersiêre opvoeding?
“Daar is beurse. As sy hard werk, en die regte keuses maak, kan sy gaan studeer.” Ten spyte van die sosio-ekonomiese kwessies wat hierdie vroue daagliks in die gesig staar, nie omdat hulle dit gekies het nie, maar hulle daarin gebore is, moet hulle só veerkragtig wees dat hulle elke uitdaging oorkom en blerrie goed ook, want onthou, die beurs. Hiermee wil ek geen erkenning ontneem van die persoon wat wel die beurs gekry het en ten spyte van hul omstandighede vir die lewe die teendeel bewys het nie. Wanneer sy dan met trane in haar oë kom hulp soek by die welsynwerker, respekteer ek haar keuse, verstaan ek haar keuse en luister ek met empatie na haar storie. Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles (1 Kor 13:7).
Soveel keer het ek al oor aborsie gereflekteer. Wat aborsie vir my beteken in ’n professionele, sowel as persoonlike hoedanigheid. Aborsie word in die Christelike geloof beskou as ’n sonde, maar alle sonde is gelykstaande—of dis hoe ek dit verstaan. Die besluite wat ek neem, reg of verkeerd, bly steeds my eie en dit is hoekom die Here vir my die vermoë gegee het om te kan kies.
Ek dink dis menslik van my om te wonder of die Here my veroordeel. Wanneer jy dit waarmee jy sedert geboorte gekondisioneer is tot ’n mate verwerp, is dit seker die gevolg. Vrek, ek weet die vroue om die tafel het my veroordeel toe ek deel dat ek defintief “pro-choice” is. Dis jou lyf, dis jou storie en dis jou keuse. So, vir die al die tannies aan die tafel en ook vir myself wil ek aan die volgende herinner: Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie (Matteus 7:1). Tannie Michelle, kry gerus vir jou nog ’n koeksister.