Van sedebewakers tot dwarstrekkers: Loslyf, manlikheid en geloof
Stella Viljoen is medeprofessor in Visuele Studies. Hier verken sy iets van die politieke betekenis en geskiedenis van Afrikaanse pornografie.
Afrikaner vroomheid…
In 'n era waarin pornografie alomteenwoordig is, is dit miskien die moeite werd om oor ons skouer terug te kyk na ’n verlede waarin selfs die mees onskuldige pornografie polities ondermynend gevoel het in ’n Suid-Afrika wat steeds seksuele en morele onderdrukking beleef het. As feminis vind ek dit besonder interessant om die soort publikasies te onthou wat as moreel dubbelsinnig geag was, maar ’n noodsaaklike rol gespeel het om die ‘vroomheid’ wat dikwels (verkeerdelik) met Afrikanerdom geassosieer is, te vermurwe.
Jan-Ad Stemmet sê die morele konserwatisme van die Afrikaner was ’n noodsaaklike komponent in sy outoritêre arsenaal. Stemmet vra hoekom die apartheidsregering so streng was in die polisiëring van die uitbeelding van seks en stel voor dat die antwoord lê in die godsdienstige oortuiging dat Afrikaners die uitverkore volk van God is. Die identiteit van hierdie groep is dus geanker in die Afrikanervolk se sin vir hul eie vroomheid; ’n sin van rasse-, taal-, politieke en morele eksklusiwiteit.
Teen hierdie agtergrond het ‘dwarstrekkers’ die apartheids-lingo geword vir diegene wat van binne af weggetrek het van die dominante kultuur van die Afrikaner. Deel van hierdie rebellie was ’n soort onderliggende verset teen die veronderstelde vroomheid van ‘goeie’ Afrikanermans. Wit Afrikaanssprekendes was in die negentigerjare noodwendig besig met die herdefiniëring van hul identiteit in ’n post-apartheidskonteks waar baie probeer het om post-rassisties, post-seksisties en heel dikwels post-Christelik te wees. Dwarstrek was moontlik ’n manier om Afrikanermanlikheid te herdefinieer, veral vir ’n generasie wat min blootstelling gehad het aan die maniere waarop seks uitgebeeld is in die Westerse wêreld. Hierdie leemte was te wyte aan polities konserwatiewe en seksueel preutse apartheid-sensuur, wat natuurlik geregverdig is deur Christelike skaampratery (alhoewel, moet mens toegee, baie pornografie die land onwettig binnegekom het ten spyte van apartheidsregulering).
Loslyf
Die eerste uitgawe van Loslyf is in Junie 1995 deur JT Publications (Joe Theron, die befaamde uitgewer van die Suid-Afrikaanse uitgawe van Hustler) gepubliseer. Dit was die eerste Afrikaanse pornografietydskrif en was as sodanig ’n reaksie op die geveinsde vroomheid van Afrikanermans deur ’n soort rebellie teen godsdiens, konserwatisme en seksisme. Die ikonoklas Ryk Hattingh het die tydskrif vir die eerste jaar geredigeer (hy het volgehou dit is die maksimum tyd wat ’n mens die sedebewakers kan uitlok op ’n manier wat kultureel interessant of kragtig sou wees). Hattingh het vir Vrye Weekblad gewerk en ’n teaterstuk, Sing jy van bomme, geskryf wat krities was van die gemilitariseerde outoritarisme van apartheid. Die tydskrif was hoofsaaklik vol sagte pornografie (met ander woorde kiekies van kaal en amper-kaal vrouens), maar het ook gedigte, artikels, strokiesprente en satire bevat.
In Hattingh se eerste redakteursbrief het hy uitbundig verkondig:
“Loslyf is ’n tydskrif vir Afrikaanssprekende grootmense wat hulself deel van die jagse mensdom voel, mense wat hul seksuele begeertes in druk wil sien en nie net in kroeë en om braaivleisvure daaroor wil mompel nie. Loslyf is nie ’n tydskrif vir moraliste, sedebewakers of radikale pretbederwers nie—daar is genoeg leesstof vir hulle, en ons gun hulle dit.”
Loslyf was nie juis ‘links’ nie, maar ook nie ‘konserwatief’ nie—dit was ondermynend van beide pole van die politieke spektrum. Lesers is aangespreek as nóg progressief (verligtes) nóg konserwatief (verkramptes). Dit was krities oor die idealisme van die nuwe post-apartheid-bedeling, maar dit het die geleenthede vir (heteronormatiewe) seksuele vryheid wat dit gebied het, omhels. Die lesers was dwarstrekkers.
Die koppeling van Afrikaans, die taal van Afrikanervroomheid, met pornografiese inhoud, was ondermynend. Dit is pragtig gedokumenteer deur Marnell Kirsten in haar navorsing oor die onderwerp. Soos sy verduidelik, het Hattingh gerespekteerde Afrikaanse skrywers en kunstenaars (byvoorbeeld Anton Kannemeyer en Conrad Botes van Bittercomix-faam) gewerf om ’n ‘alternatiewe’ manier van Afrikaanse manwees te modelleer. Dit het ook uitgebrei na die geloofsfeer. Loslyf het in opstand gekom teen die dominante orde van NG-godsdienstigheid, maar was ook in opstand teen die godsdienstige retoriek van die Nuwe Suid-Afrika, waarin “klassieke godsdienstige kategorieë—waarheid, versoening, geregtigheid, sonde, skuld, vergifnis, vrede, hoop—aangewend is om ’n program van nasionale versoening te regverdig en te implementeer,” soos Dirkie Smit dit stel.
So, daar was ’n manier waarop die tydskrif godsdienstigheid teëgestaan het—hetsy gekoppel aan apartheidsideologie of dié van die demokratiese bedeling. Wat minder onmiddellik voor die hand liggend is, is dat dit ook ’n vorm van kritiek op die klasse-aspirasies van beide kontekste was.
Tappit
Kobus du Pisani beskryf byvoorbeeld die toenemende sofistikasie wat Afrikanermanlikheid sedert ten minste die 1930’s gekenmerk het. Afrikanermans was blykbaar deur die Europese kultuur geïnspireer en was toenemend meer opgevoed, met ’n groeiende waardering vir kuns en letterkunde (soos gesien in kulturele ikone soos die Afrikaanse kinderboekkarakter Dr Serfontein van Keurboslaan-faam). Hierdie estetisisme is geassosieer met Afrikaner-dissidente maar het ook tekenend geword van 'n Afrikaner morele meerderwaardigheid en godsdienstige stoïsisme. Dit lyk asof Loslyf ’n gevoel van estetiese hoogmoedigheid wou ondermyn deur sy blote bestaan as populistiese sagte pornografie. Maar die tydskrif het dit ook gedoen op baie doelbewuste maniere, soos in ’n gereelde rubriek deur die joernalis ‘Fransie Fry’, wat na alle waarskynlikheid Hattingh was, en wat skynbaar daarop ingestel was om die snobisme en vermeende preutsheid van die Afrikaner Manlike Ideaal te ondermyn.
Fransie Fry
In elke uitgawe verken Fry die landskap van Suid-Afrika deur sy belangstelling in oënskynlik belangrike of ikoniese aspekte van die kleindorpse lewe, dikwels die argitektuur van kerke. In elke geval dokumenteer hy die bewoners wat hy in ’n godverlate dorp teëkom met spottende opregtheid en naïwiteit. Die September 1995-uitgawe bevat 'n artikel deur Fry, getiteld die “Die slawekloknimfie”. Die leser word in alle erns vertel dat ’n kultuurinstituut die skrywer genader het om ’n ondersoek te doen oor die oorblywende historiese kerke en ander geboue op die Suid-Afrikaanse platteland. Maar in hierdie geval vind Fry meer as wat hy verwag en hy vertel met skreeusnaakse effek van sy ontmoeting met ’n skoolhoof op ’n dorp wat naamloos bly. Die skoolhoof is baie kundig oor die argitektuur van die kontrei, veral die ou slaweklok wat op die skoolgronde is, maar wanneer Fry hom gaan sien, word hy min of meer betrap met een van sy studente, die gelyknamige nimf. Wel, eintlik, ontmoet Fry die “fikse donkerkop” wanneer sy op haar fiets aangejaag kom en ’n es gooi voor Fry en die skoolhoof. Nadat sy gegroet het (met “woorde wat soos heuning oor haar vol lippe gedrup het”), gee sy trots vir die skoolhoof haar boek uit haar tas uit. Hy kyk na die boek en sê dan dat die werk wat sy gedoen het uitstekend is … onbewus daarvan dat hy sy lippe lek. “So, dit lyk darem of ons gesprekke die moeite werd was,” sê hy. Fry los die skoolhoof nadat die dogter met ’n “wulpse beweging” wegry. Hy gaan terug hotel toe, maar besluit om later die middag weer ’n draai te maak by die skoolhoof se kantoor.
As hy aankom by die kantoor, gaan die deur skielik oop en dieselfde meisie, “natgesweet en met ’n erg gekreukelde skooljurk,” kom al giggelend en verbouereerd uitgehardloop. Binne kry Fry die skoolhoof bloedrooi in die gesig en met sweet wat in dun straaltjies teen sy slape afloop. Hy begin babbel oor die kerkgebou wat hulle moet gaan kyk terwyl hy sy das probeer regtrek en Fry aandui dat sy gulp nog oop is. Hy begin weer met ’n relaas oor die geskiedenis van die argitektuur op die skoolgrond, maar onderbreek toe homself deur vir Fry te sê dat hy dit hoog op prys sal stel as Fry sal vergeet wat hy daardie middag gesien het. “Wat het ek gesien?” vra Fry. Die skoolhoof skink vir hulle brandewyn uit ’n halfjack in twee polistireenglase en begin confess.
Dit het begin met ekstra lesse. Een dag, toe hy weer vir haar sê om haar sokkies op te trek, toe antwoord sy, “Meneer, hierdie gerasery werk nie met my nie. Gee my ’n pakslae. Hier op my gat soos jy met die ouens maak.” Sy gaan buk toe oor sy lessenaar, en trek haar rok hoog op sodat hy haar broekie kon sien. “Ek moet erken, ek het my vergaap aan hierdie pragtige jong boudjies, twee ryp appelkose,” sê die skoolhoof en verduidelik verder, “as dit haar gaan help om deur matriek te kom, is ek mos verplig om haar te ondersteun. Dis mos reg so?” Uit meegevoel vir die dogter gaan haal die skoolhoof ’n lat uit die kas uit en toe hy terugdraai na haar, het sy haar rok nog hoër opgetrek. As hy haar begin “donner” dan smeek sy vir nog en kreun van plesier ... of so sê die skoolhoof. Ek laat die res oor aan jou verbeelding, maar die skoolhoof verduidelik in detail die “naai van sy lewe” met poëtiese beskrywings van sy kloppende voël en haar nat, warm lyf. Daarná is sy aanbeveling aan Fry dat hulle die dorp se mooi kerk gaan besigtig.
Die gevolg is dat die rubriek die lesers terg oor hul eie pretensies en wat hulle verwag van ’n artikel oor historiese argitektuur. En hierdeur wys Fry hoe belaglik die soort Afrikaner-elitisme is wat dikwels ’n romantisering van die verlede koppel aan ’n heimwee na ’n plattelandse lewe. Loslyf weerstaan die drang om ’n hoogmoedige belangstelling in enigiets esteties voor te gee. Dit is ’n ruimte van onbeskaamde kitsch of lae-kultuur. Dit is nie die plek om voor te gee dat jy ’n belangstelling in kuns of romanse het nie. Dat dit ’n skoolhoof is wat die gatkant (!) van die grap is, en dat sy expertise ’n argitektoniese kennis is wat ten doel het om ’n belangstelling in die verwaarloosde kerk te laat herleef, wys weer op die tydskrif se bespotting van simbole van gesag, hetsy mense of plekke. Die invoeging van seks in ’n narratief oor kulturele waardering normaliseer seks as ’n aktiwiteit en as ’n literêre strategie.
Ek sal nog ’n storie deel om ’n gevoel vir hierdie soort inhoud te gee. Die tweede heet “Die Engel in die Linnekamer” en is in die Januarie 1996-uitgawe gepubliseer. Fry gaan om ’n onderhoud te voer met Dominee D.V., vanweë sy kennis van die kerktoring in ’n naamlose dorp. Die kerktoring is duidelik ’n simbool van die viriele manlikheid agter Afrikanernasionalisme. Fry kry die dominee in die kerk waar hy ’n troue bedien:
“voor ’n flambojante stinkhout-preekstoel. Hy is in ’n rolstoel. ’n Klein mannetjie met ’n reusagtige stem. [...] By die ondertekening van die register het die bruid laag oor die tafel geleun en haar hals het verleidelik haar sagte, sensuele borste—perfek in toom gehou deur haar satynbra—ontbloot. En D.V. se oë was vasgevang deur die skoonheid van die jong bruid se half ontblote tiete.”
Ná die diens word Fry genooi om by die feesvieringe aan te sluit, wat hy doen. “Môre praat ons oor die kerk en sy geskiedenis,” sê die dominee, “maar nou is dit tyd om bruilof te vier.” Fry eet, drink en merk op dat Maria, die bruid, vir Dominee knipoog tydens die troutoesprake wanneer die bruidegom die goeie werk wat sy doen by die ouetehuis waar die dominee woon, prys. Dominee D.V. vertel dan vir Fry ná ’n taamlike gekuier hoe Maria elke oggend vir hom sponsbaddens sou gee. Een oggend het sy skaars begin, “toe spring sy meneer orent.” “Maria het haar hand saggies om sy voël gehou, ’n paar keer op en af getrek en toe uitlokkend gefluister dat hy haar op ’n sekere tyd in die linnekamer moet ontmoet. Toe buk sy af en gee sy klipharde paal ’n soentjie…” Later, in die linnekas, nadat sy die komberse weggepak het, het hy,
“na haar borste gegryp en sy het haar rompie hoog op haar heupe opgetrek en wydsbeen op sy skoot gaan sit. Hy het sy gesig styf tussen haar tiete gedruk en gelek en gebyt soos nog nooit tevore nie. Maria het sag gekreun van genot en D.V. het by die punt van versmoring omgedraai en luid asem geskep. Sy het opgestaan en van haar laaste klere ontslae geraak. D.V. het hygend toegekyk. Toe leun sy stadig vooroor, trek sy gulp oop en neem sy kloppende voël in haar mond. Eers het sy dit soos ’n roomys gelek, al vinniger en vinniger[.] Net toe D.V. by die punt van die grootste orgasme van sy lewe kom, het sy sy voël uit haar mond laat glip, weer wydsbeen oor hom gaan sit en haar poeslippe het stadig sy polsende piel ingesuig in haar tonnel van ewige genot […] die klein mannetjie in die rolstoel het die hoogste punt van menslike ekstase in sy lewe ervaar.”
Later, by die troue, nadat die bruidegom uitgepass het, kyk Fransie Fry uit by sy hotelkamer en sien hoe Maria-die-verpleegster dominee D.V. in haar trourok bespring. Toe sy van hom in sy rolstoel afklim, sien hy die motivering vir haar oortreding ... die dominee het, blyk dit, ’n helse groot kerktoring.
Deur hierdie soort lawwigheid wys Loslyf vir hulle lesers ‘n ligter kant van seksuele verbeelding en ghaai met enige iemand wat hulle self of hulle Afrikaner-identiteit te ernstig opneem. Die tydskrif het dit moontlik gemaak vir mans om te lag oor hulle morele en estetiese of kulturele tekortkominge en het vir hulle toestemming gegee om net te wees.
Maar hoe ondermynend was Loslyf werklik?
In Loslyf was seks in hierdie eerste jaar simbolies van rebelse Afrikaanse (en Afrikaner-) mans wat klaarblyklik die behoefte gevoel het om hulleself te distansieer van die moralistiese patriargie van ouds. “Ons is nie ons vaders nie,” wil die mans blykbaar sê. Maar hierdie bewering is ook deurspek met die gevoel van ’n mislukte geleentheid. Loslyf het in sy eerste jaar (1995) gewerk om Afrikanermanlikheid te kompliseer, veral in terme van die godslasterlike belyning van seks en godsdiens, maar dit laat eintlik die vraag ontstaan waar hierdie publikasie (en hierdie mans) was tydens apartheid. Was Loslyf dalk nie effens te laat om regtig subversief te wees nie? Dit kon nie ‘die Ryk laat kelder’ nie, en die uitdruk van oënskynlik ondermynende of alternatiewe strome van manlikheid kon selfs gedien het om ’n hegemoniese of patriargale manlikheid te belyn met ’n soort seks-positiwiteit wat die machismo gelegitimeer het. Alternatiewe tipes manlikheid dien tog dikwels om die hegemoniese (of dominante of patriargale) norm te legitimeer deur voor te gee dat die dominante manlikheid ook ruimte skep vir ander identiteite en dus nie so eenvoudig of magsbehep is soos wat dit aanvanklik voorkom nie.
Maar, wanneer mens nou terugkyk na hierdie verspotte tydskrif onder redaksie van Ryk Hattingh, voel die speelse oneerbiedigheid en pure stoutigheid totaal en al heerlik en dit laat my wonder hoekom daar vandag niks so simpel, sexy en Afrikaans-erig is nie. Dit maak my sommer moerse lus vir ’n dwarstrekker van my eie.