The female gaze
Lynthia Julius is ’n bekroonde digter. Haar debuutbundel Uit die Kroes is in 2020 gepubliseer.
Verlede jaar sit ek met ’n sekstoneel wat ek moet skryf. Eers slat ek blênk. Ek kan mis nie wil ’n sekstoneel wil skryf nie. My hoof sal inval dan moet die geel Vaseline en Haarlemensis weer nader getrek word. En as dit nie werk nie, sal ek moet met Rooilavental uitgesmeer word of daarin gebad word. Goeie meisies skryf mis nie oor solikke goed nie.
Goed of nie goed nie, die toneel moet geskryf word en ék moet dit skryf, so hoe nou? Al wat ek aan kan dink is ek moet maak soos my land se politici maak. Ek moet steel en ek moet goed steel. Eers dink ek aan “The beautiful poem” van Richard Brautigan:
“I go to bed in Los Angeles thinking
about you.
Pissing a few moments ago
I looked down at my penis
affectionately.
Knowing it has been inside
you twice today makes me
feel beautiful.”
So dan moet my karakters gevoelens vir mekaar het, maar ek is nie tevrede met net die trant nie, so ek trek rapmusiek nader. YouTube toe. Eers speel ek vir “Pussy money weed” van Ouboeda Wayne:
“Clothes are overrated, panties are debated
Einstein… her head is the greatest”
Die man is ’n genie as dit by verse oor seks kom. Op repeat. “Her head is the greatest.” Hoe steel ek dit en maak dit Afrikaans? Die mengsel Haarlemensis en Vaseline is al klaar aangemaak. Die pot sit kyk my. Nog ’n rapliedjie. “Drunk in love” van Beyoncé en Jay-Z se remix. Kanye se gedeelte slat dieper as die slaggate tussen Kimberley en Boshoff:
“I ain’t no pastor don’t do missionary
I know good pussy when I see it I’m a visionary…
You reverse, you reverse that cowgirl, you reverse,
and I impregnated your mouth girl”
Ek besluit om huis skoon te maak, van dit lyk my nie ek kry my kop skoon nie. Tussen Pine Gel en Handy Andy, mop en besem, laat speel ek die onsedelike musiek kliphard op my ma se bluetooth speaker. Maar hier’s nou fout. Hier is groot fout. Hoekom, in my pienk gown en oorgroot sweetpakbroek, draai ek net na mans toe om by hulle seks te wil steel? Ek dink aan wat my suster, Sisca gesê het: “Ons moenie meer soos Spivak vra of die subaltern kan praat nie. Ons moet ’n slag vra wil die subaltern praat. Silence can also be self-defense.” Vrouens was lank genoeg subalterns wat xho moes gebukkend gaan onder die male gaze. Vrouens my ouderdom wil nou praat. Ons wil nou oor seks praat. Ek droog die mop uit en stuur eers die huis se skoonmaak in sy moer in. Droog my hande aan my gown af en loop rook. Nikotien het ’n manier om jou brein te khuza. Vrouens. Skryf uit die perspektief van ’n vrou. Jy identifiseer as een. Anaïs Nin kom vra skuif by my. Sy trek diep en herinner my:
“I had a feeling that Pandora’s box contained the mysteries of woman’s sensuality, so different from a man’s and for which man’s language was so inadequate.”
Word vrou. Is vrou. Kom vrou. Die een gwaai is nie genoeg nie. Anne Sexton kom by my aan en haal nog een uit my pakkie uit. Sy trek ’n SAB-krat nader om op te sit. Ons praat oor “The Ballad of the Lonely Masturbator”. Sy vra uit oor my pers vriendin (diep agter in my kas weggesteek) met die vyftien funksies wat ek by Olivia Grey gekoop het.
“Finger to finger, now she’s mine.
She’s not too far. She’s my encounter.
I beat her like a bell. I recline
in the bower where you used to mount her.
You borrowed me on the flowered spread.
At night, alone, I marry the bed.”
Wees vrou. Altyd vrou. Kom, vrou. Hoe smaak jou kom, vrou? Sy en Anaïs praat oor mekaar en so sit vat hulle net gwaais uit my pakkie uit asof hulle bygesit het en plan sal maak vir die volgende een. Hulle sê manne het lank genoeg gekyk. Genoeg oor en vir ons gepraat. Is nou onse beurt. Ons kyk nou. Ons moet vingers in eie bodems steek. Anaïs praat vir Anne dood. Sy praat oor sien. Oor kyk. Oor ruik:
“She got up and brought a long mirror towards the window. She stood it on the floor against a chair. Then she sat down in front of it on the rug, and facing it, slowly opened her legs. The sight was enchanting. The skin was flawless, the vulva, roseate and full. She thought it was like the gum plant leaf with its secret milk that the pressure of the finger could bring out, the odorous moisture that came like the moisture of the sea shells.”
As daar moet gekom word, moet die kom aan die vrou behoort. Hulle gee nie om oor die man s’n nie. Sê manne kom hoeka te gou. Goed en wel, dames, maar sulke goed kan ek nie oor wil skryf nie. Meisies wat oor solikke goed skryf gaan nie die poorte van die hemel sien nie en my ma het ’n rosekrans gehang bo my bed. Anne sê ek sou in elk geval nooit gegaan het nie. Ek moet nog ’n vrou loop haal en hier kom bysit.
Antjie. Hier moet Afrikaans bykom en daar is nie vir Antjie as dit kom oor van seks dig nie. Ek lees vir uit Mede-Wete. Ek hoor ek moet my karakter se “vaginastrande” (laat) “klik-klaks soos ’n haai” (bl. 99). En die jong se tril, moet ek hom ’n “Cartesiese Alzheimerpiel” (bl. 99) maak? Anne sê daar is nie ’n piel sonder Alzheimer’s nie. Ek wil weet of hy “soveel landskappe tussen haar bene oop” (bl. 99) moet maak. Ek tel vir Kleur kom nooit alleen nie op en begin blaai deur haar. Die gwaais raak al minder.
Anaïs maak my aanhou bladsy 52 lees. Sy sê daar, daar moet ek steel:
“ons bekkens klap soos horings teen mekaar
jou boude kneukel wit
jy smeer na buite
jy smyt my binne
man massale man
om wie ek inkom
wat in my nek na dier en gode gil”
My karakters se kamer moet “ontbrand” soos op bladsy 53. Sy moet “blind op [hom] ry” (bl. 54). Anne wil hê ek moet beskryf hoe die man haar penetreer soos Antjie maak in “The Particularity of Nakedness” (bl. 57). Beskryf die volheid. Of die halfheid. Afhangende van die grote van sy tril. Moenie die man die koning van naai maak soos in “The Artist and his Model” (bl. 59) nie. Maak háár die koning van naai. Laat sy hom opfrommel soos ’n druiprapport. Laat sy die kroon dra. Al penetreer hy, sy is die digter. Sy is die skepper.
Hulle vra ek moet vir Warsan Shire video call. Warsan add vir God in die gesprek:
“God was in the room
when the man said to the woman
‘I love you so much wrap your legs
around me pull me in pull me in pull me in’
sometimes when he’d have her nipple in his mouth
she’d whisper ‘oh my god’
that too is a form of worship”
Sy sê daar moet geprys word soos in born again-kerke. Ek moet skryf hoe dit is as die man uittrek. Hoe voel jou karakter wanneer die man uittrek? Voor ek kan antwoord beantwoord sy haar eie vraag:
“Whenever he pulls out:
loss.”
My ma sal my heilige water wat die nonne in Namakwaland op gebid het laat drink as sy moet hoor van die soort gesprekke wat Lyntieja het. Sy sal weer wierook die huis vol brand. Anne wil weet hoekom ek daaroor worry. Anaïs haal die laaste gwaai uit die pakkie uit. Warsan lag en sê vir Anne en Anaïs hulle moet my hande oplê, dis ou ding van my. Sy sê:
“Anything that leaves her mouth sounds like sex,
our mother has banned her from saying God’s name.”
Na Warsan se call moes ophou oor loadshedding die sein sleg gemaak het en Anaïs en Anne geloop het sonder om sorry te sê oor ek xhoeroe is en sonder gwaais sit, gaan skryf ek die toneel. Ek maak dit later ’n reeks van sewe gedigte wat ek “Trilgasmes” doop. Daar’s ’n reël:
“Hy lei my na G spot waters waar daar rus is”
Haarlemensis en geel Vaseline. Rooilavental. Rosekrans. Wierook en heilige water. Die hemelpoorte sal ek nie sien nie.