Oopstemming
Klara du Plessis se debuutbundel, Ekke, is bekroon met die Pat Lowther Memorial Award (2019). Haar nuutste bundel, G, verskyn later in 2023. Die kuns in die brief is ook deur Klara.
Ek skryf in Afrikaans. Dit voel asof ek nie toestemming het om in Afrikaans te skryf nie. Wie se toestemming? Toe stem. (Dui “toe” rigting aan? Iewers heen. Huis toe.) Of is die taal toegemaak? Stem afgeskakel. Tensy ek toestemming by myself kry, sal permissie juis my stem toesluit.
Soms is daar submissie in taalgebruik. Meestal is dit ’n affektiewe reaksie. Iets wat ek nie wetenskaplik of met konkrete voorbeelde goed kan omskryf nie. Taal wat aandring op reg en verkeerd. Taal wat graag verkleineer, wat graag respek aantoon. Ek raak ’n meester daarin om nooit voornaamwoorde vir mense ouer as ek te gebruik nie. Ek kry ’n kick daaruit om uiters goeie maniere te kweek. Maniërismes wat meestal net woordeskat is. Wanneer ek by tye van Montreal af in Kaapstad woon, voel ek dat ek anders moet wees om in te pas, dat ek wie ek is, moet dramatiseer. Dit is ook ’n vorm van self-onderwerping aan ’n dominante narratief. In taal. In beide persoonlike en professionele situasies verteenwoordig ek ’n weergawe van myself.
’n Paar jaar gelede skryf ek stuk-stuk aan ’n Afrikaanse gedig wat ek ’n Engelse titel gee. Die gedig begin met die ongelooflike mooi woord “kunspenis” (dildo). Dit ontwikkel dan in die algemeen oor seks, met ’n fokus op die skoonheid van die manlike liggaam. Tydens die skryfproses voel ek gelukkig oor die gedig. Dit voel soos ’n deurbraak in die manier waarop ek in Afrikaans dig. Die taalgebruik is los en klankspel sit nie in afsonderlike woorde vas nie.
Sendelingseks,
een van die maklikste en bevredigendste
onderonsies,
wie ookal onder is.
Waar daar onderdanigheid is, is daar ook dominansie. Die twee steek in mekaar vas. Iewers, ondeurdringbaar, weef die een ’n outoritêre kultuur deur die ander, deur grammatika en woordeskat. Bv. wanneer ek skryf van ’n geoefende hoflikheid wat ’n aangename gevoel van (magtige) onderdanigheid skep, is daar terselfdertyd ’n ongesproke en abstrakte verwagting na daardie gedrag. Van wie af? Weer eens moet ek vra, wie se reëls ek volg, wie se toestemming ek nastreef? Tog is daar die skim van ’n dominante voorbeeld. Taal verskaf woorde en omdat hulle bestaan, kan ek myself op ’n sekere manier uitdruk.
Kok
Prik
Dik
Kat
Ek ervaar Afrikaans as ’n taal wat ’n redelik strak polariteit tussen gehoorsaamheid en heerssugtigheid in die voorgrond stel. Ek bedoel dit nie negatief nie. Dat twee sulke sterk uiterstes in taal bestaan, verwek noodwendig ’n komplekser spanning tussen-in. In ’n skeppende konteks—in die sin dat taal en taal se eienskappe die medium van skrif en letterkunde en kuns (breër gestel) is—is daardie beweeglikheid of balansering tussen pole energiek, kineties en soepel. So sou ek ook voorstel dat daar ’n erotiek aan Afrikaans is, ’n magspel wat mens dwing tot die alleen-ruimte van fantasie. Dit is die utopie, die onbereikbaarheid en selfs onuitleefbaarheid van fantasie wat nie-dialogies volmag gee aan plesier.
Mag. En dan, mag ek? Om mag te destabiliseer sodat dit toestemming word.
“Sex separates, doesn’t unite [...] What is real is that pleasure takes you a long way away, very far away from the other.” Dit is Alain Badiou wat in In Praise of Love skryf dat fantasie mense/minnaars/vryers skei van mekaar. Selfs dialogies bly seks, vir hom, ’n ervaring van afsondering. Die voorstel dat daar inherent ’n dinamiese afwisseling tussen submissie en dominansie in Afrikaans as taal bestaan, lei dan tot ’n konstante verskuiwing heen en weer tussen pole. Submissie is ’n magtige posisie wanneer dit met plesier assosieer word, terwyl net gedwonge gesag swakheid aandui.
Skat,
ek is in is-eksiel van seks.
Om ’n stem te hê, is natuurlik ’n metafoor met ’n lang geskiedenis wat gereeld aangehaal en oorgebruik word. ’n Metafoor vir die skrywer wat ’n eiesoortige, letterkundige stem vind in hul werk. ’n Metafoor vir die feminis, en ander opstandige en selfstandige subjekte, wat praat en aandring om gehoor te word. Ek dink hier aan Anne Carson wat in “The Gender of Sound” ’n klankbaan van stembande maak en toonhoogte manipuleer om narratiewe van die vroulike mond, spraak en klank te strooi soos glasskerwe.
Die stem keer dus die geslote taalruimte van toestemming om. Die wulpse mond is oop. Enige moontlike gebrek aan toestemming word ’n eiesoortige verlof wat weerstandige taalgebruik aanmoedig. Wanneer toestemming as consent vertaal word, verander die lokus van mag.
Toestemming. Oopstemming.
Douglas Kahn skryf oor “meat voices” in Noise Water Meat, ’n boek oor klank in die kunste. Alhoewel dit ’n akademiese teks is, voel dit asof hy dig. “The mouth, in other words, spoke unhygienically for the rest of the body and defended poetry.” Hy stel voor dat die hele liggaam ’n stem is, dat funksies van klankvorming en vibrasie gekoppel is aan elke sel van vleis, vlees en gees. In ’n negatiewer sin, praat Ernest Hemingway van Gertrude Stein se “beafsteak” stem. Maar die fisiese stem—die langwerpige spiere in die nek—verdubbel as ander liggaamlike holtes en tonnels en buise wat deur mondbewegings en lyfgebare stemhebbend en oopstemmig resoneer.
Die gedig waaruit ek aanhaal, is ’n onvoltooide werk wat ek nooit sal klaarskryf nie. Soos ek nou terugkyk daarna, verval die teerheid van die konsep in voyeurisme in. Die sagtheid daarvan verhard. Dit is te onpersoonlik. Dit voel asof ek ’n sensuele identiteit uitvoer as ’n subversiewe gebaar sonder ’n verdere kern of dringende inhoud. Dit voel soos ’n weergawe van myself waarmee ek nie tans identifiseer nie. Om aan te voel dat ek wel gemaklik, onbeskroomd en sonder skuld oor intieme temas kan skryf en dat ek nou kies om dit nie te doen nie, is bemagtigend. Dit sê vir my iets oor wie ek huidiglik is.
Ek is tevrede om hier my gunsteling verse uit hierdie gedig buite konteks van die geheel te deel. Die gedig bestaan waarskynlik sodat ek dit fragmentaries deur hierdie skryfstuk kan weef. Om die erotiek van taal nie-tematies aan te wend en die spel en spanning van eksperiment te ontgin.
Klimaks se plagale kadens
en die asem van amen.