Netflix en net chill
Mercy Kannemeyer is ’n skrywer en regisseur. Hier dink sy na oor maagdelikheid en vroulikheid, en sy verken die narratiewe rondom seks waardeur ons gevorm word. Met kuns deur Nathan Trantraal.
“While #MeToo and mental health have indeed impacted young people’s approach to intimacy, the effects on the whole seem far from negative, with clearly defined rules in the bedroom giving much of Gen Z the confidence to have more sex, and to explore and ask for what they really want. And while they may be breaking up with dating apps, this doesn’t seem to be a sign of apathy towards intimacy, but rather of a desire for a more authentic kind of intimacy. When it comes to sex, perhaps the kids are alright.”—Eleanor Halls, “This Is What The Sex Lives Of Gen Z-ers Are Actually Like”
Mense praat gereeld oor seks, en die Franse filosoof Michel Foucault meen “[w]e convince ourselves that we have never said enough on the subject”. Dis waar. Seks is oral. In movies. In musiek. In teaters. In boeke. Byna daagliks in ons gesprekke. Dan kry ons mos nou vir Oscar Wilde ook wat glo aangevoer het dat alles in die wêreld oor seks gaan, behalwe seks. Seks gaan oor mag. Die mag om iemand tot ’n orgasme te dryf. Die mag om seks te weerhou. Die mag om te besluit wanneer jy seks wil hê, al dan nie.
Mercy hier. Die 28-jarige virgin. Op 16 Desember 2022 skryf ek vir Vrye Weekblad dat ek 28 jaar oud is, en uiteraard nog ’n virgin ook. Ek noem daar dat dit een van die uitdagendste stukke is wat ek al moes skryf, want wie wil nou só uit die huis uit praat? Nietemin, ek het dit geskryf, en die reaksies was meestal positief. Soos verwag, het sommige mense gevra, “ugh Mercy, wie gee om?” en ander het gemeen dis braaf. Dis nou al byna ses maande later, en albei reaksies—goed en sleg—spook nog by my. Daar is natuurlik groter gesprekke om te voer soos oor die vraag of maagdelikheid ’n sosiale konstruk is en tot watter mate die patriargie ’n rol te speel het in vroue se liggame. Kom ons unpack.
Foucault se “repressive hypothesis” het nogals ’n liggie in my brein laat aanskakel. Veral die stelling dat daar neergekyk word op enige aktiwiteite wat plesier ontlok. Wat is Foucault se “repressive hypothesis”?
“The repressive hypothesis supposes that since the rise of the bourgeoisie, any expenditure of energy on purely pleasurable activities has been frowned upon. As a result, sex has been treated as a private, practical affair that only properly takes place between a husband and a wife. Sex outside these confines is not simply prohibited, but repressed. That is, there is not simply an effort to prevent extra-marital sex, but also an effort to make it unspeakable and unthinkable. Discourse on sexuality is confined to marriage.”
Die idee dat seks privaat en tussen ’n getroude man en vrou gebeur, sinspeel op ou Christelike dogma dat seks heilig is. As iemand wat in die kerk grootgeword het, onthou ek alte duidelik hoe ons in Sondagskool geleer is dat seks buite die huwelik streng verbode is. Sonde! Ons het ook geleer dat ’n vrou haar vir haar man moet spaar. En dat indien jy oor die lyn trap, jy onder kerktug geplaas sou word. (Kerktug, in die kerk waarin ek was se geval, is wanneer jy in ’n aparte hoekie van die kerk moet sit en nie aan die heilige nagmaal mag deelneem nie, want jy het jou Here God gefaal. Jy is nie geregtig tot Sy liggaam nie, want jy het jou aan aardse plesier vergryp). Scary shit.
Op ’n stadium het ek in die bostaande geglo. Ek het geglo dat ek myself moet spaar. Nie dat daar ooit enige versoekings of belangstellings was nie (HAHA!), maar seks was ook nie vir my ’n prioriteit nie. Ek wou veel eerder eerste in my klas staan, lekker boeke lees, nuwe danspassies aanleer wat ek op Hannah Montana gesien het, en blitsvinnig met my fiets in die stofstrate buite ons huis ry.
Soos wat ek ouer geword het, en toenemend gekonfronteer is met seks, moes ek natuurlik my storie verander. In my vroeë twintigs het ek eerder op my studies gefokus, op my loopbaan, op my menswees. En wat ’n blye tyding toe ek raaklees dat millennials nie so gereeld seks het soos die vorige generasies nie. In ’n opiniestuk vir i skryf Kia-Elise Green dat millennials nie gereeld seks het nie omdat hulle moeg en te gespanne is. As iemand wat as gereeld-genoeg-moeg identifiseer, kan ek jou belowe dis nie die enigste rede hoekom mense nie seks het nie. Scott J. South en Lei Lei skryf in ’n akademiese artikel dat die persentasie jong mense wat seksueel aktief is, in die laaste paar jaar afgeneem het. Hulle verskaf verskeie redes vir die afname, wat onder andere insluit dat jong mense meer op sosiale media is en minder tyd saam met ander mense deurbring. Jong mense sal ook eerder Netflix en net chill (die regte chill, nie daai ander tipe chill nie).
In ’n stuk oor Gen Z’s wat net so min seks soos millennials het, het, skryf Eleanor Halls dat Gen Z’s minder verdraagsaam teenoor ongevraagde aandag en gedrag is. Gen Z’s sal hulleself nie sommer in situasies sit waarin hulle nie wil wees nie. Halls meen dat dit dalk nie ’n totale verbod op seks is nie, maar dat Gen Z’s eerder vir veilige en genotvolle seks gaan. Maak sin, né? Gen Z’s en millennials is geweldig opgevoed oor seks. Ons het verstand gekry in die era van consent, in die era van #MeToo, in die era van #TimesUp.
Na afloop van my rubriek vir Vrye Weekblad, wou ek natuurlik weer met my ouers daaroor gesels. ’n Besige antie in ons straat het my voorgespring. Ek wou nog my ouers waarsku, maar toe is Antie Bekkie klaar daar by ons huis. My ma bel my toe en vra hoekom ek uit die slaapkamer uit skryf. Ek probeer vir my ma verduidelik dat dit nie ’n big deal is nie. Party mense gee nie om nie. En party mense is bly dat ek die ding van “ouer” maagde oopskryf.
Ugh, Mercy, wie gee om?
Wie gee nou nog om as iemand in hulle laat twintigs is en nog nooit seks gehad het nie? Ek gee vir seker nie om nie. Diegene wat vra wie omgee, glo heel waarskynlik dat seks en maagdelikheid nie nog iets is om oor huis toe te skryf nie. Tot ’n mate stem ek saam. Daar is groter kwessies rakende die vroulike liggaam waaroor ’n mens mos nou kan praat. Dié kwessies sluit onder andere in die feit dat “virginity testing” nog in talle lande plaasvind, die skokkende syfers van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika, vroue wie se regte in die 21ste eeu nog van hulle ontneem word, vroue wat in sommige werkplekke nog minder as mans verdien, vroue wat in sommige lande nie toegelaat word om te studeer of te werk nie, en en en.
In my ouma-hulle en haar ouma-hulle se tyd het die mense mos so op ’n hoop kinders gekry. En ’n mens hoor gereeld om die braaivleisvuur die rede daarvoor is omdat die ouer generasies nie veel gehad het om te doen nie. Ek dink hulle het oorgenoeg gehad om te doen. Hulle was net nie so easily distracted soos ons nou nie. My ouma-hulle se prioriteite was om te trou en kinders te kry. Dis maar net hoe hulle gekondisioneer is.
Wow, Mercy, dis so braaf.
Ek kan verstaan waarom daar mense is wat dink dis braaf om in hierdie day and age oor maagdelikheid te gesels. Ten spyte daarvan dat vroue se liggame nog erg police word, leef ons tog ook in die era van sexual liberation. Popsterre soos Lizzo, Megan Thee Stallion en Saweetie vier hulle liggame en hulle seksualiteit in hulle musiek. Het jy al ’n twerk-video van Megan Thee Stallion gesien? Mesmerising! Doen jouself die guns, en gaan kyk daarna. Al hierdie popsterre leer ons dat despite al die kritiek dat vroue hulleself moet gedra, mooi sit, beskaafd aantrek, ons nog steeds ons liggame kan vier. Ek is nie daar nie. Maar kudos vir diegene wat wel daar is!
Dit is nie noodwendig braaf om nog ’n maagd te wees nie. Dis dalk anders, maar braaf? Dis braaf om oorlog toe te gaan. Dis braaf om in dwelm- en bendegeteisterde gebiede ’n bestaan te probeer maak. Dis braaf om lewens te probeer red. Dis braaf om in hierdie post-woke tye te erken dat jy nogals ’n fan van die royal family is. Dis braaf om te erken dat jy nie Beyoncé se volle discography ken nie. Dit is geensins braaf om nie al seks te gehad het nie.
Vir diegene wat wonder, “okay, maar Mercy hoekom? Hoekom is jy ’n 28-jarige virgin?” Luister, as kind was ek so bang gepraat vir seks ek het gedag dat as ek net na ’n outjie kyk sal ek swanger word. Seks was ook nie juis iets waaroor daar in ons huis gepraat was nie. En hier gee ek nou glad nie my ouers die skuld nie. Hulle ouers het nie met hulle oor seks gepraat nie, en my ouers se ouers se ouers het ook nie met húlle daaroor gepraat nie. En ek weet dis nie uniek tot bruin huisgesinne nie. Seks was nog altyd so bietjie taboo, behalwe as jy in ’n moerse liberale huis grootgeword het. Ek het nie. Ek het in ’n pastorie grootgeword, en die meeste seksvoorligting wat ek ontvang het, was van onderwysers wat ook nie juis gemaklik was om daaroor te praat nie. Op ’n stadium in die laerskool moes ons van die menstruele siklus leer. Die hele klas het so gegiggel, dat ons onderwyser summier die klas gestop het. Nie eers te praat van die keer toe ons oor geslagsorgane moes leer nie! Die onderwyser het iets tussen ’n piesang en ’n luislang op die bord geteken, en daar was ouers wat briewe aan die skoolhoof geskryf het! Hoe durf die onderwyser ons van geslagsorgane leer!
En nou is ek op ’n punt waar ek net geen belangstelling in dating het nie. Ek vermoed dis tydelik, want ek het groter prioriteite as om nou iemand te leer ken of om enige buitemuurse aktiwiteite van enige seksuele aard te beoefen. En ek besef dit klink seker so lame! Mense sê ek weet nie wat ek mis nie. Korrek! Hoe kan ’n mens iets mis wat jy nog nooit ervaar het nie? Dis nou amper so ek sê jislaaik ek mis die strate van Parys—kaantie het ek nog nooit voet in die buiteland gesit nie. Iemand het onlangs gevra of ek dalk asexual is. Hoe weet ’n mens wanneer jy asexual is? Volgens Healthline is ’n aseksuele persoon iemand wat min tot geen seksuele aangetrokkenheid tot ander ervaar nie. Dit is glad nie hoe ek identifiseer nie.
’n Gesprek vir ’n ander dag is ons, vroue, se verhouding met ons liggame. Vir so lank as wat ek kan onthou, is ek gebombardeer met hoe ’n meisie moet lyk, en ek het net nooit by daardie prentjie gepas nie. Hierdie patriargale samelewing het besluit dat vroue teen ’n sekere ouderdom sekere mylpale soos trou en kinders kry al behaal het, anders is hulle oujongnooie wat vir ewig op die rak gaan sit. Dit is so ’n geweldig vervelige idee, want so what?! So what as ek vir ewig op die rak sit? Dis lekker hier. Dis lekker om autonomy oor my liggaam te hê (soveel soos wat ek kan in hierdie land), en dis lekker om my mind self te kon opmaak oor goed. Ek is nie meer die Mercy wat in die pastoriegange op en af gehardloop het nie, ek is ook nie meer die Mercy wat geglo het haar eerste soen gaan eendag voor die kansel saam met haar man wees nie. Ja, ek is byna 30, en dit maak my benoud. Maar nie omdat ek nog nie seks gehad het nie, bloot omdat ek gedag het teen 30 sou ek al gereis het, ’n doktor wees, my eie besigheid run! Seks is ’n bysaak.
Op ’n meer ernstige noot…
Ons liggame is onder beleg. Indien jy as vrou in die hedendaagse Suid-Afrika vir jouself kan besluit, is jy een van die gelukkiges. En hoe depressing om so daaroor te moet dink. Maar, die realiteit is dat die geweld teenoor vroue in Suid-Afrika eintlik as ’n noodtoestand geëtiketteer moet word.
Nathan Trantraal is ’n digter, rubriekskrywer, resensent en visuele kunstenaar. Hy is die skrywer van die boeke Chokers en Survivors (2013), Alles het niet kom wôd (2017), Wit issie ’n colour nie (2018) en Oolog (2020), en ’n illustreerder van die grafiese romans Stormkaap (2008), Coloureds (2010), Crossroads (2021) en All Rise (2022).
Aankondiging van Bibi en Azille: Hiermee moet ons ons lesers ook laat weet dat hierdie die laaste Turksvy brief is vir nou. Dit is egter nie die einde van die projek nie, meer ’n oorgang, daar is nuwe dinge op pad. Ons sê solank verskriklik baie dankie aan al ons getroue en entoesiastiese lesers en al die kunstenaars en skrywers wat Turksvy moontlik gemaak het, maar ons skryf binnekort aan julle met meer inligting oor wat volgende is vir ons. XXXXX