Net ’n brief vir jou / ’n Brief net vir jou
Isolde de Villiers is ’n regsdosent wat vanuit ’n feministiewe invalshoek navorsing doen oor stede en ruimtelike geregtigheid. Die kuns in hierdie brief is deur Louiza Combrinck.
Liewe Bibi
Ek hoop dit gaan met jou goed. Ek het begin om te probeer om ’n Turksvy-bydrae te skryf, maar voel geheel onbeholpe om my stem by die ander bydraes in hierdie lieflike versameling te voeg. Jy en Azille het so ’n wonderlike versameling hier curate. Dankie. Dit is te oorweldigend om te dink ek moet ’n betekenisvolle bydrae skryf. Maar dit is ook nooit lekker om iets te begin en nie klaar te maak nie en om nie ’n belofte na te kom nie. So tussen-in die gesukkel, het ek maar net besluit om ’n brief vir jou te skryf. As ek dink ek skryf ’n brief vir jou, is dit iets wat ek baie graag wil doen en makliker kan doen. ’n Brief in Afrikaans, 'n feministiese brief.
My kop en lewe is tans so vol van besluite wat tegelykertyd onbenullig is maar lewensbelangrik voel: soos waar en wanneer ek hoe en saam met wie wil en gaan woon in die tweede semester. Ek moet reeds 1 Augustus begin en gaan die tweedejaars by UWC regsfilosofie leer. So ek tob en tol die heeltyd tussen property24 en Airbnb rond en wonder oor waar en hoe mens tuis voel terwyl ek probeer afskeid neem van en ontwortel uit ’n dorp wat ek nooit gedink het my so sal omarm nie. Hier is mense vir wie ek baie lief geword het, ’n eenvoud en pretensieloosheid van bestaan wat nie noodwendig mens laat groei nie, maar baie gerieflik en gemaklik en angst-vry is. Opsigself ’n goeie rede om maar deur die afskeid en ontworteling te gaan.
Die brief wat ek wou skryf, voordat dit ’n brief net vir jou geword het, begin juis met Kaapse winterweer in Bloemfontein:
As ek nie ’n drie-jarige gehad het nie, en as dit nie gesous het in die middel van die winter in Bloemfontein nie (albei ewe onwaarskynlik, afhangend van hoe jy daarna kyk), dan sou ek seker nie die nuwe Little Mermaid-film gaan kyk het nie. Ek is baie bly ek het.
Die aankondiging van Halle Bailey as Ariel in 2019 het baie, hoofsaaklik rassistiese, kritiek uitgelok. Ná die vrystelling van die film vanjaar in Mei, lyk dit asof die film die teiken van ’n sogenaamde resensie-bom is. Volgens die webtuiste, Internet Movie Database (IMDb), het hulle ’n oorweldigende hoeveelheid negatiewe verslae oor die film gekry wat deur bots gegenereer is. Daar is ’n mooi oomblik aan die einde van die film, net ná die troue van Ariel en die prins, waar sy vir ’n ruk lank staar na die water, asof sy klaar weet sy gaan ook terug verlang na haar lewe onder die see, en reeds besef dat sy die patriargie van haar pa bloot verruil het vir die patriargie van haar man. Dat sy vry sou wees bo die water was ’n illusie. As wit klein meisietjie was ek (natuurlik) mal oor die 1989 Little Mermaid-film. Ek was vyf jaar oud met Disney se oorspronklike film, en dit vorm ’n sterk deel van my voorskoolse herinneringe. Wou ek ooit met ’n prins trou? Ag nee wat, maar ek wou beslis onder water kon asemhaal.
’n Paar weke gelede vra ’n vroue-studente-organisasie, FALAS Female Forum, vir my om vir regstudente ’n Vrydagmiddag-werkswinkel oor skryfvaardighede aan te bied. Ek besef dat ek nie met studente oor skryf kan praat sonder om die elektroniese olifant in die lesinglokaal aan te spreek nie—chat bots.
Sedert die begin van hierdie jaar is AI ’n seekat-tentakel wat in die gange van die akademie en elke onderrig-en-leer-vergadering inkruip. In ’n taal-gebaseerde dissipline, soos die reg, krap ons omtrent kop oor wat hierdie nuwe tegnologie beteken, nie net vir die rol van regsgeleerdes in die samelewing nie, maar ook vir wat die reg is en hoe dit uiting in taal vind en wat die rol van regsonderrig is om hierdie by studente tuis te bring. En hoe doen mens dit? Die regstelsel illustreer hoe taal verhoudinge produseer en her-produseer. Reaksies in my departement op chatGPT se gesels-robot wissel van opportunistiese pragmatisme (“Ons moet dit omhels en tot ons voordeel gebruik om dit makliker te maak om te publiseer. Mens kan die assistente vra om die navorsing te doen en dan ’n ghost writer kry om die artikel te skryf. Siedaar!”) tot samesweringsteorie skeptisisme (“Ons moet hierdie ten alle koste teëwerk en selfs verban, anders gaan AI al ons werk vat”). Iewers tussen hierdie twee pole van reaksie, moet mens studente toerus om sin te maak van wat dit is om te skryf, wat taal is, dat die reg vasgevang is in taal en daarom altyd plooibaar en interpreteerbaar is en dat oordeel nie bloot ’n wiskundige berekening is nie.
Toe ek hierdie onderwerp vir eerstejaars moes leer, in my jare as jong dosent, het ek altyd ’n wonderlike kort artikel, getiteld “Why Write?” deur Karin Van Marle in ons studente-joernaal gebruik. “How to respond to the question Why write?”, begin sy, “And the question, I hasten to add, Why read?.” Via John Caputo, Max Weber, Giles Deleuze, Freidrich Nietzsche, Marianne Constable, Anthony Kronman en Antjie Krog spoor sy studente aan om die vraag “waarom skryf” te omhels, nie net as ’n wyse om in die reg te leef nie, maar om sin te maak van ons lewens in die wêreld. Om daarom, beroep sy, wyer te lees en wyer te skryf as wat die kurrikulum van studente verwag. Skryf (en lees) nie net opstelle, kantoormemoranda, skripsies, hofsaakopsommings nie, maar ook gedigte, stories, songs. Ek wend my dus tot letterkunde om hierdeur te dink. ’n Vriendin en kollega stel voor dat ek Bot van Carien Smit lees. Ek lees weer Kazuo Ishiguro se Klara and the Sun, ek trek weer Willem Anker se Skepsel nader. My mentor verwys my na Rèné Eloff se Litnet-stuk. Stuk-stuk begin iets vorm aanneem.
Mens skryf omdat mens iets het om te sê. Of altans, dit is hoe dit veronderstel is om te werk, hoor ek by ’n (eintlik waardevolle) sessie wat daarop gemik is om academics te help om te dink oor publikasies. Eintlik waardevol, omdat dit nie net gemik is op produktiwiteit en getalle nie, maar die aanbieder mooi praat oor die motivering om te skryf. Ek weet nie of ek iets het om te sê nie. Soms skryf ek ook maar net om sin te maak van hierdie lewe. Een van die redes waarom dit moeilik is om te skryf, is omdat dit dikwels voel of ek nie juis iets het om te sê nie, of dat wat ek wil sê parogiaal, onbenullig, self-indulgent, te abstrak en obskuur is. Dit bly maar net ’n moeilike proses. Ek verduidelik vir die studente dat dit goed is om by ’n Female Forum hieroor te praat, want dit is juis die aspekte van empatie en emosie en verhoudings, aspekte wat tradisioneel as vroulik beskou is en vroulik-gekodeer is, wat afwesig is in die wiskundige produksie van taal via ’n rekenaarprogram.
Die FALAS-studente verwelkom almal. Hulle staan bekend as ’n “Female Forum”, verduidelik die span wat voor in die lesinglokaal in ’n ry staan. Sommige het Minnie-muis-ore op hulle koppe, almal dra wit kraaghemde en swart broeke of rompe. In die teenwoordigheid van manlike en manlik-identifiserende studente, dans die organiseerders versigtig rondom die feit dat die forum spesifiek daarop gemik is om vroue, en die wat identifiseer as vroue, te bemagtig om hulself in die korporatiewe wêreld (wat?!) te kan handhaaf. Hoe het ek hierdie deel in die uitnodiging gemis? Ek maak ’n nota, “corporate world”, op my aantekeninge, en ook ’n nota van die feit dat die spreker aanhalingstekens met haar vingers maak wanneer sy “corporate” sê. My gedagtes gaan na my tyd as ’n regsklerk in ’n “korporatiewe” firma. Ek het nooit probeer om op hoë hakke te balanseer nie, maar daar was beslis ’n verwagting dat mens hakke moet dra kantoor toe. Wanneer jy hof toe moes loop of pleitstukke gaan beteken, moes jy ’n paar pumps uit jou handsak (nog iets wat ek veronderstel was om te hê, maar nooit aangeskaf het nie) te voorskyn bring en weer grasieus jou hakke aanglip wanneer jy oor die kantoor se drumpel loop. By ’n onlangse gradeplegtigheid waar ek was het ’n hele paar van die vroue-studente kaalvoet oor die verhoog geloop, ná ’n uitnodiging om so te maak as hulle dink dat die hakke wat hulle op die dag aanhet, hulle nie gaan toelaat om veilig en waardig oor die verhoog te loop nie. Terwyl ek nou in hierdie Female Forum sit, wonder ek tot watter mate hierdie beeld van sukses in die korporatiewe wêreld hierdie studente se skoenkeuses beïnvloed op die dag wanneer hulle harde werk en toewyding, te midde van al die uitdagings wat hulle as studente het, in die vorm van ’n institusionele seremonie (uiteindelik) erken word. In regstudente se eerste jaar lê hulle by hierdie universiteit ’n eed af om die kultuur van die professie te onderhou. Getrou aan die eed wat die siklus van formaliteit in die regsprofessie voortsit, is hulle dan ook almal uitgevat in swart-en-wit korporatiewe hofdrag en onbegaanbare hakke. Vanjaar is dit 100 jaar sedert die eerste vrou in Suid Afrika tot die regsberoep toegelaat is, ingevolge die Women Legal Practice Act 7 of 1923. Die aanneem van hierdie wetgewing is voorafgegaan deur die saak van Incorporated Law Society v Wookey, wat in 1912 in die Appèlhof aangehoor is. Wookey het aansoek gedoen om haar klerkskap te registreer en die prokureursorde het die registrasie op appèl geneem. Die appèl is gehandhaaf, met drie van die regters wat saamgestem het dat die wetgewing op daardie stadium bepaal dat “persone” tot die regsprofessie toegelaat kan word, en, aangesien die omskrywing van “persoon” nie vroue insluit nie, vroue nie tot die regsprofessie toegelaat kan word nie. “Wanderin' free—wish I could be, part of that world”. Hoewel daar nou veel fees gevier word ná (slegs) 100 jaar van vroue in die regsprofessie, is die vraag eerder wat die impak van vroue was op die regsprofessie. Het die aard van die reg daadwerklik verander, of is vroue bloot geassimileer in die regswêreld in?
In die oorspronklike Hans Christian Andersen-storie val die klem minder op die prins en die klein meerminnetjie se obsessie met hom en die objekte in sy wêreld, maar eerder op die strewe na ’n onsterflike siel. Mense, vertel die meerminnetjie se ouma, verwerf die ewige lewe, terwyl meerminne, wie weliswaar baie langer leef en tot 300 jaar oud kan word, maar net in seeskuim verander wanneer hulle sterf. Die meerminnetjie, verduidelik die seeheks, kan die ewige lewe beërwe as die prins waarlik op haar verlief raak. Dan sal sy ’n mense-siel kry. Hiervoor het sy natuurlik voete nodig. Anders as in die Disney-weergawe, waar Ariel aanvanklik net bietjie onvas op haar nuwe voete is, gaan die voete wat die seeheks vir die meerminnetjie in die sprokie gee met ’n verskriklike pyn gepaard. Dit voel of sy op skerp mespunte trap en haar voete bloei wanneer sy loop. Sy is vooraf gewaarsku. Die seeheks het dit presies so aan haar verduidelik. Nie net neem die heks haar stem weg en stoor dit in ’n skulp rondom haar nek, soos in die Disneyfliek nie, maar in die sprokie sny die heks die meerminnetjie se tong heeltemal af, sodat sy vir ewig geheel en al stom is. In die eerste jaar van my leerklerkskap by die korporatiewe firma, woon ek ook my gradeplegtigheid by. Op ’n uitverkoping koop ek skoene wat ’n sensible sense of occasion uitstraal. Hulle het darem ’n hak, maar ook ’n bandjie bo-oor die voet, so ek sal kan hardloop in hulle (wanneer ek hulle ná die tyd aantrek kantoor toe en op ’n hof-uitstappie gestuur word). Die binnesole van daardie skoene, onthou ek nou, was bloedrooi. Ek wil vir hierdie studente van die Female Forum vertel van hoe die meerminnetjie haar stem opoffer vir seer voete, maar dit is die Vrydag voor die reënerige Woensdag waarop ek met my kleuter die nuwe Little Mermaid gaan kyk, so ek hou by my notas en praat oor skryf en stem en lyf en ChatGPT. Ek praat oor Donna Haraway se Cyborg Manifesto. As mens vir ChatGPT vra om ’n feministiese perspektief oor die gebruik van AI te skryf, fokus dit hoofsaaklik op die inherente vooroordeel wat in die sisteem ingebou is en die voortsetting van diskriminerende praktyke. Haraway sien dit aan die ander kant weer as ’n moontlikheid om die sisteem te ontsnap. Voetnota: oor die algemeen bevraagteken Haraway se werk tradisionele onderskeide tussen wat as “natuurlik” en wat as “kultureel” geag word. Haar argument vereis dat mens hibriditeit erken in dinge wat gelyktydig natuurlik en kultureel, natuurlik en tegnologies, menslik en nie-menslik, materieel en semioties, is. Vir Haraway is die beeld van die Cyborg ’n manier om die doolhof van dualismes waarin ons vasgevang is, te ontsnap. “It means both building and destroying machines, identities, categories, relationships, space stories”, skryf sy. Hierdie positiewe lees van AI moet onderskei word van die opportunistiese reaksie van kollegas wat dit wil gebruik om hulle navorsingsproses te vervang en te vergemaklik.
Nog voordat ek begin met my aanbieding, besef ek dat die punte wat ek voorberei het, nie strook met die gees en strekking van die seminaar nie. Met die korporatiewe milieu as vertrekpunt, gaan my kritiek van ’n verbruikersbenadering tot kennis en die funksionalistiese, transaksionele benadering tot leer, nie goed ontvang word nie. Die Female Forum word geopen in ’n girl-power trant: “There is no limit to what you as a woman can achieve. Your power is within you”. Terwyl hierdie strook met die bemagtiging-oogmerke van die forum, bevorder dit ’n individualistiese benadering wat, hoewel dit goed sal werk in ’n korporatiewe omgewing, die belang van weerloosheid, menslikheid en nederigheid misken. Is dit nie juis ons menslikheid wat ons onderskei van AI nie? Tydens ’n fokusgroep bespreking oor “Sustainable Universities” gee ’n kollega my ’n goeie idee vir hoe om te voorkom dat AI die onderrig-en-leer-proses ondervang. “Ek staan bekend as die Vader Krismis in my departement”, verduidelik hulle. “Ek gebruik die volledige merkskaal; vanaf 0% tot 100%. Ek skroom nie om 100% te gee vir goeie werk van ’n student nie”. Ek besef dan dat ek, wat meestal 75% vir goeie werk, en in absolute uitsonderings 80% vir uitstekende werk, gee, verwag dat studente perfekte werk moet lewer—asof dit deur ’n masjien vervaardig is. Die verandering gaan dus by my ook moet plaasvind—ek gaan menslikheid moet beloon.
Ariel verruil haar stem vir voete, om gehoor te word vir die vermoë om op haar eie voete te staan en plek op te neem in die wêreld daar bo. Wat vereis dit om mensself te laat geld? Seker maar beide stem en voete. Om skryf op te gee, of in die hande van ’n gesels-robot te los, is om vir Ursula jou stem in ’n skulp te vang, in ruil vir iets wat soos vryheid lyk. Dit is wat ek vir die studente by die Female Forum wil sê, noudat ek die Little Mermaid gesien het. Ek weet dat ek ook skryf om my eie posisie te her-oorweeg, om my beperkinge en grense te konfronteer eerder as om te glo dat daar geen perke is aan wat ek kan vermag nie.
Op pad terug van die film, wonder ek wat is die gender-idees wat die oorgemaakte Little Mermaid-film produseer in ’n jong verbeelding wat steeds besig is om te wonder hoe die wêreld werk. Bekommerd dat tradisionele gender-rolle eintlik reeds vasgelê is en my poging om die slegte weer te ontsnap deur te gaan fliek dit net verder versterk, pols ek my drie-jarige ter wille van my eie wroeging.
“Het jy die film geniet?”, vra ek na die karstoeltjie se kant toe.
“Ja, maar die haai was ’n bietjie scary”.
Dankie Bibi, dat jy geduldig gewag het op die brief. Dat jy my uitgenooi het om minstens te dink oor my stem. En my voete.
Mooibly, ek sien jou baie binnekort in die Kaap.
xx
i
Louiza Combrink is ’n beeldende kunstenaar, navorser en meestersgraadstudent aan die Universiteit van die Vrystaat. Haar kunspraktyk sluit verskeie media, soos skilderkuns, video- en digitale fotomontage en Kunsmatige Intelligensie-beeldgenerering in. Sy ondersoek sensuele ervaringe van landskap, horison, ruimte, en ruimtetyd, asook die koloniale blik in Astro-beelde van Mars en die buitenste ruimte. Verdere navorsingsbelange sluit temas in wat verband hou met die kunstige verbeelding, die verwondering, ontdekking, en verkenning van land en lug, asook die historiese afbakening en besit van grond in Suid-Afrika.