Neon Smoel: Azille Coetzee gesels met Marí Borstlap oor haar nuwe toneelstuk
Cowboy Mouth (1971) is ’n toneelstuk wat Sam Shepard en Patti Smith in die loop van ’n paar slapelose nagte geskryf het, as ’n manier om te probeer sin maak van hul verhouding en, het Patti later gesê, amper as ’n ritueel wat dit vir Sam sou moontlik maak om haar te kan verlaat. Die toneelstuk gaan oor ’n man en ’n vrou, Slim en Cavale, saam in ’n woonstel in ’n stad in die nag. Hulle is jonk en wild en verlief, en hulle takel mekaar af. Sy hou hom gyselaar, weg van sy vrou en kind af, want sy sien iets in hom, het ’n droom vir hom: hy kan ’n ster wees, sy kan hom een maak—mense het weer iets nodig om in te glo, sý het iets nodig om in te glo. Sy vertel vir hom stories van rock ‘n roll legendes en Franse digters om haar visie aan hom verstaanbaar te probeer maak, hulle baklei en hulle het seks en soos wat die nag aangaan kom al die wiele af.
In 2022 in Suid-Afrika, verwerk, vertaal en verplaas Marí Borstlap hierdie stuk en voer dit op in ’n klein onafhanklike teater in die Kaapse middestad, saam met medespelers Ben Albertyn en Gérard Rudolf.
Borstlap se Neon Smoel speel af in ’n woonstel in Hillbrow in die nag. Slim (gespeel deur Albertyn) en Kaval (Borstlap) is jong wit Afrikaners in postapartheid Suid-Afrika vir wie die middelklas verbruikerskultuur en die afleiding van die internet geen verligting bied nie. Teen Kaval se muur is foto’s van Thom Yorke, Kurt Cobain en Debbie Harry geplak, maar ook van Francois van Coke, Johannes Kerkorrel, Koos du Plessis, Brenda Fassie en Karen Zoid—dit is net in rock ‘n roll en die verset en poësie en soeke wat dit verteenwoordig waarin sy betekenis kan vind, die moontlikheid van lewe en beweging kan sien.
In Borstlap se Kaval sien mens die gedisillusioneerdheid waarmee ons generasie wit Afrikaners sit in ’n postapartheid konteks waarin ons toenemend gekonfronteer word met die sondes van ons vaders en vervreem voel van die kultuur wat ons gemaak het wat ons is. Kaval se verbeeldingsvlugte word gedryf deur ’n soeke na voorouers in wie ons kan glo, maar ook ’n diep geloof daarin dat daar ander maniere moet wees waarop ’n mens kan leef, ’n toewyding tot en aandrang op ’n ander soort toekoms. Aan die begin van die stuk lees hierdie impuls en die dringendheid daarvan soos geestesversteurdheid (iets wat ook geïmpliseer word deur die dialoog), maar teen die einde (te danke aan Borstlap se genuanseerde en kragtige spel en haar fyn verwerking van die teks) glo ’n mens sáám met Kaval dat daar iets meer, iets anders, móét wees, en sit jy in diep bewondering vir haar visie en haar dapperheid, voel jy hartseer oor hoe betekenisloos ons wêreld voel, maar hoopvol (vir die eerste keer in ’n lang tyd) dat dinge anders sou kon wees.
Borstlap se weergawe van hierdie toneelstuk is feministies op maniere wat die oorspronklike weergawe nie is nie (of miskien animeer haar vertolking die feministiese gewig van die stuk op ’n manier wat ek nie voorheen kon sien nie). Sy bied ’n meditasie oor vroulike kunstenaarskap (oor die algemeen maar ook binne heteroseksuele verhoudings), oor vroulike genealogie, oor die krag van stories, die moontlikheid om ander wêrelde te verbeel, oor vryheid as iets wat in verhouding bestaan en noodwendig gepaard moet gaan met die beperkinge van sorg. Sy stel hierdie vrae binne die spesifieke konteks van hierdie tyd en plek, en hierdie wit Afrikaanse kultuur.
Hier volg my gesprek met haar:
AC: Hoekom hierdie stuk vandag? (Dit is ’n onverwagse keuse, maar ek was so verras met hoe goed dit pas—hoe jy ’n stuk wat in 1971 in Amerika geskryf is, kon verwerk en vertaal om so sterk iets van ons oomblik te sê).
MB: Ná byna drie jaar van so te sê geen geleenthede om werk te skep nie (weens die pandemie en die nadraai daarvan) het daar ’n diepe terneergedruktheid oor my gedaal. Einde 2021 het ek regtig gesukkel om te sien hoe ek ooit weer sal kan werk as teatermaker. Behalwe vir die pandemie het ek ook tot ’n groot mate my loopbaan op ys gesit toe my dogter, Fleur, gebore is. Dit was my keuse om soveel as moontlik hands on teenwoordig te wees vir haar in die eerste ses jaar van haar lewe, maar ek het een oggend vroeg in 2022 wakker geword en besef ek voel asof ek stadig besig is om dood te gaan weens ’n tekort aan kreatiewe uitdrukking. Alhoewel ek met erns en opregte toewyding op ander goed kon fokus (hoofsaaklik diepe persoonlike introspeksie en herprogrammering, asook die vestiging van my energie-genesingspraktyk) was ek uitgehonger vir skep en vir ’n uitdaging! Ek wou iets skep wat praat oor alles wat in my beweeg, maar ek wou nie direk praat oor dit wat tans in die wêreld uitspeel nie. Ek was desperaat op soek na ’n storie of ’n mite waardeur ek kon ontsnap/ontvlug, maar wat steeds betekenisvol en die energie werd sou wees om te vertel. En toe op ’n dag, in my kar op pad na my dogtertjie se skool, dink ek aan Cowboy Mouth en hoe dit die soort stuk is wat ek wens ék nou kon skep. En regtig asof weerlig my tref kom die idee om dit te vertaal en te verplaas. Dit te gebruik as ’n tuig. Die ingeperktheid van die stuk spreek tot die inperking wat ons almal ervaar het tydens die pandemie, maar dan is daar ook die kompleksiteit van verhoudings wat sentraal staan, die vraag “waar sal ons hup vandaan kom?”, ons soeke na iemand om te volg of wat ons sal lei, geestesgesondheid, die impak van kinderdagtrauma op hoe ons as volwassenes funksioneer—al dan nie.
En dan is daar natuurlik die feit dat ek rock ‘n roll musiek lief. Ek kon in daardie oomblikke aanvoel dat ek myself moontlik uit die ‘dood’ kan opwek as ek myself regtig uitdaag deur dit nie net te vertaal en te verwerk nie, maar deur self Kaval te vertolk. Net die gedagte om dit te doen het my al vreesbevange gemaak, maar terselfdertyd totaal lewendig laat voel. Iets omtrent my persoonlike soeke na uitkoms was so in pas met wat Kaval as karakter in haar essensie verteenwoordig. En toe weet ek, ek moet ten minste probeer. Ek glo toneelstukke is lewendige wesens. En hierdie stuk het ’n baie spesifiek siel. Die stuk is soos ’n soort ritueel. Amper asof mens ’n sirkel om jouself trek waarin iets transformerend gaan plaasvind as jy braaf genoeg is om met die teks te werk. Die stuk vra mens om te laat gaan van al jou illusies en oordele. Jy moet pens en pootjies oorgee, want die stuk is soos ’n grot en jy moet diep in jou eie donkerte afsak voor jy by goud uitkom. En ek dink ons is as kollektief ook nou daar. Ons moet ons eie verfoksel vir goed in die oë kyk en moontlik kan ons dan met meer deernis en wysheid teenoor mekaar en onsself leef. Dit is ten minste hoe ek dit beleef het.
AC: Kaval is op soek na iets om in te glo, sy is opsoek na ’n nuwe messias en probeer Slim oortuig dat hy dit kan wees. Onwillige Slim vra haar hoe dit sal werk en Kaval antwoord: “Jy moet dit versamel. Jy moet uitreik en al die versplinterde skerwe, al die gebreekte stukkies van mense se frustrasie probeer vasvang. Tikkun Olam, bokkie! Die herstel van die opgefokte Heelal. Al die dinge wat mense laat soek na ’n uitweg of, meer belangrik, die dinge wat hulle aanspoor om diep binne-in hulself te kyk. Verstaan jy? Die goed wat maak dat mense God se gesig wil sien. Jy moet al hierdie dinge versamel en dit dan in jouself instort … net om dit dan weer alles uit te stort. Maar die uitstort moet groter wees as die lewe self. Jy moet onselfsugtig wees, Slim. Nie selfsugtig soos God nie. God het ons lankal vergeet. God is nie ’n performer nie. Maar jy is.” Dis in rock ‘n roll wat Kaval soek na iets of iemand om in te glo. Dit is besonder gepas ook in die Afrikaanse konteks, waar musiek—tydens en ná apartheid—’n belangrike medium van verset en kollektiewe introspeksie is. Wil jy iets hieroor sê?
MB: Musiek is so kragtig. En veral rock ‘n roll. Dit is ’n uitlaatklep vir ons kollektiewe woede, angs, maar ook vir ons begeertes en wildste drome. ’n Goeie rock song is shamanisties, as jy my vra, want dit ontketen en transformeer. Dit praat die waarheid. Die naakte, soms lelike, waarheid, maar as kunstenaar is dit presies waarin ek belangstel. Die waarheid, egtheid en weerloosheid. Ek glo ons sal beter vaar, individueel en kollektief, as ons meer gereeld bereid is om stories oor hoe ons regtig voel en lyk en klink te vertel. En stories oor ons donkerte hoef nie noodwendig altyd ernstig te wees nie. Ons moet leer lag vir ons menslikheid. Ek as mens is tans so intens besig om myself doelbewus te stroop van kulturele kondisionering en rock ‘n roll is ’n wonderlike terpentyn … Ek het lank en hard gedink oor wie ek kan gebruik as held vir die verplasing van die stuk en Johannes Kerkorrel het moeiteloos vorentoe getree om daardie rol vol te staan. Kerkorrel se liedjies en lirieke is soos straatligte binne-in my gedagteruim. En ek vermoed dit is die waarheid vir meetse Afrikaners. Hy was beslis ’n uitgesproke anti-Aparthiedsaktivis, maar hy het ook gesing oor ons kollektiewe pyn, oor wat vir ons mooi is, waarvan ons droom, waarvoor ons bang is as Suid-Afrikaners en selfs as die mensdom. Hy was beslis ’n profeet maar ook ’n kavalier.
AC: Waarin kan ons vandag glo?
MB: Ons moet ophou soek na iets of iemand buite ons om in te glo. Ek glo alles wat ons nodig het om beter mense te wees is diep binne-in onsself opgesluit. God is in ons en ons is in God. En die sleutels tot daardie plek, daardie plek binne-in onsself, is liefde, weerloosheid en vergifnis. Dit klink dalk onverwags, maar ek vermoed as ons die morsigheid van menswees kan omarm en lief kan word vir onsself en ons medemens ten spyte van die mistroostige stand van sake in die wêreld (en in ons binnewêrelde) dan mag ons dalk minder verlore voel. Ons moet laat gaan van die ouwêreldse operating systems wat eenvoudig out dated is. Niemand gaan ons kom red nie. Ons moet onsself red van onsself. Die ou manier van “kyk noord en fok voort” is glad nie meer ’n antwoord nie. Nee! Ons moet stil word en asemhaal en besef dat solank vrees die narratief bepaal en oorheers staan ons nie ’n kans nie. Ek het probeer om juis dit in Neon Smoel aan te spreek. Rock ‘n roll is Kaval se laaste hoop, tot sy aan die einde besef sy kan haarself doop, oftewel herdoop. Sy kan haarself red. Soos in die beeldskone verhaal van die heilige Thecla wat dit 2000 jaar gelede ook uitgefigure het…
AC: Kaval het ’n muur vol foto’s van rock stars waarna sy keer op keer terugkeer, dis asof sy soek na ’n soort genealogie vir haarself, ’n soort ancestry, maar sy kry net mans in Afrikaans, behalwe vir Karen Zoid wat “steeds probeer”, maar “net ’n vrou is”. Daar is Brenda Fassie in isiXhosa en Debbie Harry in Amerika, maar in Afrikaans is daar niemand nie. In hierdie konteks kan Kaval nie self die rockster van haar drome word nie, sy weet dit, sy moet ’n manlike ster skep waarin sy kan glo. Wat sê dit van vroulike kunstenaarskap in ons konteks?
MB: Ek dink hierdie kondisionering, oftewel programmering, dat net mans die wêreld kan red, loop soos ’n ondergrondse rivier in ons psige. Die aanslag van die media en ons kulturele kondisionering is vandat ek my oë oopgemaak het ’n narratief wat vroue as besonders kwesbaar en magteloos uitbeeld. Amper asof ons uit die staanspoor uit slagoffers is en net ’n man (of Jesus) ons kan red, beskerm en lei … Ek weet nie hoe om dit te verklaar nie, maar ek het nog altyd gesukkel om in daardie narratief te glo. Dit nou ten spyte van die feit dat ek in Bloemfontein gebore is in die middel-tagtigs, dat my pa ’n N.G.-predikant was en ek eers op veertien leer Engels praat het. Ek het wel intuïtief gewéét daar is iets skort met dié storie. Maar snaaks genoeg wou ek dit nie regstel deur mans en manlikheid en wat hulle het om te bied te verwerp nie. My droom was nog altyd balans. Integrasie. Ek droom van ’n wêreld waar vrouens hulle innerlike (heilige) manlikheid kan erken, verken en uitleef. Asook ’n wêreld waar mans hulle innerlike vroulikheid kan omarm. Dit hou natuurlik hande vas met Jung se beginsel van die animus en anima. Hierdie argetipes lê verberg in ons onderbewussyn (individueel en kollektief). Die bevryding het egter vir my gekom toe ek as vroulike kunstenaar doelbewus met hierdie onderstrominge begin werk en skep het. Kaval probeer vir Slim in ’n rock ‘n roll Jesus verander want sy is hiper bewus van die feit dat die Afrikaner nog nie reg is vir ’n vrou om hulle te red nie, maar sy droom daarvan om self ’n heilige te wees. Sy sê dit ook prontuit in die stuk. Dus is dit nie asof die moontlikheid nie reeds in haar bestaan nie. Dit doen. En soos die stuk uitspeel gebeur iets in haar binnelandskap. Sy omarm die moontlikheid dat sy al haar kennis en passie en talente en krag nie deur iemand (Slim/’n man) hoef te kanaliseer nie, maar dat sy sélf die spreekbuis kan wees …
AC: Ek dink Kaval dink nooit aan haarself as muse nie, eerder as ’n soort tussenganger. Of wat dink jy? As vroue neem ons so maklik die rol en werk van muse op. Wat is jou verhouding daarmee?
MB: Snaaks hoe Slim kort-kort in die teks insinueer dat Kaval oor towerkragte beskik. Dat sy hom getoor het. Hy noem haar selfs ’n heks aan die einde wanneer sy haar geloof in hom verloor. As sy so te sê haar towerspreuk oor hom verbreek. Die oomblik toe sy nie meer in hom glo nie, verloor hy sy krag. Slim het bloot nie die kapasiteit om Kaval as muse te erken nie. Haar visie en krag en inspirasie is eenvoudig bo sy vuurmaakplek. Maar omdat hy dit kan aanvoel en gereeld bedwelm word deur haar vermoë om deur stories sy potensiaal uit te lok, skryf hy dit toe aan iets boos en dit is die narratief waarteen ons as vroue al vir eeue moes veg. Kaval is ’n orakel eerder as ’n muse, as jy my vra. Sy is in kontak met die kollektiewe onderbewussyn, maar, soos ons weet, is hierdie onderwêreld simbolies en koorsdroomagtig en dit is hoekom sy dalk op die oog af as geestesversteurd kan voorkom, maar eintlik is sy bloot braaf genoeg om haarself oop te stel vir dit wat versteek lê om na die oppervlak te kom.
AC: Kaval glo dat Slim dit in hom het om ’n ster te wees, sy sien iets in hom en dis tot ’n groot mate die fondasie van hul verhouding. Hy is kwaad vir háár omdat hy nie alles is wat sy in hom sien nie, maar terselfdertyd kan hy nie haar droom weerstaan nie, wíl hy gesien word soos wat sy hom sien. Dit is vir my so ’n herkenbare dinamiek van heteroseksuele verhoudings. Wil jy bietjie hieroor praat?
MB: Dit is vir my so herkenbaar, ja. Maar ons is letterlik deur ons Afrikanerkultuur opgelei om hierdie rolspel te vervolmaak. Dit het my al soveel pyn in my eie verhoudings berokken oor die jare. Ek dink dit is omdat hierdie set-up vroue vasvang in die ma-argetipe. Afrikanervrouens voel verplig om hulle mans te baby. Hulle sal vir jou sê dis hulle manier om hulle liefde te betoon of hulle dien deur te versorg, maar ek twyfel sterk of dit op die diepste vlak die waarheid is. Daar is aan ons almal vertel dat ’n man net kan floreer solank daar ’n ondersteunende vrou agter hom staan wat haarself en al haar drome opoffer vir die saak. Dit is natuurlik totale bog, want die konstante fokus op die man se potensiaal asook die druk wat dit op die man plaas om te presteer lei meestal net tot uitputting en onderdrukte woede in albei partye. Die ideaal is natuurlik dat daar ’n skuif moet plaasvind wat bepaal dat daar ’n vrou agter elke man én ’n man agter elke vrou staan. Ek dink egter ons is kollektief in ’n regstellende periode wat dié kwessie betref. Die balans was so uit met die patriargale dominansie dat die pendulum nou eers behoorlik na die teenoorgestelde kant moet swaai voor dit stadig maar seker hopelik kan terugkeer na ’n middelpunt, ’n plek van balans en integrasie, toe. ’n Plek van ware gelykheid.
AC: Die magsverhouding is so interessant—sy is so kwesbaar maar daar is ’n vlak waarop sý die een is wat in beheer is, sy hou hom gyselaar met haar droom vir hom. Jy stel Kaval sentraal in die stuk, in jou verwerking is dit ’n soort portret van ’n vrou wat vicariously (plaasvervangend? middellik?) leef deur die mans rondom haar, wat soek na iets om in te glo, ’n vrou met ’n diep wantroue in tegnologie en verbruikerskultuur, ’n vrou wat ongelukkig is, wat probeer om op haar eie terme te leef. Wat is dit aan Kaval wat jou aangetrek het?
MB: So baie van Kaval het ek vir so lank as ’n soort geheim binne-in my rondgedra. En dit was so onbeskryflik bevrydend om stadig maar seker deur hierdie proses myself toe te laat om die Kaval in myself te omarm. Haar Boogskutter-gees is vir my ’n groot inspirasie. Sy is ’n ware truth seeker! Sy delf diep, sy kyk haar monsters en wonde in die oë. Sy ly nie aan ontkenning nie. Sy is vir my so ’n mooi voorbeeld van waarna daar in die gnostiese evangelie van Maria Magdalena verwys word as die anthropos: volwaardig mens, maar ook volwaardig heilige, reeds omdat sy nie haar feilbaarheid, tekortkominge, neurose en/of donkerkant misken nie. Mens sal ’n groot fout maak as jy dink Kaval is waansinnig. Sy is eenvoudig nie bang om te erken dat sy hulp nodig het nie. En vandaar haar obsessie met “waar sal ons hulp vandaan kom”. En daarmee kan ek so diep identifiseer, vanweë my onverskrokke soeke na antwoorde op hoe om bewus en sonder weerstand te leef.
AC: En hoe is dit om haar te speel?
MB: Bevrydend. Vreesaanjaend. Hartverskeurend by tye. ’n Voorreg.
AC: Kaval blaai deur ’n Visi-tydskrif en kyk na al die mooi goed wat die ryk vrouens het. Op ’n manier bevraagteken die stuk (en veral jou verwerking daarvan) ons weergawe van middelklasgeluk (dieselfde geluk wat Fokofpolisiekar aanvanklik so hard verwerp het). Jy beeld ’n soeke na betekenis uit wat elders, buite die meedoënlose verbruikerskultuur van middelklas Suid-Afrika en Instagram, lê. Dink jy daar is so iets te vinde?
MB: Ek dink daar is. Soos ek vroeër gesê het, glo ek in ’n middeweg. Die tao te ching het ’n enorme impak op my verstaan hiervan gehad. Die weg van integriteit het te make met ’n soort wysheid wat gegrond is in suiwer oordeelsvermoë. Ware geluk het te doen met ’n innerlike tevredenheid wat nie gekoop of ge-like kan word nie. Kyk, die ironie is natuurlik dat ek onder die teken van die Bul gebore is en dat mooi goed en gadgets en alles wat die tasbare realiteit het om te bied my aantrek en betower. Ek omarm dit sonder twyfel, maar ek wéét dit is nie wat my geluk bepaal nie. Geniet die dinge van die wêreld maar leef bewustelik. Moenie vir jouself jok oor hoekom jy op online shopping sprees gaan of hoekom jy elke vyf minute na jou foonskerm staar nie … wees bewus van hoe hierdie goed jou belewenis van realiteit en jou angsvlakke en jou neurose beïnvloed. Ons is almal verslaaf aan ons fone. Die virtuele ruimte is ons ontvlugtingsoord. Maar die oomblik as ons bewus word van die feite dan skop ’n soort bemagtiging in wat ’n mens in staat stel om te kies hoe jy wil leef en om nie bloot ’n slaaf te wees wat nie meer vir jouself kan dink nie.
AC: Op ’n manier het ek die stuk gisteraand as hoopvol ervaar omdat dit aan die einde Kaval is wat op haar eie in die kamer agterbly, heeltemal geabsorbeer in die reënboë wat sy teen die muur projekteer. Die reënboogmasjien is ’n belaglike plastiek verbruikersitem, maar in Kaval se hande word dit iets toweragtig. Ek lees dit as ’n soort hoopvolheid by jou? Hoop in die krag van verbeelding?
MB: Ons waarneembare werklikheid is maar net een klein deeltjie van menswees. Ons verbeeldings is al wat ons kan red en nog ooit gered het. Einstein het dit ook geweet: “Imagination is more important than knowledge. Knowledge is limited. Imagination encircles the world. We cannot solve our problems with the same thinking we used when we created them”. Verbeelding is in my beskouing die brug tussen mens en God. Dis die ruimte waaruit die hele kosmos ontspring, maar ook die spasie waarin die hele bestel opgesluit lê en uitspeel. ’n Reuse, ewig-verruimende baarmoeder. Wanneer ons ons verbeeldings met doelgerigtheid inspan en ontgin is daar altyd hoop, want die verbeelding beskik oor ’n krag wat kennis of die rasionele nie het nie. Kennis bring sekerheid, maar verbeelding bring eindelose moontlikhede na die tafel toe. Kaval se reënboog is die deus ex machina in my verwerking. Haar onmoontlike situasie word in ’n magiese oomblik opgelos deur ’n plastiek reënboogliggie. In hierdie oomblik is ek egter ook in gesprek met die mistiese konsep van die ‘imaginal realm’ waarmee ek deur die werk van Jean-Yves Leloup en Cynthia Bourgeault vertroud geraak het. Die idee dat verskuiwing in die verbeelding tasbare gevolge in ons waarneembare werklikheid kan hê, tref my diep. Ek beleef dit ook keer op keer in my werk as energie-geneser. Kaval het intuïtief vroeër in die stuk ’n voorgevoel dat hierdie reënboogliggie iets betekenisvol simboliseer, maar eers as sy dit in haar hande hou en die kleure teen die mure geprojekteer sien, het sy ’n transformerende gewaarwording. Die woorde van Koos du Plessis se “Sprokie vir ’n stadskind” vloei gevolglik spontaan uit haar uit …
AC: Ook ’n soort hoopvolheid in vroulike resilience (veerkragtigheid?), krag en skeppendheid—Kaval is die een wat vir ons iets gee om in te glo, met haar stories en haar oorlewing en haar soeke gee sý op ’n manier vir ons dit wat sy nie by die mans rondom haar kan kry nie. Is dit hoe jy dit lees?
MB: Absoluut. Sy verteenwoordig ongetwyfeld vroulike veerkragtigheid en dapperheid en sy doen dit nie deur soos ’n man te probeer wees nie, maar deur haar vroulikheid as ’n towerkrag eerder as ’n swakheid te beskou. Sy is weerloos, maar sy is ’n force!
AC: En ek dink daar sit ook baie duidelik ’n soort hoop in die krag van stories. Kaval is ’n storieverteller, en jy ook, en daar is iets so verblydend en moedgewend om in ons tye (en postpandemie) in ’n klein, onafhanklike teatertjie in Kaapstad te sit en ’n toneelstuk te kyk. Wat is dit aan stories wat so belangrik is? (Hier dink ek ook aan storievertel as tradisioneel ’n soort ‘vroulike’ rol of werk of taak, iets wat intiem is, relational is, gewoon is, op ’n manier—maar iets wat dan duidelik soveel krag het).
MB: Stories is die suurstof van die siel. Stories is die tuig waardeur ons probeer sin maak van wat dit beteken om ’n mens te wees. Elke mens se lewe is in eie reg ’n mite. Die oomblik toe ek dit besef het, het iets beeldskoon in my oopgebreek. Ek kon een tree terugstaan. Ek kon die waarnemer van my lewe word terwyl ek gelyktydig die hoofkarakter in my eie mite speel. In die nie-dualistiese beskouing (wat my persoonlike rigtingwyser is) is dit die sleutel tot verligting. Shakespeare het dit ook geweet: “All the world’s a stage, / And all the men and women merely players; / They have their exits and their entrances; / And one man in his time plays many parts”.
AC: Jy het baie lanklaas toneel gespeel—hoekom nou, met hierdie stuk?
MB: Ek het, deur hierdie uitdaging aan myself te stel, laat gaan van baie ou verwonding. Ek het dit gedoen omdat ek in my solar plexus kon voel dat dit my van baie dinge sal bevry. En nie net die obvious goed, soos my vrees om heeltemal naak en weerloos voor ’n gehoor te staan wat my gaan oordeel nie, maar op ’n veel dieper vlak het ek myself toestemming gegee om my begeerte tot uitdrukking tot die uiterste vlak te verken. Die tyd is nou reg, want die wêreld is ’n ander plek ná die pandemie en ek het besef niemand gaan my kom red nie. Die onus is op my. Om dit saam te vat: ek het ook besef dat ek nie meer bang wil wees vir my eie krag nie. Ek hoor al my lewe lank dat ek te intens, te ernstig, te vurig, te direk, te roekeloos, té (veel) is, en by the grace of the Goddess, het ek net besluit om myself te aanvaar vir wie en wat ek is. Ek dink ek is selfs besig om vir myself lief te word danksy die toneelstuk. Een van my heldinne, Marianne Williamson, het dit so perfek opgesom: “Our deepest fear is not that we are inadequate. Our deepest fear is that we are powerful beyond measure. It is our light, not our darkness that most frightens us. We ask ourselves, ‘Who am I to be brilliant, gorgeous, talented, fabulous?’ Actually, who are you not to be? You are a child of God. Your playing small does not serve the world. There is nothing enlightened about shrinking so that other people won’t feel insecure around you. We are all meant to shine, as children do. We were born to make manifest the glory of God that is within us. It’s not just in some of us; it’s in everyone. And as we let our own light shine, we unconsciously give other people permission to do the same. As we are liberated from our own fear, our presence automatically liberates others”.
AC: Jy is ’n ma van ’n dogter—hoe het dit jou as skrywer en kunstenaar verander? Die stuk is rof en intens en ons sien vir Kaval wat seks het en vloek en speel en droom en baklei en op allerhande maniere buite die reëls wat vir vroue gestel word leef. Die stuk het ’n ouderdomsbeperking van 16 en jou dogter is jonger as dit, so ek neem aan sy gaan dit nie sien nie. Maar ek het gewonder, hoe praat jy met haar oor wat jy doen? Hoekom is dit belangrik vir ons dogters dat vrouens soos jy doen wat jy doen?
MB: Dit het my kom leer om nie tyd te mors nie. Gautama Buddha het gesê: “The problem is you think you have time”. My dogter is my leermeester. Sy het my geleer om my hart oop te maak. Om te skep vanuit ’n plek wat doelbewus ongemaklik is, want dis waar die goud begrawe is. Dis daar waar ek groei, dis daar waar ek genees. Ek maak bloot die pad gelyk. As ek my deel met oorgawe doen sal sy en haar generasie vroue niemand se toestemming nodig hê om te skyn nie.
AC: Hoe is jou eie verhouding met tegnologie?
MB: Ek benader die gebruik daarvan met ’n no-bullshit bewussyn. Ek het tydlimiete-kennisgewings op alle sosiale media apps. Geen skermstimulasie ’n uur voor of ná ek gaan slaap nie. Ek het nie blue ticks op whatsapp nie. Ek probeer ’n balans handhaaf. Maar ek is net ’n mens en soms verdwyn ek ook maar af in die rabbit hole wat die internet is.
AC: Die vertaling is uitstekend gedoen, die tekstuur en detail van jou Afrikaanse interpretasie is verskriklik mooi en treffend en interessant en presies. Wil jy meer vertel oor die proses? En wat dit vir jou beteken om in Afrikaans te werk?
MB: Baie dankie. Ek het die proses ongelooflik geniet. Afrikaans is vir my so belangrik. Dis in my murg. Dis my taal. Om ’n storie in jou moedertaal te hoor ontketen iets oers in ’n mens se psige. Die afstand tussen jou en die karakters verkort. Om in Afrikaans te kan werk gee my toegang tot ’n diepte en omvang van uitdrukking wat eenvoudig nie in Engels vir my moontlik is nie. Ek skep uit my kern uit in Afrikaans. Dis ’n helder plek in my. My identiteit is nou verweef met die woorde en beelde en beeldspraak en omskrywingsvermoë van my taal. Ons skep soos ons praat. En om in jou moedertaal te mag skep is heilig want dis die kortste pad tussen jou en die Bron waaruit jy skep.
AC: Dit is ’n baie fisiese stuk—jou liggaam is sentraal tot die uitbeelding van Kaval en haar verhouding tot Slim en die vertel van die storie. In die Kaapstad Toneelhuis waar julle die stuk opvoer sit die gehoor baie naby aan julle, dit is baie intiem. Wil jy meer vertel oor wat dit beteken vir jou, of die ervaring daarvan om jou liggaam so intens te gebruik vir die kuns wat jy maak?
MB: Dit was by tye so uitmergelend, maar dit is die mees bevrydende ervaring om jou liggaam te gebruik om ’n storie te vertel. Ek het nie woorde vir hoe dit voel nie. Maar ek kan jou belowe: daar is ’n wisselwerking tussen my liggaam en iets veels groter wanneer ek speel. Iets kragtig. Dit maak my emosioneel om daaraan te dink. Ek glo regtig dat ek myself as kunstenaar oopstel vir ’n heilige intelligensie om deur my te werk. Maar nie as ’n soort marionet nie, nee, dis ’n wisselwerking, ’n heilig dans, ’n duet. Die impak daarvan hou my beslis nederig. Vir 70 minute per vertoning neem iets oor wat net moontlik is as jy gedissiplineerd en met toewyding vir weke lank repeteer, maar in dieselfde asem moet jy heeltemal laat gaan en vertrou dat jy dit nie alleen hoef af te pull nie. Dis ’n wonderwerk, as jy my vra. Dis natuurlik ook net moontlik omdat ek my mede-akteur, Ben Albertyn (wat Slim vertolk), met my hele wese vertrou. Om teenoor hom te speel is ongelooflik. Ek is oneindig dankbaar vir hom en vir die geleentheid.
Neon Smoel is van 9 tot 17 September te sien by Kaapstad Toneelhuis. Kaartjies is te koop by Webtickets.