Letting Go: Gedigte deur Diana Ferrus
Diana Ferrus is ’n digter. Vroeër vanjaar het sy ’n ere-doktorsgraad van Stellenbosch Universiteit ontvang.
Oorlewing
Toe sy so hard baklei
dun-vinger-vuiste maak
en skrillend skree
het sy geweet dat
haar kroos eendag
buite haar hok
gaan dwaal en vasval
sy’t ’n band met woorde gehekel
en aan elk van haar kinders gestik
vandag trek hulle mekaar nader
vlei hulself neer op ’n lappieskombers
en hekel en stik aan ’n band
vir hulself, vir haar en die mensdom
My ma was ’n storm
My ma was ’n storm
’n lug gevul met donker wolke
sy kon dreig
of net oopbars
sy het waarskuwings gegee
voor sy toegeslaan het
haar donderende tong
het ou dooie bome en teorieё ontwortel
my ma het skoongemaak met ’n ysterstofdoek
sy het alle vuilheid en valshede weggevee
my ma het die gevaar geloop dat naam besmeer sou word
maar sy kon nie getem word nie
Ek wou nie haar so vrylik sien reën nie
sy moes gestop word voordat dit te nat word
Ek was bang dat sy sou verdrink, ek was bang vir daardie vloede
dit het my na my asem laat snak…
My ma was ’n te intense winter
Ek het geweet dat sy ’n somer dra
maar een waarin kitsvloede weggekruip het
o, maar hoe verlang ek nou na daardie storm
’n felle, ’n allesomvattende een
In hierdie dae waarin harde klippe stamp
en skeur aan vel en siel
wens ek dat my ma in die lug kon verskyn
en met ’n woedende wind die wolke versamel
en kliphard reën en daardie klippe verbrokkel
daardie klippe nou nog so ongeskonde, so selfvoldaan
vandag benodig ek my ma
Letting go
My ma het my nie toegelaat
om vas te hou nie
nie aan haar of my pa nie
sy het my in ongemak gebad
in skaamte laat droog word
die uiterstes van temperatuur laat voel
ek moes vastrapplekke vind
leer dat bome se takke breek
ek het gegly
in modder vasgeval
sonder vashou opgestaan
vandag hou ek aan haar herinneringe vas
sonder bang om haar te laat gaan.
my ma het my geleer wat vryheid is.
Die bakleierige matriarg
Praat van ’n matriarg! My ma was die perfekte een. In die ou lokasie was daar vele van hulle maar ook veels te veel van die wat onder die patriargie verniel was. Daar was verskeie soorte mans en vroue.
Ek kan die paartjies oproep in daai lokasie. Sommige was rustig en het mekaar verstaan. Daar was nooit ’n bakleiery nie. Dit het voorgekom asof die geldsake na altwee se wil geskik was. Dan was daar die wie se sake heel skeef uitgewerk was en dit het op werklike oorloë uitgeloop. Kyk daar was mans wat gedrink het, die meeste het in any case gedrink. Maar daar was mans wat hulle pay huis toe gebring het en dan die kannetjie gaan koop het. Dan was daar die wat in die dorp al die kannetjie gekoop het en nog steeds die pay huis toe gebring het. Dan was daar die wat sommer in die dorp die pay uitgesuip het en nog by die huis kom kos soek het. Daar was vrouens wat in die geval ’n ietsie kon uitkrap en dan was daar van die wat gesȇ het, “gaan soek daar wat jy vandaan gekom het.” Nou ja dit was die manne wat nie kon slaap nie. Hulle het nou heel Vrydagnag gekarring oor dit of oor dat en het heeltyd gedreig om handgemeen te raak. Daar was vrouens wat shit-scared was en ieder pad gevat het met die kinders vir die naweek en dan was daar daai vrouens wat geskree het, “vanaand gaan jy sien!” Hulle was reg vir die big fight.
Huisgeweld in die bruingemeenskap was ’n sports.
Vrydae-aande kon jy borde hoor breek, myle ver. Dit was vroegaand. So teen negeuur het die stemme skril die aand ingeskiet en tienuur wanneer die kinders vaak was, het die klok gelui vir die eerste rondte. Die kinders, nou die toeskouers het so hard geskree maar mens kon nie uitmaak vir wie nie! In die meeste gevalle het die manne 'n uitklop hou geplant maar daar was gevalle waar manne buite in die jaart moes slaap. Kyk, daar was vrouens wat hulle manne in die straat wou slaan. Hulle het buite gaan staan en “kô uit jou gemors,” geskree. “Vanaand kry jy 'n meirepak.”
Kyk, die pay was min en die werk was swaar. So ek weet nie of die manne gedink het die geld kom niemand toe behalwe hulself nie. Maar ek onthou graag die nie-bang anties, die wat sommer eerste slaan en die wat sê, “hou jou bek, jy praat te veel!”
My ma was een van hulle en sy het graag haar vriendinne help slaan aan hulle onbeskofte manne. Sy het die vroue huis toe vergesel en hulle manne die leviete voorgelees. En as die manne wou gewelddadig raak, het sy hulle herinner daaraan dat sy die wet ken en as hulle weer hulle hande sou oplig, hoe lank hulle gaan sit. Maar sy was behalwe slim, ook sjarmant en het gou-gou vrede in die huis bewerkstellig alhoewel almal geweet het dat dit net sal hou tot die volgende pay-dag. Later het almal besef dat my ma die matriarg in die straat/lokasie was, die bakleierige matriarg!
Die stempel
Ek en Boeta het rondgery om die reëlings te tref vir die begrafnis. Jy was weg, jou stem alhoewel in die laaste nie veel van dit nie, was stil, hartverskeurend stil.
Boeta het by die Kantoor van Binnelandse Sake ingedraf met jou identiteitsdokument. Na ’n halfuur wat soos ’n paar minute gevoel het, het hy uitgekom. “Dê, sit in die cabby hole.”
Dit was jou ID. Toe ek dit oopmaak, staan daar gestempel, “OORLEDE”. Dit kon ek nie oorkom nie. My liggaam het geruk. Jou gesig het met die effense glimlag na my gestaar maar die blou ink van die stempel het dwars oor jou kop gelê. So ’n pyn het ek nog nooit in my lewe gevoel nie. So ’n pyn het ek my nooit ooit verbeel sou ek voel nie. “Toemaar, toemaar,” het Boeta probeer troos, “dis ok”.
Ons het aangery. By die kerk het hy weer uitgeklim. Die son was loodreg in die middel van die Worcesterse lug. Agter die NG Kerk het die ronde kop van die Brandwagberg uitgetroon en skielik het ’n sagte, koel, hartseer wind begin te waai. “Dit gaan reën,” het ek gedink.
In Stockenstromstraat het ons by P.A. Venter gestop om die kruis wat op jou graf sou staan op te tel. Die trane wou nie ophou nie. Terwyl Boeta weg was het Enya oor die motor se radio begin sing. Dit was ’n song wat ek al gehoor het maar wat daardie dag eers betekenis vir my gekry het. Ek het ineengekrimp en elke woord was soos ’n dolk in my hart. Ek wou net weet dat alhoewel ek jou nie meer kon sien nie, jou stem kon hoor nie, dat jy iewers was, lief vir my, selfs liewer as wat jy was. Ek het gedink aan hoe my prestasies jou trots gemaak het, die blink wat in daardie oë kom sit het en die tong wat niks hoef te gesê het nie, hoe jy ons rapporte gestoor het in ’n plek wat ons nie van geweet het nie, hoe jy in al jou eenvoud, in alles wat jy wou gehad het en nie gekry het nie nog steeds trots kon bly. Ek het onomwonde besef hoe lief jy was vir my.
“I dreamt I dwelt in marble halls
with vassals and serfs at my side,
and of all who assembled within those walls
that I was the hope and the pride.
I had riches all too great to count
and a high ancestral name
but I also dreamt which pleased me most
that you loved me still the same,
that you loved me
you loved me still the same,
that you loved me
you loved me still the same.”
My broer het langsaan my gesit, jou oudste seun, jou lieflingskind, maar op daardie oomblik was dit net ek en jy en jou liefde vir my en myne vir jou.
Herinneringe (vir mammie)
Niks was sekerder as ek in jou
as ek van jou
in jou vleis, jou beenmurg en milt
hou jy my vas
en ek keer terug
met uitgegroeide hande
en ou versoolde voete
om dit wat eens een was in my drome op te roep
maar jy slaap stil, jou een oog toe
tyd skeur ons in twee, drie of vier
Niks is sekerder as ek en jy
wat stadigaan vervaag
tot skaduwees.
Hoe beweeg ek verby jou woorde… (vir Maya Angelou)
Jou woorde is oorloë wat in die sakke van die rykes
en in die mae van die armes woed
Jou woorde is nie gewere, mortiere,
tuis-gemaakte bomme of misplaaste missiele nie
Jou woorde duik vanuit die lug
soos ’n voël, nie om op te wil pik
maar om vanuit die hemele te bring—
genoeg om aan te fees vir ’n lang dag
en ’n koue nag
Jou woorde is knus-passende pantoffels,
fyn om die rante, wat ’n gevriesde voet pas
en stadig die verstopte aar verhit
Jou woorde loop op waters,
seil die smal seestrate
Jou woorde is die heelal
die aarde
die ontslapenes
Jy
was woorde.