It was never my intention
Sonja Walker is ’n dosent aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is tans besig met ’n PhD in verpleegkunde met ’n spesifieke fokus op verloskunde, en met die einddoel om die kurrikulum te dekoloniseer.
Waa begin ek om te skryf? Begin ek as kind en dat my droom altyd was om ’n verpleegster te wees of begin ek by ‘it was never my intention’?
Lat ek begin my kinderdae-droom. Ek was nie baie by hospitale nie, maa wanne ek wel daa was kon ek nie my oë afhaal vannie nurses wat soe pragtig gelyk het in hulle wit uniform en kappies oppie kop nie. Moenie eens praat vannie goete op hul skouers nie. Hulle het baie hoog geleerd voorgekom.
My kinderdroom word bewaarheid in 1989. Vrees bevange vi die onbekende klim ek op ’n bus vanaf Port Elizabeth na die grootte Kaapstad op 29 Junie 1989. Arriveer in Kaapstad die oggend vannie 30ste Junie.
Die meeste onbekende mense wat ek in my lewe gesien het. Die huishoudster roep name en sê “Jy gan dié kant ennie ander een gan daaikant. Wees oor twee ure op grondvloer dan gan ons uniforms uitdeel.”
Soes ’n skaap slagpale toe klim ek innie hyser en sluit my kamerdeer oop oppie tweede vloer—kamer 201. Ek het ’n klerekas wat dakhoogte is; eenkant vi hangplek en annekant vi pakplek. Ek is so excited want ek het nog nooit ’n kas van my eie gehad nie. Netjies hang ek dit wat moet hang en die wat moet gevou word, word netjies gedoen want dit is my eie kas. Ek het selfs plek gehad om my toiletries te sit. Hoe gelukkig kan een mens wees?
Dis tyd om uniform te gan kry. Ek kan my excitement nie beteel nie. Ek is nou ’n volwaardige nurse. If I only knew then what I know now. Min het ek geweet dat dit my vier jaa gan vat om kla te studeer.
Soe waaoor gan ‘it was never my intention’? Bietjie agtergrond. Gedurende my opleiding was apartheid die orde vannie dag. Die hospitaal waa ek my opleiding gedoen het, het ’n blanke en nie-blanke afdeling gehad. As ’n kleurling het ek baie min annie blanke kant gewerk. En indien ek wel daa geplaas was vi prakties, het ek meestal net bedpanne angedra, hulle innie masjien gesit om gespoel te word en netelige takies gedoen om te verhoed dat ek aan blanke pasiënte raak.
Ek het nie ’n problem daamee gehad nie, want ek het nie van beter geweet nie. My grootwordjare was nie besaai met politiek nie. So hoe sou ek weet dit was onregverdig of diskriminasie?
Fast forward. Ek geniet my studente dae vreeslik en kry ’n pos as ’n geregistreerde verpleegster innie kraamsaal in 1997. My liefde vi kraam is onbeskryflik. Om te sien hoe ’n baba gebore word issie mooiste wat mens kan sien en beleef.
Jare gaan verby. Ek studeer veder in 1999 en kry ’n meestersgraad in gevôderde kraam in 2001. Ek kan gekompliseerde bevallings op my eie doen. Ek kan nuwe sisters en dokters onderrig en is baie in my noppies met myself.
Dit vat my baie jare om te besef wat ’n onreg moeders angedoen was. Ek moet dit noem dat my opleiding kom uit die apartheidera. Jy sal niemand bevraagteken nie, veral nie ’n blanke senior nie.
It is a matter of do as I say. Don’t dare to ask questions. Soos ek groei in my beroep besef ek die onreg wat ek aan moeders gedoen het. Laat ek die prentjie skilder.
As ’n pasiënt inkom by die kraamsaal met klagtes van pyne, moet sy net luister. Indien sy vrae vra dan word sy gelable as onbeskof of cheeky. Sy sal net stil bly en doen soes dit vi haar gesê word.
“Trek alles uit, sit aan die nagrok, pee in die glas en dan klim jy op die bed.” Haa arm word gevat, bloeddruk word gedoen en koorspen onner die tong gesit. Moenie waag om nie saam te werk nie. Dan sal jy hoor “As jy nie wil gehelp word nie kan jy huis toe gaan.” Volgende hoor jy “Trek op jou bene en maak dit oop.” Vingers word innie vagina gedruk. Afhangend hoe ver sy ontsluit is, gan sy óf trug huis toe óf word sy toegelaat. Moenie vergeet dattie pasiënt word nie ingelig oor hoe ver sy vôder nie. Geen geskree of moaning word toegelaat nie. Jy sal hoor dis jou eie skuld dat jy hier lê.
Ek het diep binne in my hart geweet dat dit vekeerd is, maar was te bang om enige iets te sê. Ek het maar stilletjies pasiënte se rug gevryf en gesê “Probee om nie geraas te maak nie, anners gan jy geskel word.”
Wanne dit by kraamtyd kom, sal die pasiënt se bene in pale gesit word. Sy sal plat lê en net doen wat vi haar gesê word. Dit is geskel vannie een- tottie annerkant. Wees veseker as die pasiënt nie haar samewerking gee nie, sal jy hoor “As die kind dood uitkom is dit jou skuld.”
Daa was geen voorkere ten opsigte van geboorteposisies nie. Jy sal op jou rug lê en doen wattie midwife sê. Geen voorkere ten opsigte van godsdienstige voorkere nie.
Wat ook duidelik was, is hoe meeste vannie voorbeelde in voorgeskrewe textbooks white bodies as the norm in text and images voorgestel het. Indien donker velkleur gebruik was, is dit geassosieer met kondisies soos HIV en anner geslagssiektes. In donkerkleurige babas was die diagnose soos byvoorbeeld geelsug gemis. Dit het veroorsaak dat hierdie babas met breinskade opgeëindig het.
Soe waa kom ‘it was never my intention’ dan nou in? Ek wil vra aan alle moeders wat ek versorg het gedurende my studentedae en selfs as ’n geregistreerde vroedvrou, om my te vergewe. Ek wil nie verskonings maak vir my verlede nie, maar weet ek het nie van beter geweet nie. Wat ek wel weet is dat diep binne in my het ek geweet dit klink of lyk nie reg nie, maar die vroedvroue wat al jare daar werk doen dit, soe dit moet seker so wees.
Ek het intussen geboorte geskenk aan drie pragtige kinders. Ek hettie vooreg gehad om privaat te kraam. Ek was soos royalty getreat. Kry pynverligting sonner dat ek dit nodig het. Word elke vyf minute gevra of ek okay is. Of daar enige iets is wat ek nodig het. My man word toegelaat om heeltyd by my te wees. Alles wat hulle doen aan my word verduidelik en toestemming word gevra. Ek kry selfs die opsie om te kies of ek normal wil kraam of ’n keisersnit wil hê.
Die duidelike verskil in hantering van pasiënte gee my gevoel van ’n tipe kwaad vir myself. Ek voel magteloos. Hoe staan ek op teen die ouer vroedvroue en selfs dokters?
Hoe rectify ek die harm of the past? Ek is bevoorreg en kry ’n pos by ʼn universiteit in 2002 as ’n kraamlektrise. Ek maak dit my mission sedertdien om my studente te leer van respectful maternity care. Ek glo en vertrou die midwives wat ek teach sedert 2002 maak die verskil en behandel vroue en babas met respek en dignity. Ek maak seker dat my lesings kultureel respekvol is, sonder rasdiskriminasie, respek vir godsdienstige voorkeure en met liefdevolle passie gedoen word.
Soe ek wil afeindig deer te sê daa is nog baie wat ons as midwives kan beter doen, but gloe my as ek sê, it was never my intention.
Earl Basson is die gasredakteur van hierdie Turksvybrief. Earl is tans ’n PhD-student aan die Universiteit Stellenbosch. Hy stel ondersoek in na die herstandaardisering van Afrikaans aan die hand van Kaapse Afrikaanse idiomatiese uitdrukkings.