Foto-essay
Ingrid Winterbach is 'n skrywer en visuele kunstenaar. Haar mees onlangse roman is Voorouer. Pelgrim. Berg. (2021).
Ek lê op my rug, my arms soos stokke voor my uitgesteek. Bo my hang ’n ondeurdringbare donkergroen wolk. Dit dreig om op my af te sak en my te versmoor. Met my twee stokkerige armpies probeer ek die wolk teëhou. Binne-in die wolk is my naam: die naam van die vader. Links en regs van my vorm twee vertikale kleurvlakke saam met die skedel in die middel die drie bene van ’n driehoek. Hierdie vertikale vorms/vlakke, met die name van die vader en die minnaar daarin, verteenwoordig die LOGOS, die woord, die simboliese orde. Die afwesige moeder word voorgestel deur die ligpienk (deursigtige) skedel. Sy het poetsdwang en spreek ’n swart, semiotiese woord, volledig vanuit die sfeer van die onbewuste, die vroulike sfeer, en dus ondergeskik aan die Logos, die simboliese orde—soos verteenwoordig deur die Fallus (met ’n hoofletter; dus nie sommer enige ou garden variety piel nie). Wie in besit van die Fallus is, het die hef in die hand. Met my twee stokkerige beentjies skop ek, met my armpies reik ek uit na die falanks van GEVAARLIKE vroue, wat my en my susters moet verlos.
Dis nie seker wie die model vir hierdie skildery was nie (who cares?), maar Courbet het dit geskilder in opdrag van die Ottomaanse diplomaat, Serif Pasha (Khalil Bey) vir sy persoonlike versameling erotiese kuns. ’n Handelstransaksie tussen twee mans, ’n saketransaksie, is beklink. (Dis nie bekend of die Pasha tevrede was nie.) Nou hang die skildery in die Musee d’Orsay in Parys. Dit is interessant om kykers se reaksie daarop dop te hou. Sover ek kan sien, tydens my besoek aan die galery, wissel dit van verleë, geskok, onthuts, gemaak-ongeërg. Dit is onthutsend om so om ’n hoek te kom en ineens van aangesig tot aangesig te staan met die oorsprong van die wêreld.
’n Performance kunstenaar, Deborah de Robertis, het haarself onlangs met kaal onderlyf voor die skildery sitgemaak. Sy beweer dat die vagina in die skildery geslote bly, Courbet wys nie die opening, dit wil sê die oog, nie. Sý wys nie haar vagina nie, sê sy, maar sy wys wat nie in die skildery sigbaar is nie, naamlik die oog van die skede—die swart opening, die verhúlde oog, die afgrond, wat, verby die vlees, na oneindigheid verwys, na die oorsprong van die oorsprong. Aldus ms Robertis.
In die begin was die woord, en die woord het vlees geword, en die vlees POES. Die eerste vlees, die oorsprong.
Die mans—met flitskameras, wyehoek- en telefotolense, met rou, onverbloemde, gulsige belangstelling—crowd, hulle jostle, hulle verdring mekaar om nader te kom, beter te kan sien, méér te kan sien. Hoop hierdie mans om vir eens en vir altyd die geheimenis te deurgrond?
‘Jou ma se poes’ is ’n inkantasie wat ek daagliks hoor. ’n Kreet van beswering en vervloeking. Dit is die plek waaruit ons gekruip het. Dit is die plek waaruit ons gekruip het toe ons geslát is met die besmetting van sterflikheid. Waarop loop die lewe uit? Uiteindelik word ons teruggelok na die hol spelonk. Teruggesuig in die swart opening.
Van hierdie skildery sê die skilder, dit is so hartseer, asof niemand ooit hier ingegaan het nie. Asof niemand ooit hiervandaan teruggekom het nie. Asof dit nooit gebruik is nie. Asof alle kleur uit die binnenste gedreineer het. Dit is nie die oorsprong van die wêreld nie. Dit is die einde van die wêreld.
My vader het sifilis. My moeder het derhalwe poetsdwang. Wie kan haar verkwalik, as alles vir haar voel of dit besmet is. My vader wil mevrou K bykom. In ruil daarvoor dat meneer K dit oogluikend toelaat, word ek as speelding en tydverdryf vir meneer K aangebied. Ruilhandel. Nou is ek ’n stuk handelsware. Nou raak ek die kluts kwyt en moet die Groot Dokter F ingryp. Nou los my kop op in ’n warrelende, vuilbruinerige wolk. My kop los daarin op; my lyf los daarin op. My skedel is dun soos ’n eierdop. Ek staan asof ek op ’n hoop stront staan. Ek voel hoe ek alles wat verwerplik en tweedehands en minderwaardig is, beliggaam. Die Groot Dokter neem my onder hande. Ek moet sê wat ek dink. Ek sê ek dink niks. Ek moet sê wat my te binne skiet, alles, sonder uitsondering, sê hy. Ek moet myself nie sensureer nie, ek moet vry assosieer. Ek sê niks skiet my te binne nie, my kop is leeg. My kop is vol drywende wolkies. Ek sê ek is deursigtig, en sonder substansie. Ek sê ek het geen beweeglikheid nie—handeling is nie vir my moontlik nie. Ek sê ek praat namens myself, my moeder, en al die hordes leeg/lig/laf/loshoofdige (gefokte) vroue.
Ek sê vir die Groot Dokter, raak ’n mens nie op die duur móég vir die gesigte van glansryke, voortreflike mans nie, eeu in en eeu uit?
Die dokter sê, maar wat is julle begéérte? Ek sê, hoe moet ek weet? Die dokter knik en maak ’n aantekening in sy boek. Ek sê, ek wil beweeg van passief na aktief. Ek wil nie hê jy moet my storie vertel nie—ek wil dit self vertel. Die Groot Dokter, die roekelose manlike intellek, vra, maar wat wil julle vroue om gotsnaam hê? Ek sê, give me a break, dokter! Gebruik jou verbeelding. Hy knipoog en sê, what’s good for the goose is not good for the gander. Ek sê, en wat is dit veronderstel om te beteken? Jy weet maar alte goed, sê hy, en knipoog skunnig.
Kom nou dokter, sê ek, genoeg hiervan, genoeg van praatjies maak, alle grappies op ’n stokkie, gee daai FALLUS soos ’n aflosstokkie aan. Ek kan nie wág nie.