Familievakansies is nie kinderspeletjies nie
Susanna Louw is 'n akademikus. In haar navorsing verken sy die vervlegte verhouding tussen die media, gender, en seksualiteit. Met kuns deur Emile Geldenhuys.
Die rol van familie en erfenis binne die Afrikaanse (en Afrikaner-) kultuur is al deur talle navorsers—soos Hermann Giliomee, Cornel Verwey & Michael Quayle en Kobus du Pisani—bestudeer. Du Pisani verwys in hierdie opsig na die konsep van tradisievastheid as ’n prominente eienskap van hoe boere uitgebeeld word. Dié tradisievastheid is elke Desember sigbaar wanneer wit Afrikaanse families, of dit nou in ’n tent, B&B of familiestrandhuis is, die hele kaboedel see toe verhuis. Afrikanerfamilies is soms selfs so bevoorreg om twee strandhuise op verskillende plekke te erf. Christi van der Westhuizen skryf van die terugeis en behoud van ’n virtuele wit ruimte—in hierdie geval die letterlike behoud van fisiese ruimtes asook die beeld van erfenis, rykdom en tradisie waarmee strandhuise assosieer word. En dan moet die hoof van die familie—Oupa of Ouma—besluit wie mag wanneer, saam met wie en vir hoe lank bly.
Destyds is slegs gepraat van Afrikanervolk, Afrikanerwees, die beskermer en patriarg van elke Afrikanergesin en hoe die geskiedenis, waardes en kultuur voortgeplant, ek bedoel voortgesit, moet word. Sedert die einde van apartheid skryf navorsers soos Van der Westhuizen, Adriaan Steyn en Rickus Ströh oor die assosiasies wat kleef aan die konsep ‘Afrikaner’. Ek tref onderskeid tussen Afrikaanssprekende en Afrikaner. ’n Afrikaanse persoon praat Afrikaans en sien hulleself as deel van ’n Afrikaanse kultuur, maar het geen eg aan die nasionalistiese waardes van Afrikaners nie. Afrikaners word met konserwatiewe en oudmodiese waardes geassosieer wat voor en gedurende apartheid aan nasionalistiese waardes verbind is. Hulle is soms nog vasgevang in ’n apartheidsdenkwyse en worstel met die liberale oortuigings wat vandag dominant is in Suid‑Afrika. Die Afrikaanssprekende vorm deel van ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap waar meertaligheid en diversiteit gedy.
My storie begin in Desember by die see saam met familie, met die reuk van ryp perskes en waatlemoen in die eetkamer. Dis Ma, Pa—nou Ouma en Oupa vir die meeste—Kleinsus, Mamma, Swaer en ons; nou Oom en Tannie. Die kinders hardloop rond, die een gil, want hulle wil gaan swem maar Kleinboetie wil Swingball speel. Die kinders se lagsessies en Ouma en Oupa se radio is oral hoorbaar, dit is immers Desembervakansie.
My voorouers is definitief Afrikaners. Tot op hede is my pa die patriarg en broodwinner, alhoewel ek ook met sterk en bekwame vrouefigure soos my ma, suster en ouma grootgeword het. Ek identifiseer as ’n wit heteroseksuele Afrikaanse persoon wat tuis voel as ’n Afrikaanssprekende, want ek is meertalig en glo eerder in ’n Suid-Afrikaanse gemeenskap wat divers is wat betref seksualiteit, gender en ras, teenoor ’n konserwatiewe wit Afrikaanse gemeenskap. Die tradisionele Afrikanerwees vorm deel van my familie maar dieselfde familie is op soek na ’n gedeelde ruimte waar verandering moontlik is—stadige verandering, maar tóg.
Ons is deesdae te veel mense vir die ou strandhuisie, maar tog daag almal steeds op dieselfde tyd op. Laaank terug was almal in die straat broer, suster en niggie of nefie. Dit is steeds familie na links en na regs, maak nie saak of dit verlangse familie is nie, want ek stel my agter-agter-agter kleinniggie steeds as niggie aan vriende voor. In die fisiese ruimte van strandhuise word die belang van familie in die Afrikaanse kultuur sigbaar. Ons sien dit in die wyse waarop sportsterre se persoonlike lewens in tydskrifte aan ons vertel word, sepie-akteurs se liefdeslewe die voorblad van die koerant maak en dié verhale die verwagtinge en norme skep waaraan die gemeenskap moet voldoen.
Sommer net ná ontbyt vra Kleinsus vir een dierekoekie by Ouma, terwyl Mamma van die stoep af roep dat dit nog te vroeg is vir koekies. Die res van die gejol kom ook by en almal kry sommer drie koekies. Daar is die hele boksie oppela en ons grootmense wat nog wou vra, is te laat in die ry. Kleinsus kyk na Oom en sê, “Oom se maag is te groot”. Ek’s geskok, sy’s al sewe, leer sy nie maniere by die huis of skool nie (nou klink ek wraggies soos die tannie met duisend silwer armbande in die familie)? Maar ek is kwaad, want niemand praat so van my geliefde nie. Ek verduidelik vir haar dat mense se woorde ander kan seermaak en dat sy vir Oom verskoning moet vra … en sy doen. Maar ek bly kwaad vir Kleinsus en kie.
Ek is ook kwaad vir die media en samelewing wat sekere verwagtinge aan mans en vroue stel oor hoe hulle moet lyk en die beeld waarteen almal gemeet word. Ek besef dat die samelewing en veral ook die media eintlik blameer moet word, want Kleinsus se beeld van hóé mans moet lyk is eerstens gebaseer op die samelewing se ideale beeld van manlikheid en tweedens word dié manlikheid verweef in die multimodale modusse en diskoers waaraan ons op derduisende platforms blootgestel word.
Ek wens vir ’n wêreld waar die Afrikaanse gemeenskap en media meer verskille en diversiteit sal vier en verwelkom, in plaas van die marginalisering van enige persoon wat afwyk van die norm.
Met die luister van die Man Enough-podcast het ek herbesef dat menslikheid en foute-maak dieselfde ding is. So in plaas van om gesprekke met of oor LGBTQIA+-persone te vermy, praat met mekaar en maak foute … Maar ten minste probeer jy elke keer … verstaan jy elke keer net iets nuuts of erken iets waarvan jy vergeet het.
Verder moet die media hulle sokkies—of dit nou lang boeresokkies of modieuse prentjiesokkies is—optrek en die mag van diskoers en retoriek benut om ’n rol te speel in die opvoeding van ’n wyse dog konserwatiewe gemeenskap.
Na aandete dek die vroue tafel af en bly die mans ‘toevallig’ sit. Die manne is moeg gebraai, staan en kyk na vleis wat gaar word is harde werk. Kleinsus kom vra vir die tannie-met-’n-tatoe,-swart-naels-en-’n-glasie-chardonnay, maar hoekom sit die manne by die tafel terwyl al die vroue in die kombuis skoonmaak en kos wegpak? My gemoed sak tot in my voete—dis vakansie so wie dra skoene? Mamma antwoord, want sy vermoed en is dalk skrikkerig vir wat die tannie-met-die-tatoe gaan sê. “Nee my kind, dis maar hoe die lewe werk. Vroue maak skoon en help in die kombuis”. My hart klop vinnig en ek is oortuig dit het in my maag in gesak … maar iewers kry ek weer ’n stem. “Nee, jitte ons moet darem ’n beter voorbeeld stel met veranderende of selfs nuwe genderrolle. Kleinsus, die mans het die vleis gebraai …”
O fok, ek maak dit net erger. “En nou help ons weer met die skoonmaak. Oupa en Pappa gaan netnou koffie maak. Almal help waar hulle kan. Miskien wanneer Kleinsus eendag oud genoeg is, kan jy die braaiwerk doen en dan kan die manne skottelgoed was”. Ek is nou nog onseker of Kleinsus verstaan wat ek bedoel het, maar eerlikwaar het ek meer van Mamma se oortuigings verwag—dink die tannie-sonder-kinders-wat-slaai-maak.
Gender is ’n sosiale konstruk, soos Judith Butler al etlike jare gelede aangevoer het. Butler verduidelik dat wat jy doen en hoe jy dit doen, is hoe jy jou gender leef. Dit is ’n veranderende konstruk wat tussen gemeenskappe, kulture en ruimtes kan verskil—dit klink vir Tannie na ’n verskeidenheid van lekkerte. Stella Viljoen en Robert Morrell skryf oor Afrikaanse en Suid-Afrikaanse manlikheid wat onstabiel is en deurentyd verander. Die stelling is net soveel van toepassing op gender in die algemeen en daarom beskryf ek veranderinge in Afrikaanse gender ook as ’n tydsame proses. Die tydsame proses van verandering en aanvaarding is nie ’n een-stoep-braai-geleentheid nie en gaan nie tydens een vakansie plaasvind nie—wie het in elk geval so baie verlofdae in Desember?
Die Oom en Tannie wil beslis gesprekke begin en die veranderende genderrolle leef sodat die volgende generasie makliker aanpas. Dalk nie sonder enige moeite nie, maar met meer vrymoedigheid om hulself te wees ongeag al die “opsies” (soos Ouma dit noem) daarbuite. En soms gaan dit steeds op die heteronormatiewe wyse ontvou waar binêre geslagte en tradisionele genderrolle as norm aangebied word. Maar ander kere gaan die Tannie en Oom ’n gap neem en hulle nuwe oortuigings met familie en vriende deel sodat dit selfs tydens familievakansies toeganklik word.
Ná ete is dit speletjies om die tafel. Rummikub, vanaand, waarna ek uitsien. Kleinsus wil saam met die grootmense speel. So die reëls word aangepas of eerder verander of wag, ek lieg nou by, dit verdwyn totaal en al. Ewe skielik kan jy ’n pakkie uitsit, al het jy nie 30 punte in jou eerste beurt nie. Selfs Ouma en Oupa begin onderlangs gesels en help mekaar. Kleinsus kla die speletjie is vervelig en dring aan ons moet die speletjie met papiergeld en rooihuisies op die rak probeer. Ek sit self met ’n slegte hand vir twee uit die drie rondtes, maar dis mos deel van die spel.
Ek hou die geklets om die tafel dop en vra myself af hoekom ons so maklik ’n ou gunstelingspeletjie se reëls kan aanpas? In daardie oomblik wens ek dat die reëls in die regte lewe ook so maklik aangepas en gebuig kan word.
Dalk is dit die verskillende generasies—die tannie-met-’n-tatoe aanvaar makliker diversiteit want dié is ʼn millenniër. Of is dit die media se skuld dat die voorgestelde progressiewe beeld van seksualiteit en gender tot fiksie en werklikheidsdramas beperk word en nóg nie in familievakansies uitgeleef word nie? Of is dit eerder ons opvoeding waar die leemte lê, want onderwysers en dosente skram weg van verskillende soorte gesinne, genders en seksualiteite? Daar is talle hulpbronne soos The Guilty Feminist-podcasts en publikasies soos Turksvy wat enige persoon/generasie kan naslaan om verandering met deernis en empatie te benader.
Of moet sulke gesprekke eerder tydens familievakansies vermy word, want dit is reeds georganiseerde chaos—soos wat hierdie tannie familievakansies nou noem. Daar is oorgenoeg streskwessies, genderverwagtinge, luidrugtige argumente wat binne ’n klein ruimte saamgegooi word.
Familievakansies is beslis nie kinderspeletjies nie, of jy nou die reëls volg of van die stoep afskop.
Emile Geldenhuys is gebore in Suid-Afrika, maar woon in Seoul, Suid-Korea, waar hy Engels onderrig. Hy gebruik digitale tegnieke om bestaande beelde te manipuleer en sodoende onrealistiese kuns te skep. Kyk hier na meer van sy kuns.