In Januarie 1968 het die “New York Radical Women” onder leiding van die feminis Shulamith Firestone ’n byeenkoms gereël as deel van breër protesaksie teen die oorlog in Viëtnam. Ten einde bewustheid te skep van hoe stelsels van onderdrukking met mekaar oorvleuel en deurkruis, het hulle ’n ritueel uitgevoer waarin hulle op ’n simboliese manier Tradisionele Vroulikheid begrawe het. Die begrafnis het gedien as ’n soort verklaring deur die vroue dat hulle nie langer passief sal toekyk op ongeregtigheid nie, maar hulself polities sal laat geld, al verg dit ongehoorsaamheid aan hul mans en die reëls wat gestel word vir “ordentlike” vroulikheid. Die byeenkoms het onderstreep hoe die onderdrukkende stelsels van nasionalisme, kapitalisme, kolonialisme afhanklik is van vroulike onderdanigheid, en hoe die tradisionele vrou dus inherent medepligtig is aan ongeregtigheid. Die verwerping van Tradisionele Vroulikheid maak feministiese solidariteit oor grense van ras en klas moontlik en het die potensiaal om bestaande vernietigende magstrukture te destabiliseer.
Nou, in 2024, put ons inspirasie uit die werk van Firestone en haar medewerkers om in ons spesifieke konteks ’n soortgelyke begrafnis vir Tradisionele Vroulikheid, en haar aandadigheid aan geweld en onderdrukking hier te lande, te hou, ook met die doel om na te dink oor die moontlikheid en voorwaardes van feministiese solidariteit in Afrikaans vandag.
Kom vier/treur saam met ons! Koop jou kaartjie op Quicket.
Uitnodiging ontwerp deur Paula Kruger.