Buzzcuts, binders en blombloesies: Nonbinary notas oor feeling gorgeous in Afrikaans
Chan Croeser is ’n skrywer en akademikus. Hulle is tans besig met hul PhD-navorsing in Vergelykende Letterkunde wat handel oor die queerheid van Afrikaanse spookstories.
Liewe Mamma
Aan jou skryf ek vanuit ’n liggaam wat eens joune was, in joune was. Soos Ocean Vuong “I want to take off the shoes of my voice”, sodat ek sagkens en met sorg kan praat. Sodat die spasies tussen my woorde kan asemhaal.
Liewe Pappa
Jy hou nog altyd van gesels en stories vertel. Sê nog altyd vir my die wêreld is meer as wit en swart. Aan jou vertel ek ’n storie wat se voete vlerke het. Dié een is ’n ware verhaal.
In die somerhuis van my kinderdae hang daar foto’s van kleintyd. Ek dink julle weet watses ek van praat. Ek onthou toe Pappa die een geneem het. Dié dag het ek Ouma se klerekas ingevaar en een van haar flowy beblomde bloesies aangetrek, haar gehekelde beret op my kop gesit en ’n serpie om my nek drapeer. Ek sit en pose toe met ’n gebolde vuisie onder my ken en een been gekruis oor die ander soos ek my verbeel het ’n dame sou sit. Gedink ek is ’n regte style icon. Ek het gorgeous gevoel. Ek wil elke dag gorgeous voel.
Langs dié hang my kleuterskool-skoolfoto. Ek was seker vyf of ses. Dié dag het ek daarop aangedring dat ek my groen en blou Pacific Ocean-hempie en shorts wil aantrek want dit het my handsome laat voel. Teruggekom van klouter en klim, sit ek wydsbeen en rooi wange met hare wat alkant toe staan. Ek onthou dat ek daai dag gewens het my hare was gebuzzcut soos my maatjie Heinrich s’n. Want ek wil elke dag handsome voel.
Ek trek nou nog soos op daai foto’s aan. Sit nou nog met my bene só. Ek het net ’n paar piercings bygekry en dra ’n lang oorbel in een oor.
“ek is so jammer ma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie”
(Uit: “Ma” deur Antjie Krog)
Onthou julle nog vir Heinrich wat my een keer gevra het om hom te soen agter die badkamers? Ek het ja gesê, maar tog later trou-trou met Annie gespeel. Toe ons juffrou vir Annie en ek skel omdat “meisies nie met mekaar trou nie”, vind ek vir die eerste keer uit ek is blykbaar ’n meisie.
So speel-speel ek nog altyd met gender. Want gender is maar net speel-speel. By geboorte ‘vrou’ genoem, maar sukkel al so lank ek kan onthou om netjies in te pas in die rokkies en rituele van (wit Afrikaanse) vrouwees en vrouword.
Was Batman en Robin saam met die seuns in speelskool, maar ook die stywe kraag van manwees en manword krap my nek tot dit rooi raak en vlam vat. Eers in my twintigs het ek die vocabulary gekry om te sê ek is trans nonbinary.
Ja nou toe, dit is wie ek is. En ek voel so handsome en gorgeous.
Maar hoe sê ek dit vir julle in Afrikaans? Fok weet “nie-binêr” klink soos ’n dor plaas tussen Koekenaap en Slangfontein. En Transvaal is seker die eerste ding wat baie Afrikaanse mense aan dink as hulle hoor van ‘trans’.
Hoe sê ek vir julle dat my pronouns nou they/them is? Sê ek “noem my maar ‘hulle’”? Pa, jy gaan seker vra wie anders is dan by my dat ek nou sommer veelvuldig is. Want unlike they/them word ‘hulle’ nie enkelvoudig gebruik nie. Soos Gert Volk Nel voel ek maar gereeld vaag in wete en volop in vermoedens soos confetti. Maar my confetti het seker glitter by. Want my twintigs loop al amper uit en ek het nogsteeds nie die woordeskat om te sê wie ek is nie. En dis my eie taal. My moedertaal. Die taal waarin ek myself beliggaam, vergestalt in seesout en sand.
Ocean Vuong herinner my dat taal iets is wat ons help om mekaar beter te kan sien: “when you’re using language, you can create it, use it to divide people and build walls, or you can turn it into something where we can see each other more clearly, as a bridge.”
Om gorgeous te wees moet julle my kan sien. Ek smag so daarna dat julle my sien.
So hier sit ek nou maar op Nie-Binêr se stoep met ’n glas witwyn, opsoek na ’n taal waarin ek myself kan verwoord. Op my wang voel ek ’n hand en stem wat vra “kan ek ook een kry?”. “Trek ’n stoel nader”, antwoord ek. Dis Antjie Somers wat my weer kom besoek. Vandag dra hulle ’n stoppelbaard en vertel hoe hulle hul bra met sokkies gestop het vir tieties. Hulle dra ’n rooi doekie om hulle kop met ’n matching rooi rok.
“My storie is een wat by die tonge van baie Afrikaanse mense spook”, vertel Antjie vir my.
“Van gesin tot gesin verander die fluisters en elkeen vertel my op ’n ander manier. Sommige fluisterings sê dat ek vlerke het aan my voete en dat ek onsigbaar kan word. Sommige sê ek het akkedisoë en as jy my eerste sien verander jy in ’n klip. Elke fluister vertel van ’n heksagtige spook wat kinders steel. Ek kan toor en ek kan spook. Soos ’n gedagte in die wind kan ek spring van plek tot plek. Maar kinders maak my eintlik angstig. En waar op dees aarde sal ek hulle almal hou? Maar mense hou van kak praat oor transmense. Dink ons is almal Bufallo Bill of Frankenstein se monster.”
En dit is wat Afrikaanse kinders leer:
transmense steel kinders.
“Antjie, dalk is ek bietjie monsteragtig”, sê ek toe. “Niks soos Bufallo Bill nie. Maar soms is my liggaam ’n paradys van plesier, die mees prikkelende hiervan gereeld my heupe, borste en klit. En tog wil ek dié soms afsny met ’n stomp mes.” Ek lig my beblomde bloesie op en wys vir Antjie hoe ek vandag my tieties toegebind het met ’n binder om hulle plat te kry.
Wat is die woord vir binder in Afrikaans?
Om monsteragtig te wees is eintlik nogal magic. Ocean Vuong skryf dat “a monster is not such a terrible thing to be. From the Latin root monstrum, a divine messenger of catastrophe, then adapted by the Old French to mean an animal of myriad origins: centaur, griffin, satyr. To be a monster is to be a hybrid signal, a lighthouse: both shelter and warning at once.”
Kyk vir Antjie. Hulle was vir jare al ’n soort vuurtoring vir my: ’n skuiling in die wete dat daar ander soos ek is in my taal, ’n waarskuwing dat ons mense ons nie altyd verstaan nie. Juis oor die katastrofe wat ons vir kategorieë is. Vrees dat daar geen vashouplek is nie. Ek dink ons kan baie by Antjie oor taal leer. Hul storie is altyd wordend. Hul liggaam ook. Tussen-in hier en daar. Teenwoordiglik afwesig, word en ontword hulle met elke nuwe vertel. Hulle s’n is ’n taal wat nooit stilstaan nie, ’n “radical calling into question, in every undertaking, of everything that one tends to take for granted” (Trinh T. Minh-ha). Omdat hul storie aanhou bestaan deur tonge wat dit oor en oor vertel, is Antjie se taal noodsaaklik beliggaamd. Soms onseker, hakkelend, brekend, maak dit ruimte vir fragmentering, vir wegbreek van woorde wat nie meer voldoende is nie. Klink toweragtig vir my.
Dis dalk wat ek moet doen. Bietjie toweragtig raak. My helm gaan soek by my geboorte en dit oor my oë trek. Sodat ek meer soos Antjie kan sien, kan praat, kan hoor.
Met liefde,
Chan
N.S. Luister hierna vir ’n stukkie gender-euforie:
https://youtube.com/playlist?list=PL95NHvZINpCkaAKml1pO-bP2a3n29pFMF.