As ek opkyk, kyk ek in rûe vas
Valda Jansen se debuutroman Hy Kom Met Die Skoenlappers is in 2016 gepubliseer. Haar kortverhaal "Tapas" verskyn in Ver in die wêreld (2023). Die kuns in die brief is deur Stephané E. Conradie.
Ek het ’n liefde-haat-verhouding met die konsep van feminisme, soos ek ’n liefde-haat-verhouding met vroue, veral wit vroue, het. So ambivalent soos die een, so onverstaanbaar die ander. Albei konsepte ontgaan my en is soms bo my vuurmaakplek. Ek weet nie wie hulle is nie, en ek weet hulle weet nie wie ek is nie en gee ook nie om nie.
Te veel kere in my lewe is ek deur ander vroue in die steek gelaat. Hulle draai maklik hul rug op jou. Al is hulle veronderstel om na aan jou te wees. Mens wonder of dit die invloed van die patriargie is of net plein wreedheid. Ervaring het my geleer: vroue hou nie noodwendig van ander vroue nie.
Die rol van versorger is van kleins af op my afgedwing. My ma het haar twee dogters teen mekaar afgespeel. Maar die oudste een moes altyd tevrede gestel word, altyd kry wat sy wou hê.
My ma is een van daardie vroue wat graag in die diens van die patriargie staan. Ek was die jongste dogter en ek moes die rol van die goeie meisie vervul, altyd doen wat ander sê, sonder om te murmureer. En as ek dan wel die dag beswaar sou aanteken, is dit veral die vroulike gesinslede wat op my sou toesak. Ek het geen verweer, geen beskerming, gehad nie.
As ek moet kies, is ek eerder ’n humanis as ’n feminis. Feminisme beteken verskillende dinge vir verskillende mense en lei gevolglik tot onbegrip. Meestal voel dit vir my asof die feminisme dood is; dit is oortollig en irrelevant.
Ek wonder soms: as vroue se regte weggeneem word, is dit ’n aanklag teen feminisme of teen die mensdom?
Dit is steeds moeilik om te verstaan hoe wit vroue in die tyd van apartheid hulself as feministe kon beskryf. Hoe veg jy vir jou eie regte in ’n land waar ander geen menseregte het nie?
Want wat was die stryd teen apartheid anders as die strewe om as mense erken te word? Wat is die stryd teen patriargie of geslagsgeweld anders? Ná apartheid, in gesprekke met vroue by al die plekke waar ek gewerk het—as onderwyser by ’n voormalige Model C-skool of as joernalis by koerante en later ook by die radio - moes ek gedurig klagtes aanhoor oor hoe swaar die wit vroue onder apartheid gekry het, hoe hulle onder die patriargie gely het, hoe hul manlike eweknie so maklik bo hulle bevorder is. Min van hulle het belanggestel in wat met my gebeur het.
Diskriminasie is ingebed in my leef-ervaring, in my herinneringe van grootword. Die soort diskriminasie wat ek aan my lyf gevoel het, nie as vrou of meisie nie, maar as mens. Ek dink, grootliks omdat hierdie diskriminasie deur ander vroue gedoen of perpetueer is. My ma, byvoorbeeld, was ’n enabler van sowel my pa se beledigende gedrag, as van my suster se venyn.
Ook op universiteit in die 80’s was mans oorheersend; manlike studente en manlike dosente. Daar was (tereg) so ’n oorheersende gevoel van die stryd teen rassisme en ’n geveg om gelykberegtiging in die breë samelewing, dat die stryd om ernstig opgeneem te word as vrou, agterweë gebly het.
Ek verstaan wel die belangrike rol wat feminisme speel. Maar daar is ’n verskil tussen ’n wit vrou wat by ’n werk in ’n Afrikaanse omgewing instap, en iemand soos ek wat uiteindelik teen die wit vrou kompeteer, asook teen die patriargie, wat wit én bruin mans insluit.
Ek het ’n groot droom van altyd af. ’n Recurring dream kan jy maar sê. Om om ’n tafel te sit saam met ander. Om vroue as vriendinne te hê. Om sommer net te bel en lekker te gesels.
Dit was my nie altyd beskore nie.
Mense neig weg van my af. Hulle maak heeltyd leë beloftes.
Selfs vandag nog is daar ’n paar wit vroue wat—onafhanklik van mekaar—telkens wanneer ons mekaar iewers raakloop, met groot gewag my kontakdetails bevestig, want ‘ek gaan jou bel, dan gaan drink ons saam koffie, dan kom eet jy by my, wat dink jy, kan ons dit doen?’ En elke keer sê ek maar ja, maar terwyl ek in hierdie vroue se oë kyk en beaam, ja, ons kan dit doen, weet ek voor my siel dit sal nooit gebeur nie. Want hulle bel nooit, hulle maak nie kontak soos beloof nie. Dit het al die jare nog nooit gebeur nie en ek weet dit sal ook nooit gebeur nie. Ek weet nie wat die kick is wat hulle hieruit kry nie. Miskien hul eie skuldige gewete oor watookal wat gesus moet word? Soms wonder ek of hulle my nie dalk met iemand anders verwar nie.
Ek draai my rug op die feminisme. Daar is te veel anekdotes in my lewe wat my lugtig maak om ander vroue te vertrou.
Die mense wat my in my persoonlike lewe die meeste in die steek gelaat het, wat geheime geweet het en logieserwys my sou moes waarsku, was ander vroue. Ek het al my liefde en respek vir hulle verloor toe ek, veels te laat, uitvind hoe hulle jarelange, doelgerigte stilswye my benadeel het.
Vroue kies dus ook om stil te bly. Hulle is enablers. Hulle stilswye laat onreg en ongeregtigheid toe om te gedy.
Ek is van die matriekklas van 1983. Soos ’n ou (gewese) vriendin van my op ’n keer (nie baie vriendelik nie) gesê het toe ek laat in my lewe getrou het: jý gaan ‘n óú ma wees.
Inderdaad.
Maar ek was oud genoeg om te weet van die gevare wat daar vir kinders lê en wag. Ek het in my eie lewe verskillende vorme van diskriminasie en mishandeling aan my eie lyf gevoel. Soms letterlik. Van kleins af.
Ek het dus altyd gehoop as ek eendag ’n kind sou hê, dat my kind ’n onafhanklike siel sou wees wat ek die wêreld sou kon instuur. Vol selfvertroue en sonder skroom. Wat na hulself sou kon omsien die dag as ek nie meer daar is nie. Wat diskriminasie ’n myl ver sou sien aankom en voorbereid sou wees. En altyd, of die meeste van die tyd, sal weet wie hy of sy is.
My kind het alles geword wat ek altyd gehoop het ’n kind van my sou wees.
My kind is deel van die matriekklas van 2023. Aan die begin van Maart stap my kind by die matriekafskeid uit my hand uit, oor die spreekwoordelike rooi tapyt wat die skool op dié dag vir sy matriekleerders uitrol.
Reeds ’n jaar gelede—of vroeër al—het my kind vir die vriendegroep begin inlig, en later vir die hele skool: Ek is nie meer Anna nie, noem my River.
Oor die voornaamwoorde is daar nog nie uitsluitsel nie.
Soos ek ouer word, voel dit al hoe meer asof daar wêrelde tussen my en ander vroue is, veral jong vroue, nie net wit vroue nie.
Afstande. Amper onoorbrugbaar.
Veral noudat die tekens van die ouderdom so wreed sigbaar word.
Ek kan nie meer my hare kleur nie, weens ’n erge allergie vir haarkleurmiddels wat ’n jaar gelede skielik kop uitgesteek het. My hare raak by die dag witter. Ek sien dit nie slegs in die spieël nie, maar ook in die skok op mense se gesigte. Ek is deesdae byna so onsigbaar soos toe my kop kaal was.
In hierdie tye vind ek weer aanklank by denkers soos Yuval Noah Harari. Sy onlangse artikel oor identiteit wat in Time verskyn het, resoneer by my. Dit sluit aan by my lewenslange siening van myself slegs as ’n mens in die breë wêreld, as iemand wat ’n plek op hierdie aarde inneem. Dít is wat my gered het wanneer ander my in ’n boksie wou plaas. Dis waar ek my toevlug vind.
Ek dink dus nie aan myself in die eerste plek as ’n vrou nie. Ek dink aan myself in die eerste plek as ’n mens.
Dis ’n gewoonte wat ek aangeleer het tydens my grootwordjare toe my lewe met apartheid deurspek was. Ek moes myself die hele tyd daaraan herinner dat ek ’n mens is wanneer ander om my my gedurig geïgnoreer het, verneder het, geminag het.
Deesdae bestaan my lewe veral uit klein kamees en anekdotes.
Mense se wederhelftes sterf en ek help uit.
Ek ry agter hulle aan en vind uit waarmee hul hulp nodig het. Ek doen en gee wat ek kan.
Iets soortgelyks gebeur met my. Maar daar word agter my rug gefluister. Skielik praat die vroue sagter sodra ek die vertrek verlaat. Hulle soek my nie by my huis op nie. Ek word gesystap en vermy soos in die tyd toe ek kanker gehad het.
Want hulle het mense aan die dood afgestaan. Ek het nie iemand aan die dood afgestaan nie, maar ek het iemand afgestaan.
Waar is die vroue? As ek opkyk, kyk ek in rûe vas.
Onlangs word ek weer in die hospitaal wakker. Ek maak my oë oop en kyk in die bedkassie vas. En vir ’n breukdeel van ’n sekonde sien ek ’n bos blomme in ’n vaas langs my bed. Tot ek besef dit was maar net wensdenkery. Ek sien wat daar nie is nie.
Daar is nie blomme nie, daar is nie boodskappe nie, daar is nie oproepe of navrae of besoeke nie.
Daar is niemand.
Ek is alleen.
Stephané E. Conradie is ’n bekroonde kunstenaar en ’n lektor by die Universiteit van Kaapstad. Haar kuns bestaan uit bricolage-samestellings met ’n fokus op die ontologie van objekte. Haar navorsing en werk vloei uit ’n fassinasie met hoe mense sentimentele voorwerpe in hul huise rangskik en daardeur ondersoek sy geskiedenisse van kolonialisme en kreolisering soos dit ingebed is materiële kultuur. Sien meer van haar werk hier.