’n Huisvergadering oor feminisme in Linden deur Herschelle en Mercy
Herschelle Benjamin en Mercy Kannemeyer is universiteitsvriende, skrywers, teaterliefhebbers en tot onlangs, ook woonstelmaats. Hier volg die notule van hul huisvergadering (of eerder flatvergadering)
MERCY: Sal jy vanaand aandete maak? Ek is nie lus nie.
HERSCHELLE: Ek sal.
Herschelle spring met aandete weg terwyl Mercy uitstaar oor die stadsliggies.
HERSCHELLE: Jy is nuut in Johannesburg. Yaaas gurl, hoe voel dit anders hier in die woudstad as in die Kaap?
MERCY: Ek het gelukkig nog nooit regtig in die Kaap-Kaap gebly nie. Stellenbosch is nie die Kaap nie. Stellenbosch hou soms vir haar soos die Kaap, maar she’s not that girl. Op ’n ernstige noot—Johannesburg is groot. Dis besig. Dis loud. Aanvanklik was ek moerse overwhelmed, veral deur al die karre op die pad, maar nou het ek my klein bubbles create en ek beweeg net in my kleine kleine bubbles.
HERSCHELLE: Jy het paar Maandae gelede ’n gedig by ’n open mic hier in Linden gelees. Kan jy bietjie meer daarvan vertel? Ek het gedink dit is fokken amazing!
MERCY: Dankie. Ag ja, dis ’n gedig wat ek eendag uit boredom uit geskryf het, getiteld “As ek ’n groter feminis was”. Die gedig is intussen getoonset deur die fenomenale Andries Bezuidenhout (ohmyword, miskien moet Bibi en Azille na hom uitreik om ook bietjie oor feminisme te praat. Andries is een van my heel gunsteling denkers), en dit vorm deel van die plaat, Derde Golf, wat ons groep skrywers by die Jakes Gerwel Stigting opgeneem het.
In die gedig spot ek sommer met wat ’n kak feminis ek soms is. Ag, ek weet nie hoe om dit te beskryf nie, kom ek insert die gedig sommer hier.
Mercy spring op en hol na haar kamer om haar laptop uit te pluk.
AS EK ’N GROTER FEMINIS WAS – MERCY KANNEMEYER
“I sometimes worry that I wouldn’t be such a feminist if I had bigger tits” - Fleabag.
As ek ’n groter feminis was
sou ek nie omgee oor wat ek aantrek nie
ek sou soggens opstaan
die gemaklikste ding oor my kop gooi
en ’n verskil gaan maak.
As ek ’n groter feminis was
sou ek harder praat
ek sou nie bang wees om
ja of nee of asb of dankie te sê nie
ek sou vir mense sê as hulle
oor die lyn trap
As ek ’n groter feminis was
sou ek seker beter na myself gekyk het
gesond eet minder drink
meer vloek
ek sou alles behalwe poes vloek
poes is offensive wanneer jy nie weet waarvan jy praat nie
As ek ’n groter feminis was
sou ek my geleerdheid prioritiseer
en seker maak dat ek saam met die groot honde kan blaf.
Ek sou op ’n moerse rots gaan staan
en nie worry oor vet bobene en of my spiere bult nie.
As ek ’n groter feminis was
sou ek dit tot die uithoeke van die aarde gaan verkondig.
Ek is hier! Ek is hier.
Ek sou ook
dan gaan stap
ek sou
leer swem
meer van myself hou
leer hoe om te bestuur
meer lees
leer mediteer
meer bid
minder worry of feminisme aantreklik is op iemand soos ek.
Nou is ek maar ’n kak gemiddelde feminis
Wat kakker poësie probeer pleeg terwyl die wêreld
ongelyk besig is om te vergaan.
HERSCHELLE: Wat beteken feminisme vir jou?
MERCY: Feminisme kom neer op gelyke regte tussen alle geslagte. Ek beskou myself as ’n intersectional feminist. Die manier waarop sosiale en politiese identiteite en issues overlap, is vir my belangrik. Ja ek is ’n vrou, en ek is ook ’n bruin vrou wat uit ’n werkersklasgesin kom. Vir my gaan feminisme beyond net gelyke regte. Daar is geweldig baie regstellende werk wat nog moet gebeur—ons kan nie sommer 1 2 3 almal gelyk wees voordat ons nie ons land se verdeelde verlede aangespreek het nie. En in fact, as ek nou verspot mag wees—ek soek nie net gelyke regte nie. Ek soek meer. En hiermee bedoel ek nie dat mans nou totaal en al uit die samelewing uit verwyder moet word nie. Hahaha, kan jy imagine? Ek soek meer in die sin dat ons die verlede aanspreek, en maniere vind om die wandade van die verlede op ’n manier reg te stel. Ugh, ek klink nou vaag. Kom ek stel dit duideliker—die samelewing is byvoorbeeld so gewoond aan mans in magsposisies. Ons moet dit flip. Meer vroue in power. Meer vroue in visible magsposisies. Meer vroue in werke wat tradisioneel deur mans gedoen is. Ek hoop dit maak sin. Maar so gepraat van feminisme en man, dink jy mans kan feministe wees?
HERSCHELLE: Ja, ek glo mans kan feministe wees. Ek dink vir my het dit nog altyd gegaan oor gelykheid en bevordering van vroue se regte en menswaardigheid in die algehele samelewing op verskillende vlakke. Dis hoekom dit nie altyd vir my sin maak hoekom mans so gekant is daarteen nie. Dit sien as een of ander bedreiging vir hul plek in die samelewing. Ek dink die toekoms en die vooruitgang van die wêreld, en ’n beter een, sal beslis beter beïnvloed word as mans die feministiese diskoers en beywering ondersteun en bevorder.
HERSCHELLE: Watter vroue skrywers in Afrikaans, dink jy, bevorder progressiewe denke rondom feminisme in hulle werk? En inspireer hullle jou? Hoe? Vertel.
MERCY: Marita van der Vyver. Ingrid Winterbach. Ronelda S. Kamfer. Azille Coetzee. Jolyn Phillips. Ek sou nie sê hierdie skrywers probeer doelbewus progressief wees nie, hulle is net. En dít is vir my ’n radikale act of feminism—om net jou ding te doen en blerrie goed te wees daarin. Ek is nie lus om my identiteite heeltyd soos ’n naambordjie te dra nie. Ek wil my werk doen, en deur my werk wil ek hê mense moet my identiteite sien.
HERSCHELLE: Ons bure langsaan wonder seker hoekom praat ons so hard en oor “kak”. Wat sou jy vir hulle vertel oor hoekom feminisme so belangrik is? En natuurlik hoekom ons pasta eet sonder wyn vanaand… haha!
MERCY: Ek weet eerlikwaar nie lekker hoe om vir iemand te verduidelik waarom feminisme belangrik is nie. As jy dit teen dié tyd nie besef nie, weet ek nie wat om vir jou te sê nie. En hierdie gaan nie nou oor ons bure nie. Dit gaan oor mense wat steeds so gekant teen feminisme, en eintlik teen vroue, is. Dis nie nuwe nuus dat Suid-Afrika ’n epidemie van vrouegeweld ervaar nie. Ons moet almal omgee oor vroueregte. Ons moet almal woedend wees oor hoe gevaarlik dit vir vroue is om net te fokken leef in hierdie land. Ek wil net duidelik stel—dis nie te sê dat as ons almal feministe is, GBV nie gaan plaasvind nie. Maar ek dink feminisme bied die tools vir ons om te leer waarvoor om uit te kyk, waaroor om om te gee, en waarna om te streef—’n gelyke, regverdige, regmatige samelewing vir almal. Ons eet pasta sonder wyn omdat ons môre moet werk, en ons nou verantwoordelike grootmense is.
MERCY: Gay mans en straight mans… Is daar 'n verskil in hoe hulle feminisme sien of ervaar?
HERSCHELLE: Ek dink daar is dalk a.g.v. seksualiteit wat so ’n rol speel in hoe die samelewing gender verstaan in terme van die binêre opposisie tussen mans en vroue (eerder as ’n spektrum met allerlei skakerings). Ek kan dalk nie vir alle mans, gay of straight, hier praat nie, maar ek dink dat die ouer wanpersepsie van wat dit beteken om ’n “man” te wees so ’n rol speel as sekere mans feministe beskou as ’n bedreiging. Of net algeheel gekant is daarteen. Ek dink in die moderne samelewing waarin gesinne/families/verhoudings verander en “anders is” kan die progressiewe vooruitgang (waarin feminisme vir my ’n rol speel) nie gekeer word nie.
MERCY: In die era van #MeToo en #TimesUp was baie mans bang dat hulle dalk ge-out gaan word as abusers. Wat dink jy daarvan?
HERSCHELLE: As hulle bang was, moet dit seker wees dat hulle skuldig was en dan voel ek dat hul wel die consequences moet dra.
MERCY: Ons praat baie. Dink jy ons doen genoeg? Hoe kan ons meer doen om genderregverdigheid te laat geskied?
HERSCHELLE: Ek dink jy kan baie doen in jou onmiddellike omgewing deur respek te betoon maar ook om net te luister. Ons kan ook dit doen in ons vakmanskap waarmee ons ons doenig hou. Kyk mens kan altyd meer doen en daarvoor moet jy jou beywer in die alledaagse lewe. Maar om gesprekke oop te maak is soms die eerste vorm van aksie—en dis nodig. So kom ons figure dit uit soos ons gaan, sonder om kwaad of ongeduldig te raak teenoor dies wat dalk nie op dieselfde plek is nie, maar met sagtheid, ter wille van opvoeding.
MERCY: Ek glo nie in devil’s advocate speel nie, want daar is genoeg evil in die wêreld, maar as ek mag—ek dink ons moet juis nou kwaad en ongeduldig begin raak. Ons praat en praat nou al vir só lank, en tog verander dinge so stadig.
Pause for thought.
Mercy: Anyway, wat’s jou volgende vraag?
HERSCHELLE: Laastens, wat dink jy kan ander mense doen om in doodeenvoudige manier gelykheid onder geslagte te bevorder?
MERCY: Luister. En doen.
HERSCHELLE: Nie ’n vraag vir die gesprek nie, maar soek jy Merlot, Cab Sav of Pinotage? Die pasta proe kak sonder wyn! Skaam ons.
MERCY: Pinotage. Beyerskloof Pinotage.
Blitsrondte:
1. Manicure of pedicure?
2. Big dick energy of big heart energy?
3. Movie of series?
4. Luisterboek of podcast?
5. Suid-Afrika of letterlik enige ander plek?
HERSCHELLE ANTWOORDE:
1. Nie een nie, ek glo nie in self care nie.
2. Big Heat Energy.
3. Series op laptop maar movies in die cinema (kom ons gaan weer fliekteaters toe!).
4. Podcast.
5. Waar die wind my waai.
MERCY SE ANTWOORDE:
1. Solank jou naels skoon is.
2. Nie een van die twee nie. Big Brain Energy (is ek pretentious?).
3. Oorsese series, maar Suid-Afrikaanse movies.
4. Podcast vir my ook. Ek het honestly nog nooit ’n audiobook klaar geluister nie. Ek het probeer, maar wanneer die leser nie lees soos ek lees nie, kan ek nie daarmee deal nie. Ek lees ook baie vinnig, so dit voel asof luisterboeke langer vat as iemand anders lees.
5. Suid-Afrika, as jy my op ’n goeie dag vra.
Huisvergadering verdaag.