Issie boek se naam feminisme?
Ronelda S. Kamfer is 'n skrywer. Haar nuutste boek is die roman Kompoun (2021).
Allison hang in die kamerdeurentrance soos ’n bubblegum-chewing teenager uit ’n 80’s film, en vra wat ek maak.
“Ek lees van feminisme.”
My ma stop agter haar met ’n oorvol wasmandjie, “Wat maak julle twee?”
Ek is in die middle van ’n cold war met my ma, so ek lig nie eers my oë uit die boek nie. Allison antwoord, “Nana lees van famine en die nazi’s goed en ek gan nou hare was.” Sy haal ’n handdoek uit die wasmandjie en draai terug badkamer toe terwyl my ma verder verby stap. Ek staan op en maak my kamerdeur toe gaan lê op die vloer en lees verder.
“A wild, wicked slip she was—but she had the bonniest eye, the sweetest smile, and lightest foot in the parish: and, after all, I believe she meant no harm; for when once she made you cry in good earnest, it seldom happened that she would not keep you company, and oblige you to be quiet that you might comfort her.”
Ek probeer relate aan Catherine in Wuthering Heights, maar “My heart will go on” speel oor en oor kliphard in my kop, soos Guantanamo Bay-torture music. Die woorde begin ebb en flow soos water op die blaai voor my, op die water ’n skip, Titanic. Die Titanic-film. Spesifiek die scene in Titanic wanneer Kate Winslet vi DiCaprio sê, “Teach me to ride like a man. And chew tobacco like a man. And spit like a man.” En dan aan die einde van die film kom die lifeboats vir vrouens en kinders. En daar gaan Rose—soos ’n woman. Niemand verkoop veiligheid soos ’n rowwe witmeisie nie.
Jare later lees ek ’n essay van Slavoj Žižek, “A pervert’s guide to family”. Daarin skryf hy oor Titanic en inadvertently sit hy vir Wuthering Heights in perspektief:
“(I)s Cameron's Titanic really about the catastrophe of the ship hitting the ice-berg? One should be attentive to the precise moment of the catastrophe: it takes place when the two young lovers (Leonardo DiCaprio and Kate Winslet), immediately after consummating their amorous link in the sexual act, return to the ship's deck […]. [O]n the deck, Kate passionately says to her lover that, when the ship will reach New York the next morning, she will leave with him, preferring poor life with her true love to the false corrupted life among the rich; at THIS moment the ship hits the ice-berg, in order to PREVENT what would undoubtedly have been the TRUE catastrophe, namely the couple's life in New York—one can safely guess that soon, the misery of everyday life would destroy their love. The catastrophe thus occurs in order to save their love, in order to sustain the illusion that, if it were not to happen, they would have lived ‘happily forever after’ [...]”
In dieselfde asem sê Žižek ook dat Michael Bay se 1998 action film, Armageddon, oor incest gaan. So, there’s that to keep in mind. Maar soos hulle sê, even a broken clock is right twice a day, of soos in die geval van Žižek, the clearly broken man.
Titanic is snaaks genoeg ’n film wat ek wens ek kon gemaak het, ek wens ek kon James Cameron se original set geleen het. Daar is ’n regte storie oor klasdynamics op die planke van daai skip, wat often in my kop afspeel laat aande as ek nie kan slaap nie.
As jy soos ek is wie in die aande wakker lê en my traumas suppress met aimless distractions, weet jy dat at the bottom of every internet rabbit hole is daar ’n link na ’n Zergnet-top tien lys. Daai “Top ten actors who killed a person. Number ten will shock you!” soort lists. Onlangs lees ek een oor top ten fan theories that will make you see films differently. Een van die fan theories verduidelik hoekom Rose nie vir Jack op die deur laat klim het met haar aan die einde nie, terwyl daar clearly genoeg plek was vir twee mense. Ek kan nie onthou wat die theory was nie, ek onthou net dat ek dissatisfied was met die conclusion. Want ek weet wat die regte rede is, en dit is baie eenvoudig: Dit sou ongemaklik wees vir Rose. Sy het die legroom makeer. ’n Ryk wit meisie verloor haar adventurous spirit die oomblik wat sy haar comforts moet opgee. Catherine, vir al haar wild wickedness, trou aan die einde van die dag vir geld en klas.
“Is dit nou nodig?” vra my antie, terwyl die neighbour sy vrou aan die hare uit ons huis uit sleep. Wanne hulle twee buite is raak die vrou kwaad en punch die man hard in sy vet maag, laat hy krom word soos ’n rankplant sonder rigting.
Ek en my antie stap kaalvoete agterna. “Nou gan jy jou gat sien,” sê die vrou. “Meidepak is jou naam!” lag my antie. Die vrou wat staan en haar man moer se naam is Mal Mientjies. Elke nou en dan snap sy, en moer ’n man half vrek. As dit nie haar man is nie is dit iemand anders se man. Dan staan die mense net en kyk, skud hulle koppe en iemand sê, “Daai Mientjies is so mal soos ’n haas.” Ek dink daar is niks verskil vir mense hier by ons tussen ’n person wat mal raak en iemand aanrand en iemand wat dronk raak en love songs sing nie. Mal is nie iets nie. Ek loop tot by die houthekkie en maak dit toe agter hulle. Ek slither weer tot op my growwe mat, nou met Charlotte Brontë se Jane Eyre. Nou is daar ’n malmeid in die attic, en die jong is klaar getroud. Ek maak die boek toe en gooi dit op my klerekas, is nie vir my geskryf nie. Nevermind.
My ma kom ingestap met my opgevoude skoon wasgoed en sit dit op my bed neer, die sonstrale gooi sukke orange beams deur die blinds en wanneer dit my ma se copper hare hit, lyk sy soos ’n stainglass venster. My uncle kom sing-sing ingestap en gee vir my ma die bruin koevert met sy pay in.
“Siesa, die pakkie is nog toe,” sê sy. “Ja, ’n man moet ees sy ôt byrie hys afgie dan kan hy mos gan skarrelbaan virrie donkie maan.” “Maak toe my deur,” complain ek en krap onder my bed vir Sylvia Plath. Ek begin Bell Jar lees terwyl die son sak en ek notice nie hoe dit donker raak om my nie. “I noticed a big smudgy-eyed Chinese woman staring idiotically into my face. It was only me of course. I was appalled to see how wrinkled and used-up I looked.” Die vroumens het my gefool soos Ingrid Jonker my gefool het, mooi witmeisies wrapped in pyn en witlakens. Die boek is ook nie vir my nie. Die writing is dramatic en racist dink ek by myself.
“Speel ’n blues number!” skrie my antie vir my suster wat die designated DJ is. Sy krap deur die CD’s en kom af op een wat op geskryf is, “Slowjams 2004”, sy sit dit op en my antie spring op soos ’n kerksuster wat finally haar hoergees kan indulge.
“Fuck what I said, it don’t mean shit now
Fuck the presents, might as well throw ’em out
Fuck all those kisses, they didn’t mean jack
Fuck you, you ho, I don’t want you back.”
Sy sing Eamon se lyrics met gevoel en ek kan nie uitfigure of dit is vi haar man of vir haar side nigga nie, want my antie cheat soos ’n man en suip soos ’n man wie se vrou bekeer is. Ek sneak weer kamer toe, weg van die geraas af en gaan lê op my bed en dink aan die boeke wat onder my kooi lê soos monsters in ’n kinderstorie.
Ek grawe nog een keer blindly en ’n klein dun boeke kom uit, Self-Reliance deur Ralph Waldo Emerson. “Let us answer a book of ink with a book of flesh and blood.” Die is meer my jam. Ek vibe op Emerson soos my antie op Eamon vibe. Dis nice om te kan lees sonder conflicted te voel. In my dowe oor is stilte, met die ander luister ek vaagweg na die neighbour en sy vrou wie alweer on the go is. Vandag slaan sy vir hom, môre slaan hy vir haar. Talk about flesh and blood. Hier waa ons bly kom die lifeboats nie vir die vroumense en kinders nie. En ek ken niemand wat soos ’n man wil wees nie. Al die vrouens probeer soos vrouens wees, want hulle is klaar te hard en cruel soos mans.
Genoeg vi vandag, ek trek die comforter tot onder my ken wanneer my suster wind dronk ingeval kom en langs my kom lê. Ons lê in stilte vir ’n rukkie dan vra sy, “My broe, wat is feminisme? Is die boek se naam feminisme?”
“Moenie worry nie, issie vi ôs geskryfie,” sê ek en bol myself op so klein soos ek myself kan kry.