Ek en die f-woord
Marita van der Vyver is ’n skrywer. Haar mees onlangse boek is ’n Baie lang brief aan my dogter. Die TV-verwerking van haar roman Dinge van ’n kind wys tans op kykNET.
“Ek hou van hierdie boek,” sê ’n vrou in die gehoor vir my by die Suidoosterfees waar ek oor ’n Baie lang brief aan my dogter gesels, “want ek vind aanklank by jou realistiese feminisme.”
Ek is nie seker wat ‘realistiese feminisme’ beteken nie, maar ek hou instinktief van die beskrywing.
By dieselfde Suidoosterfees sit ek op my beurt in die gehoor en luister hoe Anastasia de Vries en Ronelda Kamfer oor Kompoun gesels, en weer eens kom feminisme ter sprake. Anastasia sê sy het die boek geskenk vir ’n vriendin wat in ’n fabriek werk, en die vriendin was mal oor die boek, van die eerste bladsy af, maar toe maak sy ’n aanmerking wat Anastasia, as universiteitsdosent, dwing om weer oor die hele konsep van feminisme te dink. Dis net vroue soos jy, sê die fabriekvriendin—bedoelende vroue met ‘geleerdheid’—wat met feminisme bodder.
Bedoelende ander vroue word uitgesluit—of voel uitgesluit —van sulke akademiese ‘-ismes’. Want hulle is te hard aan die werk om kos op die tafel te kry, te besig met belangriker kwessies soos gesinsgeweld of afwesige pa’s of hoe maak jy jou kinders groot in ’n toksiese omgewing, dalk ’n kombinasie van al hierdie kwessies en baie ander. Besig om te oorleef, maak nie saak hoe nie, sonder die luukse van selfondersoek.
En Ronelda, nes die meeste vroue in die gehoor, het presies geweet wat Anastasia se vriendin bedoel.
Wanneer ek myself ’n feminis noem, is ek altyd intens bewus van hierdie soort gaping wat soms onoorbrugbaar voel. Enige ‘-isme’ is uiteraard ’n akademiese of filosofiese konsep. Dalk is dit waarom ek instinktief aanklank vind by die term ‘realistiese feminis’?
En tog. Ek háát dit as iemand sê, “Ek is ’n feminis, maar…” (Maar ek hou van mans, maar ek skeer my beenhare, maar ek dra lipstick—vul in net wat jy wil, daardie ‘maar’ bly ’n bliksem). Amper so irriterend soos “Ek is nie ’n rassis nie, maar…” As jy ‘maar’ moet byvoeg, is jy waarskynlik ’n rassis.
Of ’n feminis.
So waarom nie net erken dat jy is wat jy is nie?
Die Oxford Dictionary definieer feminisme as: “Advocacy of the rights of women based on the theory of equality of the sexes.” Dis al.
Toegegee, gender politics het allerhande nuwe kinkels in hierdie kabel laat ontstaan, vurige argumente oor wie die reg het om ’n vrou genoem te word, ’n toenemende bewuswording van die feit dat gender veel wyer strek as die tradisionele binêre verdeling in manlik of vroulik. Selfs ek, wat gans te oud is om deel van die woke-generasie te wees, voel deesdae ’n bietjie verontwaardig wanneer ek my geslag op 'n amptelike vorm moet invul en die enigste keuse wat ek kry, is tussen M vir manlik en V vir vroulik.
Soms spoel hierdie verontwaardiging deur my hele lyf en as ek weer sien, het my regterhand ’n vraagteken gevorm pleks van ’n kruisie in een van daardie twee benoude boksies. Ek is altyd effens verbaas as ek die ongevraagde vraagteken sien. Praat van die linkerhand wat nie weet wat die regterhand doen nie, né.
Maar as jy instinktief glo dat albei geslagte—en alle genders—gelyke regte verdien, is jy wat my betref ’n feminis. Of wag, laat ek liewers nie namens ander praat nie. Laat ek eerder net sê omdat ék instinktief glo dat albei geslagte en alle genders gelyke regte verdien, is ek ’n feminis. No ifs or buts.
Of soos Salman Rushdie dit op ’n kol gestel het toe hy gevra is of hy ’n feminis is: “Yes. What else is there to be? Everything else is being an asshole.” Daar kan natuurlik geredeneer word dat Rushdie op ander maniere ’n asshole is, of dat die vrouekarakters in sy romans nie altyd die saak van feminisme dien nie (wat dié saak ook al sou wees), maar ek het instinktief van hierdie antwoord gehou toe ek dit die eerste keer hoor.
Enigiets anders is om ’n poephol te wees, inderdaad.
In ’n Baie lang brief aan my dogter probeer ek verduidelik waar my instinktiewe, realistiese, onakademiese feminisme vandaan kom:
“My lewenslange smagting na ’n dogter het vermoedelik iets te doen met ’n instinktiewe soort feminisme, want lank voordat ek daardie f-woord die eerste keer gehoor het, het ek geweet iets is verkeerd in ’n wêreld waar die helfte van die mensdom laer geag word as die ander helfte. Ek was van jongs af ontstig omdat soveel ouers oral op aarde eerder seuns as dogters wou hê, omdat koninginne in die geskiedenis letterlik hulle kop verloor het wanneer hulle nie ’n seun in die lewe kon bring nie, omdat dogtertjie-babas in my eie leeftyd vermoor of weggegee is in lande soos China waar ouers verbied is om meer as een kind te hê, omdat ek selfs in my klein Afrikaanse wêreldjie kon sien dat pa’s meestal trotser en blyer is wanneer ’n seun gebore word as wanneer dit ‘net ’n meisie’ is.
Dalk was dit net omdat ek van altyd af die buiteperd se kant gekies het. In enige sportwedstryd sou ek die span of die deelnemer aanmoedig wat die kleinste kans het om te wen. En in die wêreld waar ek grootgeword het, was dit vroeg reeds duidelik dat meisies die buiteperde is.
Júís omdat soveel mense nie dogters wou hê nie, wou ek verskriklik graag ’n meisiekind hê. Asof één mens wat met haar hele hart ’n dogter begeer, kon vergoed vir miljoene mense se minagting of geringskatting.
Simone de Beauvoir het gesê jy word nie as ’n vrou gebore nie, jy wórd ’n vrou. Dis vandag nog net so waar soos sewentig jaar gelede toe sy Le deuxième sexe geskryf het, of soos veertig jaar gelede toe ek die Engelse vertaling, The Second Sex, gelees het. Om aan die begin van die 21ste eeu ’n jong vrou te wees, is steeds nie dieselfde as om ’n jong man te wees nie. En in heeltemal te veel lande is die verskil tussen wat mans mag doen en wat vroue mag doen nog altyd ’n onoorbrugbare kloof.
Dis waarom ek jou wou hê, my liewe dogter, en dis waarom ek nou aan jou skryf.”
Wat ek nie in die boek skryf nie, is dat ek nooit in my dogter se grootwordjare met haar oor feminisme gepraat het nie. Ek wou haar nie iets gee om teen te reageer nie. As sy haar ma as hierdie prekende feminis ervaar het, sou sy dalk bloot in reaksie weggedraai het van feminisme. Trouens, die f-woord is nooit eens tussen ons genoem nie, tot sy omtrent sestien was en besiel deur ’n nuwe geslag feministiese influencers op sosiale netwerke na haarself as ’n feminis begin verwys het.
Tóé eers draai ons die krane van hierdie gesprek oop—en ek leer net soveel by haar as sy by my—en dit vorm ’n selfs hegter band tussen ons.
Sy beweer dit was nie nodig om daaroor te práát terwyl sy ’n kind was nie. “Actions speak louder than words, Ma.” Sy sê ek het elke dag in ons huishouding, in my verhouding met haar pa, in my onafhanklikheid en deur al my besluite vir haar gewys dat ek in gelykheid tussen geslagte glo.
Dis moontlik die mooiste kompliment wat sy ooit vir my gegee het.
En dalk is dít wat ‘realistiese feminisme’ vir my beteken. Iets wat jy eenvoudig uitlewe, elke dag, omdat jy nie anders kan nie. Jy is wat jy is. As jou dogter—of haar vriendinne of ander jonger vroue wat jy ken—ook op ’n feministiese manier begin lewe, maak dit jou bly. En as jou seun—of jou dogter se manlike lover—dit ook doen, maak dit jou selfs blyer.
My work here is done, dink ek dan. Ek het die fakkel aangegee na die volgende geslag.